Foto’s: Studente woeker vir Wollies-diereskuiling

Mielies, Sol-Tech se skaaphond. (Foto: Maroela Media)

Sol-Tech se jaarlikse Vonkfees is Woensdag weer eens in ʼn gees van studentepret aangebied en dié jaar het Mielies, dié beroepsopleidingskollege se eie skaaphond, sommer saam op die kampus in Monumentpark, Pretoria, baljaar.

“Ons bied vanjaar die eerste keer hierdie geleentheid ten bate van ʼn instelling aan, en te danke aan Mielies het ons op die Wollies-diereskuiling besluit,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech.

Te midde van groot opwinding onder studente en personeel oor die kaskarwedren, toutrekkery, netbalwedstryde en ʼn goeie skeut spangees, is die uiteindelike doel om skenkings soos blikkies kos en ander sakke kos vir honde en katte, asook kontantbydraes in te samel.

Dit vorm deel van ʼn groter projek wat Sol-Tech in September aanpak en lede van die publiek word aangemoedig om ook ʼn bydrae lewer.

Van Deventer sê hulle hoop om op hierdie manier nie net Wollies se hande sterk te maak nie, maar ook om te help om Wollies se rekening van sowat R30 000 by die Onderstepoort Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal te vereffen.

“Dit is vir ons belangrik om by Sol-Tech ʼn ordentlike, gesonde en verantwoordelike studentelewe te skep met ʼn goeie doel. Die Vonkfees is een van daardie geleenthede waarmee ons studentepret wil bevorder en terselfdertyd ʼn verskil in die gemeenskap wil maak.”

Mielies, Sol-Tech se skaaphond, gereed vir kaskar-aksie by die jaarlikse Vonkfees. (Foto: Maroela Media)

Mielies trap diep spore by Sol-Tech

Mielies het ʼn paar maande gelede deel van die Sol-Tech-familie geword en het sedertdien reeds diep spore op die Sol-Tech-plaas en in die harte van sy nuwe familie getrap.

Dit het by Paul se behoefte begin om die werf uit te brei en daar was ʼn paar voorwaardes daaraan gekoppel. Onder meer dat dit ʼn skaaphond moet wees en die hond in die aand saam met iemand moet kan huis toe gaan. Toe niemand na vore kom om eienaarskap te neem nie, het Paul besluit dat hy dit sal doen.

“Ons is een dag spyt nie. Mielies is nou al so deel van die kampus en studentelewe, dat ek amper nie eers kan dink hoe dit sonder hom sal wees nie. Hy is ongelooflik geliefd, en dit is wonderlik om te sien hoe Mielies groei.

“Een van die klein goedjies wat nou besig is om te begin gebeur, is dat studente graag foto’s saam met Mielies neem wanneer hulle promoveer. Mielies neem so ewe al sy plek in wanneer hy saam in die akademiese prosessie stap, maar hy is nog nie soet genoeg om die heeltyd op die verhoog te sit nie. Iemand kom haal hom gewoonlik na ʼn rukkie,” brei Paul uit. Hy voeg skertsend by dat Mielies en Sol-Tech se twee werfhoenders, Sol en Tech, ook darem heel beskaafd is met mekaar.

Skenkings vir die Wollies-diereskuiling kan tot einde September by Sol-Tech se kampus in Monumentpark, Pretoria, afgelewer word. Vir meer inligting oor hoe om ʼn geldelike skenking te maak, stuur ʼn e-pos na [email protected].

Een van die dae is dit weer tyd vir die Vonkfees. Hierdie jaar is dit ten bate van Wollies. Luister gerus..Mielies van Sol-Tech

Posted by Sol-Tech on Wednesday, August 30, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Ag dit is so awesome!!!! Enige tyd sal ek vir diere gee!!! Hoop julle fees is een groot sukses!!!

Schalk ·

Ek moet Sol-Tech n kompliment gee. Ek het die oggend daar deur gebring, die gees onder die studente was aansteeklik. Wat my nog meer beindruk het is die werkswinkels, ek sal graag my hande daar wil gaan vuilmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.