Gelofteweek vanjaar met reusepret ingelei

Daar is boeresport en ander prettige aktiwiteite vir kinders. (Foto: Verskaf)

Gelofteweek is ʼn jaarlikse hoogtepunt by die Voortrekkermonument in Pretoria en vanjaar word dit met kuns, kultuur, vermaak en hope pret ingelei.

Gelofteweek-feesvieringe vind tussen 8 en 16 Desember daagliks tot 22:00 op die Voortrekkermonument se perseel plaas – wat beteken dat selfs kantoorpliggies nog saam in die pret kan kom deel.

“Dit is die beste Gelofteweek-program wat nog aanmekaar gesit is, wat oud en jonk sal vermaak. Ons nooi mense van naby en ver om hierdie week saam met ons te kom geniet,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

Waarna kan jy uitsien?

Kuns, kultuur en vermaak

Gewilde sangers soos Bernice West, Elandré, Jay du Plessis, Liezel Pieters, Rikus Nel en Juanita du Plessis, asook verskeie jong, nuwe kunstenaars gaan tydens die feesvierings ’n beurt op die verhoog kry.

“Daar is toneelstukke soos Liewe Heksie en komedies soos Dinner for one. Daar is ook lekker stukke soos Op die plaas asook ernstige stukke, wat met ’n mens sal praat, soos Omwenteling waar Johan Scholtz die eenmanstuk opvoer. Die Pro Patria Museum (PPM) se toneelstuk, Van Bloedrivier tot Bosoorlog, beeld die Afrikanergeskiedenis so mooi uit,” sê Maree.

Verder is daar ook klassieke uitvoerings soos Kerssang by Kerslig.

Aktiwiteite vir kinders

Daar word ook in hierdie week heerlike aktiwiteite vir die jongspan beplan, insluitend ’n Liewe Heksie-toneelopvoering en die FAK se poppekas. Kinders kan ook pretaktiwiteite by die Pioniersentrum geniet, soos boeresport, plaaswerfdag en handwerkaktiwiteite.

Gesinspret op spyskaart

Wat is ’n Desember dan nou sonder ’n Kersmark? Tydens die fees is daar ’n Kersmark met meer as 200 uitstallers en heerlike kosstalletjies.

Die Voortrekkermonument se Skool op Wiele Koffiehuis asook die Uitspan Restaurant sal deur tydens die fees spesiale etes en promosies aanbied om die hongerkolle vol te maak.

Duisende staan reg om die son op die Senotaaf te sien val. (Foto: Verskaf)

Besoekers sal elke aand om 19:00 die geleentheid kry om nes die Voortrekkers Die Gelofte, ’n spesiale eed wat hulle voor die Slag van Bloedrivier in 1838 afgelê het, saam in die Lewende Laer op te sê.

Die PPM het ook ’n spesiale wynproe wat by Fort Schanskop aangebied word, sowel as ’n gratis jenewer-demonstrasie in die Kruger-galery.

Moenie die nagtoere misloop

Die Voortrekkermonument bied tydens Gelofteweek spesiale nagtoere aan, maar daar is slegs 35 plekke per toer beskikbaar, so maak seker om betyds te bespreek.

Intrapslagbesprekings sal elke dag beskikbaar wees om die interaktiewe Toekomsbou Museumteater by die Erfenisstigting te beleef.

Word deel van die geskiedenis

“Vanjaar is ’n spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte. Ons vier die Gelofte om ons Christelike kultuur te onthou,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument het dit verder goedgedink om die mense wat Geloftedag op 16 Desember bywoon se name in hul argief te verewig. Hierdie persone se name sal ook in ’n tydkapsule kom wat met die 200 herdenkingsjaar van die Groot Trek oopgemaak sal word.

Die Gelofte word ook gedurende Gelofteweek elke aand voorgelees. (Foto: Verskaf)

“Ons wil mense aanmoedig om elkeen in hul gesin se name te registreer. Verlede jaar het ongeveer 20 000 mense Geloftedag by die Voortrekkermonument bygewoon en ons is hoopvol om die amfiteater vanjaar vol te pak tot sy volle kapasiteit van 44 000 mense,” voeg Langer by.

  • Registreer jou en jou gesin se plek vir Geloftedag, en koop jou Gelofteweek-kaartjie hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.
  • Algemene toegangskaartjies bied toegang tot al die stalletjies en die aktiwiteite wat die publiek kan geniet. Kaartjies vir musiekoptredes en toneelstukke kan bykomend afsonderlik aangekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.