Gelofteweek: Bespreek nou jou plek

Die Voortrekkermonument bied vanjaar van 9 tot 16 Desember die Gelofteweek aan. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkermonument bied vanjaar van 9 tot 16 Desember talle opvoedkundige programme met ʼn goeie skeut pret aan.

Vanjaar skop die fees af met geleenthede waar jonk en oud kan leer van sweepslaan, yster smee en potbrood bak, om net ʼn paar interessanthede te noem, wat die kollig op die pioniersera laat val.

“Verlede jaar was die Voortrekkermonument se Gelofteweek een van die grootste samekomste van die jaar en hierdie jaar beloof om selfs nog groter en beter te wees,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, gesê.

In egte Voortrekkergees is daar ook verskeie kulturele aktiwiteite soos kleioskuns, boeresport, krygsgevangenekuns en voorleggings oor voorlaaiers en koeëls giet. Feesgangers en besoekers aan die Voortrekkermonument kan ook uitsien na perde- en perdekarritte met ses nuwe boerperde wat die monument vroeër vanjaar bygekry het.

Die Gelofte, soos dit oorspronklik deur Sarel Cilliers by Wasbank afgelê is, gaan vanjaar daagliks afgelê word, gevolg deur ’n seremoniële kanonskoot om die eeue‑oue gelofte van ons voorvaders op gepaste wyse gestand te doen.

Van 9 tot 15 Desember sal daar verskeie geleenthede aangebied word in opbou tot ’n spesiale Geloftedag en -diens op 16 Desember by die Voortrekkermonument.

Nog hoogtepunte waarna besoekers kan uitsien, is ’n Kersmark, ’n boeremark en ’n antiekmark, volkspele en boeredanse en gereelde lesings.

Piet Smit kom ook ’n draai maak om ’n paar dae die besoekers aan die monument te vermaak. Nog bekendes soos Pieter Smith en Boereorkes (9 Desember), Adam Tas (10 Desember), Ilán (12 Desember), Deidré (13 Desember) en Jay (14 Desember) gaan gehore met musiekvertonings bekoor.

Op Vrydag 16 Desember open die hekke reeds om 06:00 en die Geloftediens begin met samesang (07:00-08:30), gevolg deur die voorlees van die Gelofte. Die diens word vanjaar deur dr. Johann Ernst van die NG Gemeente Doornkloof gelei en beloof om ’n wonderlike boodskap te wees om hierdie wonderwerkdag na 184 jaar weer te herdenk. Die diens word afgesluit met die sing van die Geloftelied, die son op die senotaaf en ’n kanonskoot.

Die nuwe Karel Landman-monument-replika word ook op Geloftedag in die Historiese Trekroetetuin onthul.

Besoek nou https://vtm.org.za/gelofteweek2022/ vir meer inligting en om jou plek vroegtydig te bespreek. Toegang is gratis, maar dit is noodsaaklik vir elke volwassene om te registreer (kinders hoef nie te registreer nie.) Geregistreerde besoekers sal ‘n e-pos ontvang met hul gratis besoekerskaartjie asook daaglikse kennisgewings en aktiwiteite tydens Gelofteweek op WhatsApp. Let wel, R20 parkering per voertuig is betaalbaar by die verskeie betaalpunte op die terrein vanaf 9 – 15 Desember asook bykomende jongspan-aktiwiteite soos aangedui in die program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oom Kobus ·

Weereens baie geluk aan die Voortrekker monument bestuur en die FAK. Ek en my kinders en kleinkinders sal dit weereens nie misloop nie.
Maar ai, kan Maroela nie net die berig beter redigeer nie.
Ek haal aan,
“In egte Voortrekkergees is daar ook verskeie kulturele aktiwiteite soos kleioskuns, boeresport, krygsgevangenekuns en voorleggings oor voorlaaiers en koeëls giet.”
Sekerlik is dit klei-os kuns.
Groete en dankie
Kobus du Toit,
Stilfontein.

Elmarie ·

Kan hulle nie die ingangsfooie bietjie goedkoper maak nie. Genade R150-00 per volwasse is bietjie rof. Meer mense sal dan kan en wil bywoon.

Delia ·

Registreer vir n besoekerskaartjie gratis…dis wat ek lees

Sune van Heerden ·

Dagsê Elmarie
Jy kry ‘n gratis besoekerskaartjie vir die Gelofteweek as jy op die skakel in die berig registreer. Geregistreerde besoekers sal ‘n e-pos ontvang met hul gratis besoekerskaartjie asook daaglikse kennisgewings en aktiwiteite tydens Gelofteweek op WhatsApp. Let wel, R20 parkering per voertuig is betaalbaar by die verskeie betaalpunte op die terrein vanaf 9 – 15 Desember asook addisionele jongspan-aktiwiteite soos aangedui in die program.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.