Anelia Heese skryf:
Ek en my man leef al ses jaar in die buiteland. Soos 820 000 ander emigrasiegesinne, is ons geliefdes oor die wêreld heen versprei. Met behulp van hedendaagse tegnologie het ons die kuns van kommunikasie oor kontinentale afstand vervolmaak.
Met ʼn video-oproep vra ek my ouma om hulp: “Vleg ek die koeksister só?” My swaer wat ná die afloop van sy nagskof bel, soos ons vir aandete aansit; die soet klank van my peetkind se eerste lag wat oor my oorfone speel soos ek per trein pendel; my oupa se stem oor ʼn blikkerige telefoonlyn toe ek hom ʼn geseënde Nuwejaar toewens: “Ek gaan nie hierdie jaar maak nie, maar mag jy ʼn mooi jaar hê.”
Om huis toe te verlang, is deel van ʼn Suid-Afrikaanse emigrant se bestaan. Ons staal ons teen die pyn van verlange deur ʼn rits redes op te roep: stabiliteit, onafhanklikheid, onderhoud… Met jou slimfoon is dit boonop so gerieflik om kontak te behou.
Nietemin sit ons altyd ʼn geldjie vir ʼn vliegkaartjie weg, want soms raak die verlange onuithoudbaar.
Ek het hierdie jaar ʼn vliegtuigkaartjie nodig gehad. Ek sou baie graag my ma by my wou hê toe ek ná my breinoperasie uit narkose kom. Ek sou baie graag my oupa wou groet wat in daardie selfde week oorlede is.
My ouma se boodskap verskyn op ʼn koue selfoonskerm: “Ek kon nie eens my maat groet nie… ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep. Ek kon nie daar wees nie.” Grendeltyd het ons van bystand en afskeid beroof.
Digitale media skep ʼn legio moontlikhede om met mekaar te kommunikeer. Ek het huldeblyke via WhatsApp-stemboodskappe versamel en die klankopnames in ʼn afgeronde gedenkdiens verwerk. Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal – elk in sy en haar afsonderlike sitkamer – deur na die oudiodiens te luister. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan.
ʼn Virtuele gedenkdiens is nie ‘n plaasvervanger vir die fisieke nabyheid van ons geliefdes nie. Met die oudiodiens kon ons egter in ʼn spreekwoordelike kring sit en elke deelnemer kon met waardigheid kommunikeer: dié wat mompel, dié wie se hande van Parkinson se siekte bewe, dié wat halfpad deur hul huldeblyk begin huil, dié wat uitbundig kon lag oor ‘n vrolike herinnering.
Hierdie oudiogedenkdiens kon vir ons as familie troos bied, sodanig dat dit my roeping geword het om my vaardighede in ʼn bediening te omskep. Ek is dankbaar dat ek ander families op hierdie wyse met my diens, Herklink, kan bystaan.
Só skryf Helena van Schalkwyk: “Wat ʼn unieke en deernisvolle gedenkdiens wat Herklink met die heengaan van my moeder saamgestel het, in ʼn tyd waar ons, as gevolg van die koronapandemie, nie bymekaar kon wees nie. Ek het veral daarvan gehou dat die oudiodiens nie visueel was nie. Dit laat ʼn mens stil word om met aandag na die boodskap en die onthou-klankgrepe te luister. Hierdie oudiodiens is ʼn kosbare skat wat ʼn mens vir ewig kan bewaar om na te luister, en ʼn nagedagtenis om ons geliefdes te onthou.”
Ek het vir ʼn Suid-Afrikaanse familie, wat weens grendeltyd nie die VSA kon verlaat nie, ʼn gedenkdiens saamgestel. Vanaf my rekenaarskerm kon ek sien hoe almal inskakel om na die gedenkdiens te luister: geliefdes uit Washington, Ierland, Doebai, Wellington, Hongkong, Kaapstad.
Dís rou in die Tyd van Covid-19. Dit is ʼn globale gebed. Dit is nabyheid in grendeltyd.
- Besoek herklink.co.za vir meer inligting.
- Heese woon in Neurenberg (Nürnberg), Duitsland.
Ek ken die betrokkenes van g’n kant nie maar dit wat ek lees gryp my aan my hart. Ek dank die Here vir mense met harte vir ander. Sulke mense is instrumente in God se hande waarmee Hy vir ons Sy vrede vir ons gee. Dit dra by tot Sy LEWE vir ons in oorvloed.