Foto’s: Prag en praal vir Lichtenburg se lappiesboom

Lichtenburg se lappiesboom van liefde. (Foto: verskaf)

Lichtenburg se lappiesboom van liefde vir Kersfees is vandeesweek opgerig.

Toe Nadi Duvenhage, ʼn inwoner van dié dorp in Noordwes, verlede jaar in Wellington gaan draai het vir vakansie, het dié Wes-Kaapse dorpie se gehekelde Kersboom haar bygebly. Sy het net daar en dan besluit dat dié boom iets is wat Lichtenburg ook behoort te hê.

Mevrou Elegant, ʼn plaaslike nie-winsgerigte organisasie, het Lichtenburg se boom opgerig. Dié organisasie, wat Nadi en haar vennoot, Minnie le Roux, 25 jaar gelede gestig het, poog om gesinne wat geldelike nood ervaar by te staan en volhoubare ontwikkeling in die Lichtenburg-gemeenskap teweeg te bring.

“Ons gee nie net ʼn blikkie kos nie, ons leer mense hoe om daardie blikkie kos te rek. Ons fokus nie net op ontvang nie, ons leer mense ook hoe om te deel,” het Nadi vroeër aan Maroela Media gesê.

Sedert die organisasie se ontstaan jare gelede, het Mevrou Elegant ʼn baken van hoop in Lichtenburg geword. Daar word nagenoeg 200 plaaslike gesinne deur die organisasie ondersteun, met sowat 120 vroue wat aktief aan Mevrou Elegant se projekte deelneem. Saam hou dié groep vroue weeklikse byeenkomste waar hulle aan nuwe projekte werk, nuwe vaardighede aanleer, mekaar se lief en leed deel, en Godsdiens beoefen.

“Die vroue geniet dit ongelooflik baie. Ons probeer mense inspireer en stel hul menswaardigheid hoog op prys.”

Dit is juis dié flukse vroue wat die grondslag van Mevrou Elegant se jongste projek, ʼn lappieskombers-Kersboom, gevorm het. Saam het hulle al honderde blokke gebrei en gehekel, soveel so, dat die organisasie lankal reeds genoeg blokke bymekaargemaak het om die Kersboom te bedek.

Nadi Duvenhage en Minnie le Roux by die gehekelde Kersboom. (Foto: verskaf)

Die Lichtenburg-gemeenskap was omtrent aan’t brei gedurende die afgelope paar maande, daar was selfs ʼn oormaat gebreide en gehekelde blokke, wat reeds aanmekaargewerk is vir kombersie. Dié komberse sal later aan plaaslike kinderhuise geskenk word.

Die blokke wat wel op die Kersboom gaan pryk, sal ook vir komberse aanmekaargewerk word. Daar sal uiteindelik sowat 120 komberse geskenk kan word.

Die 12 meter lange Kersfees-lappiesboom sal amptelik op Vrydag 24 November tydens die dorp se jaarlikse Kersfees-aandmark by die Lichtenburg Klipkerk-gemeente bekendgestel word.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.