Foto’s: Só lyk oumagrootjie op matriekafskeid

Dylan en sy Ouma Emil (Foto: Verskaf)

“Dit was ’n ongelooflike aand. ’n Aand wat ek vir altyd sal onthou en koester.”

Só sê die 18-jarige Dylan du Plessis van Hoërskool Warmbad wat vroeër die maand soos ’n ware heer sy geliefde oumagrootjie, Emil du Plessis (91), gevra het om saam met hom na sy skool se matriekafskeid te gaan.

Dié matriekafskeid was Donderdagaand by Hoërskool Warmbad gehou en volgens Dylan het die aand seepglad verloop.

Dylan was geklee in ’n donkerblou aandpak, ’n bloedrooi strikdas en vellies wat hy spesiaal vir dié geleentheid gebêre het. Ouma Emil, beter bekend as ouma Doep of ouma Mielie, het ’n elegante donkerblou kantrok aangehad met ’n mooi hangertjie om haar nek.

Volgens Dylan het hulle die dag baie spesiaal vir hulle geliefde ouma probeer maak. Haar hare, naels en grimering is spesiaal gedoen vir die dag. Te danke aan weldoeners wat hulle harte oopgemaak het, kon ouma Emil langs haar kleinseun pronk in haar splinternuwe blou rok.

Dylan en sy ouma is met ’n sjampanjekleurige Mercedes-Benz na die skool vervoer waar hulle op die rooi tapyt die saal ingestap het. “My vriende het vir ons gecheer langs die rooi tapyt. Almal was baie opgewonde saam met ons oor ouma se groot dag. Sy het pragtig gelyk,” sê dié jong man.

Maroela Media het vroeër berig hoe ouma Emil heel verslae was toe haar geliefde kleinseun by die Warmbad Rusoord, ’n tehuis vir bejaardes waar sy tans ’n inwoner is, op sy knie gegaan en haar gevra het om sy metgesel na sy skool se matriekafskeid te wees. Sy het aanvanklik nie verstaan wat aangaan toe hy haar met ’n bos blomme en dié eienaardige versoek verras het nie.

Dit was haar heel eerste matriekafskeid aangesien sy nooit self die geleentheid gehad het om na haar eie matriekafskeid te gaan nie.

Dylan en sy oumagrootjie het al van laerskooldae ’n hegte band gehad en hy wou haar eerste matriekafskeid baie spesiaal vir haar maak.

“Alhoewel ek en my ouma toe nie die aand saamgeskoffel het nie, was sy die beste metgesel waarvoor ek kon vra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Martie ·

Aaaawww hoe sweet, jys ;n ware heer jong man. En ouma het so mooi gelyk

Tammy ·

Ouma het so pragtig gelyk..so elegant. Hierdie jongman gaan eendag n ware heer teenoor sy vrou wees.

NET EK ·

Ai seun die wat jy gedoen is daar nie woord vir nie. Ek is so trots op jou en aitsa jou Oumatjie het te pragtig vir woorde gelyk.

Maria ·

Net waarvoor ek gewag het onthou …. julle altwee beautiful …..dankie fotos mag julle geseen wees

Gesiggie ·

Dit was sowaar baie sweet van jou om Ouma grootjie saam te vat? sy sal die dag vir altyd onthou…te dierbaar en jul het pragtig gelyk. Well done Dylan.

Henrietta Potgieter ·

Met net n bietjie liefde kan n seun n man word en n ouma Kan weer n Jong dame vol vreugde en pret n aand uit geniet in goeie geselskap. N matriek afskeid roep varvel toe aan kind wees en afskeid neem van die dinge van, n kind. Volwasse wees is om geleentheid aan te gryp en te benut wat in n oogwenk Kan verdwyn. So Leer ons om men’s te word en om ons eie unlike self te koester en te geniet saam met mense wat ons onvoorwaardelik lief het.

Elda van Wyk ·

Om mense se pragtige woorde te lees maak my mamma hart so gelukkig! Ouma Mielie is ons Duppies se grootste geskenk van God, ons pilaar en fontein van liefde. Dylan my kind, mamma kan nie beskryf hoe ongelooflik trots ek op jou is! My seun, jy het soos ‘n million dollars geskitter! Regte gentlemen, my prins met die mooiste hart. Wat’ n eer en voorreg!!

Ben ·

Baie mooi jong man. Wat ‘n pragtige gebaar van liefde. Ek dink jy het geskiedenis gemaak . Regtig die eerste keer dat ek so iets hoor. Wel gedaan.

Tanya ·

Wow,dis n stunning rok, weet iemand waar ek so een kan kry? Oumatjie het fantasties gelyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.