Foto’s: Nuwe baadjie vir Bloedrivier-erfenisterrein

Die span doen beplanning saam met dr. Danie Langner (links) vir die opknappingswerk. (Foto verskaf)

Die Bloedrivier-erfenisterrein is verlede week opgeknap met die herontwerp en oorbou van die ou museum op die terrein.

’n Span van 11 personeellede van die Voortrekkermonument, wat die Bloedrivier-terrein besit, het die groot taak aangepak en het in slegs ’n paar dae die enorme opknappingstaak verrig.

Tien kleiner replikas van die friese in die Voortrekkermonument, wat verband hou met die Voortrekkergeskiedenis in Natal, is gemaak en opgerig. Dit sluit in replikas van die volgende friese: Bloedrivier, Bloukransmoorde, Bou van die Geloftekerk en die Gelofte wat deur Sarel Cilliers afgelê word.

Wat nog nooit te vore gesien is by die geskiedkundige terrein nie, is die name van die slagoffers wat in die bloedige jaar, 1838, vermoor is.

Die name sluit in die slagting op KwaMatiwane waar die Voortrekkerleier Piet Retief en sy geselskap van 70 man deur koning Dingaan vermoor is. Ook is die name van die vermoorde 532 vroue en kinders van die “Groot Moord” by Bloukrans te sien, asook die slagoffers wat op die Italeni-slagveld gesterf het.

Daar is ook ’n klein replika van die Laaswa, die enigste wa wat behoue gebly het van die Slag van Bloedrivier, asook ’n voorlaaier van die Groot Trek-tydperk, te sien.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê dit is die eerste keer wat daar behoorlik konteks gegee word aan hoe groot die wonderwerk van die Voortrekkers se oorwinning op 16 Desember 1838 was.

“Wat almal nie besef nie, is dat daar in werklikheid vier wonderwerke op daardie dag was. Die eerste was die oorwinning oor die oormag van ongeveer 16 000 Zoeloes wat die 464 Voortrekkers aangeval het. Die Zoeloes was in daardie stadium die grootse georganiseerde militêre mag in Afrika en die 18 skilde wat in die museum te sien is, verteenwoordig die regimente en hoe groot hulle mag was.

“Die tweede is die flou lanternlig op die walaer wat die nagaanval verhoed het. Ná ’n week van onweer en reën, wat die Voortrekkers sou verhoed het om hulle voorlaaiers te kon afvuur, het diebloedrivier wolke die oggend van 16 Desember oopgetrek en hulle in staat gestel om hulle wapens te kon gebruik.

“Daar word bereken dat soveel as 48 000 werpassegaaie op daardie dag op die laer kon neergereën het en nie een Voortrekker is dood nie.”

Belinda Naude kry die 18 skilde reg wat die Zoeloes se regimente verteenwoordig. (Foto verskaf)

Volgens Langner was dit ʼn week van selfdoen op dié terrein. Daar is van vroeg tot laat moue opgerol en hande vuilgemaak om die opknappingswerk te verrig. ʼn Nuwe tuin is uitgelê en aangeplant, elektrisiteit in die walaer is herstel en dit is beveilig.

“Die museum het ’n splinternuwe baadjie met moderne uitstallings wat ons storie in ons woorde in Afrikaans, Engels en Zoeloe binne historiese konteks verduidelik. Ek kan nie méér trots wees op die werk wat hier verrig is nie,” sê Langner.

Daar is ook ’n staproete met inligtingsborde uitgelê van die kampterrein na die walaer, wat die gebeure van die Groot Trek in Natal behoorlik uiteensit.

Nuwe inligtingsborde is op die hele terrein opgerig en die ingang tot die terrein is ook oorgebou.

“Die Bloedrivier-erfenisterrein bied nou ʼn nuwe ervaring, wat die geloof en hoop van die Voortrekkers vertel. Dit is iets wat nie misgeloop moet word nie.”

Barry Muller en Jaco Cilliers hys vlae by die Bloedrivier-erfenisterrein. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nettie ·

Sjoe. Dis baie moeite. Baie, baie, baie dankie, diep uit ons harte uit. Vir almal se harde werk. Die reelings. Die bydraes en kostes wat aangegaan is. Ons waardeer dit als. Mag God elkeen van julle seen daarvoor. Ek hoop ek kan eendag self kom kyk.

Vonny ·

Mag God jul sèen vir die mooi handewerk!
Trots Afrikaans.
Hallelujah vir mense soos jul wat nog omgee vir die geskiedenis. Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.