Foto’s: Program kweek kranige krieketspelertjies

Die Little Titans. (Foto: Charmaine Visser)

’n Krieketprogram wat op die been gebring is om ’n liefde vir dié sport onder kinders te kweek, gaan van krag tot krag.

Little Titans is ’n 12 weke lange program waaraan drie- tot negejarige kinders kan deelneem om nie net vertroud te raak met die sportsoort nie, maar om ook belangrike tegnieke en vaardighede onder die knie te kry.

“Ons wil ook ’n liefde en passie vir die sport onder kleintjies kweek,” het Ryno Bester, die organiseerder van die program, gesê.

“Dit gee ook vir kinders die geleentheid om by ’n stadion soos SuperSport-park te speel.”

Hoewel die program daarop fokus om kinders voor te berei op die lang pad wat hulle moontlik met die sportsoort gaan stap, word die grootste kollig daarop geplaas om pret te hê.

Kinders word tydens die program geleer hoe om te kolf, gooi, vang, hardloop, om as ’n span saam te werk en goed te kommunikeer.

Die program bied aan kinders die geleentheid om vaardighede soos geduld, strategiese denkwerk en goeie oordeel aan te leer. Dit verbeter boonop handoogkoördinasie en fyn motoriese vaardighede.

Bester vertel dat die program ook daarop fokus om afrigters op te lei.

“Ons maak staat op die pa’s van die kinders om te help met afrigting; hulle het 12-week-programme ontvang wat hulle voorberei op wat hulle tydens die oefeninge moet doen.”

Die kinders wat deel van die program vorm, oefen twee keer ’n week vir ’n halfuur op ’n slag, met elke oefening wat uit slegs agt krieketspelertjies bestaan. Daar word ook elke tweede naweek ’n wedstryd gespeel.

Aan die einde van Oktober vanjaar gaan die kinders weer die geleentheid kry om by SuperSport-park in Centurion te speel.

  • Vir meer inligting besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.