Dokter voltooi 100ste sending op noodvlug na Soedan

Dr. Nadia Swart, vlugdokter by Netcare 911 se vastevleuels-afdeling, het vandeesweek haar 100ste sendingvlug onderneem. (Foto: Verskaf)

Dr. Nadia Swart, vlugdokter by Netcare 911 se vastevleuels-afdeling, het vandeesweek haar 100ste sendingvlug onderneem en terselfdertyd die lewe van ʼn man gered.

Swart word as een van Suid-Afrika se beste vlugdokters beskou en het dié mylpaal 36 maande nadat sy gekwalifiseer het, behaal.

“Die pasiënt wat in Khartoem (Soedan) was, het aan ʼn akute dermobstruksie gely en hoogs gespesialiseerde sorg benodig,” sê Swart.

“Dit was ons plig om toe te sien dat hy so vinnig moontlik veilig na Suid-Afrika gebring word om die lewensreddende prosedure te ondergaan.”

Swart verduidelik dat die beplanning van ʼn noodvlug soos hierdie een noukeurige koördinering van verskeie elemente vereis. Die bykomende ingewikkeldheid van Covid-19-protokol beteken dat daar baie meer maatreëls ter vrywaring is om na te gaan voordat hulle kan opstyg. Klarings van verskeie Suid-Afrikaanse nasionale regeringsdepartemente moet verkry word, asook by die lughawe waar hulle sou land. Elk van die lande deur wie se lugruim hulle reis, moet ook klarings verskaf. Dit kan een of twee dae neem om so ʼn vlug te reël.

“Verder het ons, vanweë die duur van hierdie langafstandmissie, beperkte grondtyd beskikbaar gehad om aan die wettige vlug- en diensbeperkings vir die bemanning te voldoen. Ons moes direk omdraai en terugvlieg,” sê Swart. Mediese personeel het saam met die pasiënt op die lughawe gewag om sodoende te sorg dat Swart-hulle so gou moontlik weer kon vertrek.

Toegang tot noodvliegtuie, soos die Falcon 50-straler wat op dié missie gebruik is, en die gespesialiseerde mediese toerusting aan boord maak sulke lewensreddende reise moontlik. Swart sê egter dat die dinamika tussen die span in ʼn vastevleuel-omgewing die hoeksteen van enige suksesvolle missie is.

“Die energie tussen die dokter, paramedikus en vlieëniers is uiteindelik die belangrikste element van die reis. As julle in die lug is, moet jy op mekaar kan staatmaak,” verduidelik Swart.

Shalen Ramduth, bedryfsdirekteur van Netcare 911, het Swart en die span geloof vir die wyse waarop hulle die vlug voltooi het.

“Ons wens dr. Swart geluk met die voltooiing van haar 100ste sending en bedank haar en die res van die vlugspan vir hul professionaliteit en toewyding tot die beste en veiligste pasiëntesorg. Netcare 911 is geëerd om so ʼn wêreldgehaltediens aan die Afrika-kontinent en omliggende eilande te kan lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.