Foto’s: Kersfeeselfie verskaf genot aan oud en jonk

Elfred die Elfie kuier in Pretoria. (Foto: Marize Ras)

Die sogenaamde Elf on the Shelf-speletjie verskaf al jare lank Kersgenot aan oud en jonk wêreldwyd en vanjaar is dit geen uitsondering nie.

Die elfie, bekend as Scout Elf, maak gedurende Desember elke oggend sy verskyning in en om die huis en moet as’t ware ʼn oog oor die kleingoed hou in die dae voor Kersvader sy besoek op 25 Desember aflê.

Elfie is egter self lekker ondeund en vang deur die nag stoute goed aan, soos om die toiletpapier van die rol af te trek, teen die Kersboom op te klouter en in die blombakke rond te speel.

Die Elf on the Shelf-karakter het in 2005 vir die eerste keer sy verskyning gemaak in die gelyknamige kinderboek deur Carol Aebersold en haar dogter, Chanda Bell.

Ouers kan die elfie aankoop as ʼn speelding om die speletjie voort te sit en kan self met idees vorendag kom oor wat Elfie als in die huis kan aanvang, hoewel daar ook hordes idees op Pinterest en Instagram is.

Van die speletjiereëls sluit in dat die elfie ʼn unieke naam moet kry, soos Chippy of Buddy, en dat hy reeds vroeg in Desember sy verskyning in die huis moet maak.

Kinders mag ook nie aan Elfie vat nie, want dit kan veroorsaak dat hy sy towerkragte verloor. Hy kan egter sy towerkragte herwin as daar hartroerend om verskoning gevra word in ʼn briefie, ʼn klein bietjie kaneel langs Elfie gestrooi word of as ʼn Kersliedjie saam met die res van die gesin gesing word.

Elfie beweeg ook net rond wanneer die kinders slaap en as hulle stout was, gaan Elfie hulle by Kersvader verkla, wat hulle kanse om die Kersgeskenk van hulle drome te kry, dalkies in die wiele kan ry. Elfie moet ook weer verdwyn voor Kersdag aanbreek.

Elfred steel lekkergoed in die Ras-huis. (Foto: Marize Ras)

Marize Ras, ʼn mamma van Pretoria wat dit geniet om die Elfie-speletjie met haar vyfjarige seun Louden en tweejarige seun Ewan te speel, sê dit is vir haar net so lekker om deel te wees van die pret as vir haar twee spruite.

Die Elfie wat in die Ras-huis kuier se naam is Elfred. Hy het al onder meer lekkergoed uit die kas gesteel.

“Ek is mal oor Kersfees en ek dink ek is dalk meer opgewonde daaroor om elke aand iets uit te dink wat Elfie gaan doen om die kinders die volgende oggend mee  te verras,” vertel sy aan Maroela Media.

“Elfie gaan vertel vir Kersvader as Louden en Ewan die dag nie so mooi vir mamma en pappa geluister het nie en hy daag dan nie die volgende dag op nie. Dit is ʼn prettige manier om my twee stouterds in toom te hou, want hulle wil graag elke dag sien wat hy deur die nag gedoen het,” lag sy.

“Dit is vir my baie oulik en ek wou dit graag probeer. Dit skep ʼn bietjie opwinding voor Kersfees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Patch ·

Ek het hierdie week die eerste keer van Elf on the Shelf gesien op Instagram. Net vanoggend sê ek vir my jong volwasse seun ek wens ek het ‘n Elf On The Shelf gehad toe hulle kleiner was, dit lyk na pret. Dis vir my te oulik. Sy woorde “Nou hoekom dan nie meer nie? Ons is nogsteeds ma se kinders.” So volgende jaar het ek ook ‘n Elfie in my huis. Sal nou al die tradisie begin en eendag as daar kleinkinders is dit voort dra.

Annelize ·

Hoekom wag tot volgende jaar? Doen dit sommer nou, niemand van ons is more gewaarborg nie.
Ek het so week of wat terug Elf on a Shelf by Crazy Store gesien, dalk is daar nog voorraad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.