Foto’s: Hoërskool Rustenburg vier 100 jaar

RHS vier 100 jaar! (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

Hoërskool Rustenburg (RHS) het op 31 Januarie vanjaar sy 100ste bestaansjaar gevier. Dié spoggeleentheid het vir groot vermaak, trane en hoendervleisoomblikke gesorg.

Daar is heerlik makietie gehou en leerders het gesing, gedans en tussen ballonne baljaar. Die dag se verrigtinge het ’n koekbak-en-versierkompetisie ingesluit en ’n splinternuwe gedenksteen is vir die eeuwording by die skool onthul.

Die onthulling het gepaard gegaan met ’n hartroerende toespraak deur die skool se hoof, Hennie Pieterse, en ’n dawerende kreet is uitgevoer deur die skool se trotse Rusties, die noemnaam wat dié skool se leerders vir hulself gegee het.

“Vandat ons in 2018 as gr. 8’s hier ingestap het, is daar vir ons vertel dat ons die eeufeesmatrieks is. Dit is eintlik so vreemd om te sien hoe vinnig die tyd aangestap het,” het Marli Visser, hoofmeisie van RHS, vertel. Sy is die dogter van Bernhard Visser, die beheerliggaamvoorsitter, wat self in 1992 die skoene van hoofseun by die einste RHS volgestaan het.

Hanco Stone, voorsitter van die sosiale raad en Marli Visser, hoofmeisie van RHS. (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

“Ons gaan ’n bietjie energie bring en die eeufees behoorlik vier,” het Hanco Stone, een van die hoofleiers en voorsitter van RHS se sosiale raad, met passie gesê.

Hierna is die skool, personeel en eregaste rugbyveld toe genooi waar die mylpaal in die skool se geskiedenis verder behoorlik gevier is.

’n Helikopter het die hoof op die veld kom aflaai, wat natuurlik vir groot opwinding gesorg het.

Plaaslike laerskoolhoofde, ’n vorige hoof van die skool en talle oud-Rusties, wat Olimpiese atleet Sunette Viljoen insluit, het hul verskyning by die spoggeleentheid gemaak.

Talentvolle leerders het gesing, tjello en klavier gespeel en gedigte wat deur oud-Rusties geskryf is, voorgelees.

’n Hoendervleisoomblik het aangebreek toe RHS se bekende koor op die veld stap. Dit is die einste koor wat die wêreld ’n paar jaar gelede betower het met hul weergawe van Queen se immergewilde “Bohemian Rhapsody”. ’n Hele paar trane is afgevee tydens die optrede. Dit was nie net ’n geleentheid om die skool se verjaarsdag te kon vier nie, maar ook ’n geleentheid om weer saam te kon sing en optree – iets wat die afgelope twee jaar nie moontlik was nie.

Ná die verrigtinge op die rugbyveld is die eregaste genooi vir ’n spesiale ete, terwyl die leerders ’n braai ter viering van die 100ste verjaarsdag kon hou. By die eregasgeleentheid het Maroela Media met die skoolhoof, ’n paar onderwysers en Sunette Viljoen gesels.

“Dit gaan nie net oor die huidige Rusties nie, dit gaan ook nie net oor my as skoolhoof of die huidige beheerliggaam nie, dit gaan oor ons voorgangers ook, en dít is wat die skool so ’n ongelooflike skool maak. Ons sit hier met onderwyspersoneel wat absoluut lief is vir die skool. Hier is leerders wat al derde-, vierdegeslag-Rusties is – mense is lief vir die skool,” het Pieterse vertel.

Sunette Viljoen en haar seun het saam makietie gehou. (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

Viljoen, wat onlangs vir die eerste keer vir die Titans uitgedraf het, het die feesviering saam met haar seun, wat nou in gr. 11 in RHS is, gevier.

“As ek moet terugdink aan my skooljare is dit net vir my die mooiste, mooiste herinneringe. Ek was so gelukkig hier en het alle sportsoorte moontlik hier gedoen – ek dink as ek kon, sou ek rugby ook gespeel het.

“Dis hier waar my grondslag gelê is. Hier is ek blootgestel aan ’n klomp sportsoorte, ek is omring deur wonderlike mense en personeel, wat nou nog ’n groot rol in my lewe speel. Dis vir my ongelooflik om te sien hoe die skool gegroei het en net van krag tot krag gaan.”

Rachelle Bezuidenhout, ’n onderwyseres by die skool en oud-Rustie, het verduidelik dat die skool vir haar ’n plek van deernis, energie en passie is.

“Van my tienerjare af was daar onderwysers wat omgegee het oor jóú en nie net oor of jy deurkom of nie. Nou, as onderwyseres, voel ek self daardie deernis vir tieners. Daar is iets ongeloofliks tussen leerders en wat hulle oor die skool voel. Ons almal besef dat ons deel is van iets groter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.