FAK, Voortrekkers bring hulde aan argitek

Maya Jansen van Rensburg van die Flaminkespan, deel van die Sytze Wierda Voortrekkerkommando, lê ’n krans neer. (Foto: Verskaf)

Die argitek Sytze Wierda is Sondag op sy geboortedag met ’n kranslegging by Fort Schanskop by die Voortrekkermonument vereer.

Sowat 60 lede van die Voortrekkers en die FAK-Centurion-Kultuurnetwerk wou graag hulde aan die argitek bring vir die rol wat hy in die openbare argitektuur van Suid-Afrika in die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu gespeel het.

Hy was verantwoordelik vir die ontwerp van ’n groot aantal belangrike geboue in die Zuid-Afrikaansche Republiek. In 1887 is hy aangestel as staatsingenieur en argitek van die ZAR. In die ZAR was hy verantwoordelik vir die ontwerp van die Paleis van Justisie en die Ou Raadsaal op Kerkplein, die Staatsmodelskool en die Nieuwe Goewermentsgebou, later bekend as die Compolgebou, in Pretoria. Hy was ook betrokke by die ontstaan van die drie Duitse forte in Pretoria, soos Fort Schanskop.

In 2000 is die voorstad Wierdapark in Centurion na Sytze Wierda vernoem en ’n Voortrekkerkommando in die hoofstad spog vandag ook met Sytze Wierda as kommandonaam.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Hoofleier van die Voortrekkers, Emma Roberts en Jozua Joubert, jeugleiers van die Sytze Wierda Voortrekkerkommando elkeen met ’n krans in die hand. (Foto: Verskaf)

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en hoofleier van die Voortrekkers, moet ons leer by Sytze Wierda en onsself dié vraag afvra: “Wat gaan elkeen van ons bou, wat vir geslagte daarna nog steeds ’n baken sal wees?

“Soos die feeslied, ‘Die spore wat ons los’, wat binnekort deur Adam Tas vrygestel word, moet die vraag gevra word: Watter spore gaan jy los? Want as dit net oor jouself gaan, dan gaan daar niks oorbly nie. Ons moet ’n groter visie, ’n groter droom en ’n groter ideaal hê en gaan dink oor dit wat ons gaan nalaat.”

Langner sê Wierda se bouwerk is ná langer as ’n eeu steeds vername bakens.

“Sytze Wierda, ’n jong skrynwerker van Friesland wat hom later as argitek bekwaam het, is deur pres. Paul Kruger na die ZAR as staatsingenieur en argitek gelok. Kruger was beïndruk met Wierda se ontwerp van die indrukwekkende Amsterdam Centraal-stasie, asook verskeie kerkgeboue oor die hele Nederland. Kruger se opdrag was dat Wierda in die pioniersrepubliek geboue met ’n unieke Suid-Afrikaans-Nederlandse styl moet ontwerp en bou.”

Die argitektoniese styl het later bekend geword as die Republikeinse styl of die ZA Wilhelmiens-styl, met verwysing na die Nederlandse koningin. Die argitektoniese styl word vandag steeds nagevors en daar is wyd hieroor in Nederland en Suid-Afrika gepubliseer.

“Ons lê vandag kranse nie net om te onthou of te huldig nie, maar om vandag se jong Afrikaners te inspireer om self bouers te word wie se bouwerk vir geslagte sal bly staan.”

Sowat 60 lede van die Voortrekkers en die FAK-Centurion-Kultuurnetwerk wou graag hulde aan die argitek bring vir die rol wat hy in die openbare argitektuur van Suid-Afrika gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.