Foto’s: Voortrekkers sê dankie aan renosterbeskermers

Een van die natuurbewaarders en sy honde-kollega met hul dankiesê-boks. (Foto: Verskaf)

Wildbewaarders van die K9-eenheid in die Krugerwildtuin en die renosterwesietoevlugsoord Care for Wild is onlangs op ’n unieke manier bedank vir die noodsaaklike werk wat hulle doen in die stryd om renosters van algehele uitwissing te red.

Die Polsslag Voortrekkerkommando het die afgelope naweek 80 dankiesê-bokse aan dié wildbewaarders oorhandig, ’n klein maar betekenisvolle gebaar om aan dié natuursoldate te wys hul toegewydheid word raakgesien.

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, vertel dit het boonop aan die kinders ’n waardevolle geleentheid gebied om agter die wildtuin se toerismeskerms iets van die harde werklikheid van die oorlog teen renosterstropers te beleef.

“Die geldwaarde van die bokse-vir-bewaarders, wat met behulp van honderde Voortrekkers gepak en versprei is, beloop reeds R45 800. Die werklike waarde is veel meer. Deur dié diensprojek sê Die Voortrekkers ons natuurerfenis is vir ons belangrik. Ons aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie. Ons wil met hart en hande ’n verskil maak, selfs al is dit ’n klein verskil,” sê Langner.

Die idee agter die dankiesê-bokse het gekom nadat Die Voortrekkers hul Renoster Red is Vet Pret-bewusmakingsprojek van stapel gestuur het. Dié projek het begin onder leiding van Carinda Habig, ’n Voortrekkeroffisier van die Rietvallei-Voortrekkers in Pretoria, nadat sy besluit het om die inisiatief te neem om geld vir renosterwesies in te samel.

Kommandolede het gehelp hondehokke skrop en die honde se bakke en beddens gewas. (Foto: Verskaf)

Deur die Renoster Red is Vet Pret-projek is byna 2 000 renosterspaarbussies onder Voortrekkerspanne versprei en sodoende is R100 000 ingesamel. Dié geld is verlede jaar aan Care for Wild, die grootste renosterweeshuis en -toevlugsoord ter wêreld, oorhandig.

Dié niewinsgewende organisasie word amptelik deur die Krugerwildtuin gebruik om na renosterwesies om te sien as hulle ma’s vir hulle horings in die park gestroop word.

Maroela Media het vroeër berig oor Arthur, ’n jong renosterbulletjie, wat self onder die kapmesse van stropers deurgeloop het, wat amptelik as ’n Voortrekker ingelyf is. Arthur spog selfs met sy eie Voortrekker-uniform (wat hy natuurlik nie dra nie), en dié uniform sal mettertyd, nes dit ’n waardige Voortrekker betaam, met kentekens toegerus word namate hy onderskeie mylpale bereik. Dié mylpale sluit in veldvernuf, spoorsny en selfbehoud.

Habig het daarna die Renoster Red is Vet Pret-projek uitgebrei met bokse-vir-bewaarders. Dié bokse is onder Voortrekkerspanne versprei om geld vir wildbewaarders in te samel en boonop die bokse te vul met onder meer lekkernye en toiletware vir dié bewaarders as ’n vroeë Kersgeskenk.

Die K9-eenheid, hoewel hulle deel van Sanparke is, ontvang geen geldelike hulp van Sanparke nie en is daarom afhanklik van skenkings.

Langner verduidelik die Polsslag-kommando, wat meestal bestaan uit leerders aan die Hoërskool Centurion en Laerskool Louis Leipoldt, voorsien die bokse aan ander kommando’s om gevul te word.

“Erik van der Merwe, ’n gr. 11-leerder aan die Duo Edu Senior Onafhanklike Skool en lid van die Polsslag-kommando, het manalleen in sy skool die inhoud vir 50 bokse onder sy klasmaats bymekaargemaak en gepak,” sê Langner.

“Kommandolede het ook die hondehokke geskrop, die honde se bakke gewas en die honde tonne liefde gegee. Die kinders was ook gelukkig genoeg om renosters wat nog vry in die natuur loop, te sien,” vertel hy.

“Ons sal moue oprol en hard werk dat dit nie die laaste geslag kinders is wat dit beleef nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fanie Kemp ·

Baie dankie aan ons Voortrekker-Beweging vir die voorbeeld wat julle stel van konstruktiewe betrokkenheid in die samelewing.
Ons is trots op julle! Doe zoo voort!

Annemare v Rensburg ·

Die inligting is in baie goeie interessante en suiwer taal geskryf. Dankie vir ‘n wonderlike goedvoel berig.

Nonnie ·

TROTS OM BLANK TE WEES, EN MY MENSE SE KINDERS MET SOVEEL TOEWYDING TE SIEN WERK VIR ‘N WONDERLIKE SAAK!!!!!!! WAAR IS DIE RES VAN SUID AFRIKA SE KINDERS???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.