Help kies Maroela se Bruid van die Jaar 2023

Ons vier seisoenebruide vir 2023

As daar een dag in ʼn vrou se lewe is wanneer sy straal, is dit natuurlik op haar troudag – en ons het gesien dat Afrikaanse vroue beslis die mooiste in die land is!

Ons het deur die loop van 2023 vier seisoenebruide aangewys en nou is dit jou kans as Maroela-leser om uiteindelik Maroela se Bruid van die Jaar 2023 uit dié vier wenners te kies.

Danksy Dream Hotels and Resorts het elkeen van die vier bruide reeds ʼn tweede wittebrood gewen, en hulle kom nou in aanmerking vir ʼn groot vakansie!

Wat wen 2023 se Bruid van die jaar?

Le Franschhoek Hotel & Spa (Foto verskaf)

Vir die Bruid van die Jaar 2023 is daar twee spesiale vakansies ter waarde van R29 330. Sy en haar man wen drie nagte vir twee persone wat deel by die Le Franschhoek Hotel & Spa in Franschhoek in die Wes-Kaap (op ʼn bed & ontbytbasis vir ʼn midweek) en twee aande vir twee persone wat deel (bed en ontbyt) by The Peninsula Hotel in Seepunt, Kaapstad.

The Peninsula Hotel (Foto verskaf)

Ons vier seisoenbruide

Somerbruid Marilize Janse van Rensburg

Marilize Janse van Rensburg

Marilize en Stefan Janse van Rensburg, wat op ʼn plaas buite Standerton woon, het op 4 Februarie 2023 by Siesta Guesthouse in Frankfort in die Vrystaat getrou.

“Ná baie trane, uitstel en teleurstelling as gevolg van Covid-19 wat die mat onder ons uitgepluk het, was ons uiteindelik third time lucky. Die groot dag het aangebreek, en almal kon nie wag om saam met al die vriende en familie te kuier nie. Alles was op tyd en het goed verloop. Ek was in die bevoorregte posisie dat my twee pa’s my in die kerk in gebring het. Eerste my stiefpa, wat my aan my pa oorgee, en hy my weer aan Stefan. Voor die onthaal kon ons troufoto’s op die familieplaas net buite Frankfort neem. Stefan se oupa het hier as kind grootgeword. Ons het so lekker saam met ons vriende en familie op die onthaal gekuier – ons het baie lank uitgesien na hierdie dag! Dit was vir my ʼn baie spesiale oomblik toe ons die dansbaan kon open, aangesien dit die eerste keer in drie jaar was wat ons weer kon dans. As gevolg van ʼn rugoperasie moes Stefan weer leer loop. Ons het uit hierdie ervaring weereens besef dat die troue met al die blomme en kos nie belangrik is nie, maar wel jou liefde en omgee vir mekaar.”

Herfsbruid Twané Lutman

Twané Lutman

Twané en Dylan Lutman van Krugersdorp het op 27 April 2023 by Stable View in Krugersdorp getrou.

“Die Lutman-bruilof was alles en nog meer waarvan ek gedroom het. My strooimeisies, ma en skoonma het elke sekonde saam gedeel in die opwinding van die dag. Ek onthou almal se geklets en gegiggel terwyl grimering en hare gedoen word nog so goed. My ma en hoofstrooimeisie het my gehelp om my rok aan te trek. ʼn Oomblik wat ek vir altyd sal koester, was die onthulling wat ek vir my strooimeisies, pa en boetie gedoen het.

“My pa se reaksie was genoeg om my soos ʼn ware prinses te laat voel. Dit is tyd vir die seremonie om te begin!

“Nadat die gevolg ingeloop het, is die deure toegemaak. Ek het by my pa ingehak en die vlinders in my maag het omtrent bollemakiesie geslaan!

“Soos die deure ʼn laaste keer oopgaan, sien ek my prins daar voor staan. Die res van die aand was ʼn ware sprokiesverhaal. Ons eerste dans as Meneer en Mevrou Lutman was ʼn showstopper. Die wit sponskoek met Belgiese sjokoladeversiering was hemels. Die melktertjies op die tafels was ook ʼn wenner gewees. Die gaste het hul gate uit geniet!”

Winterbruid Antoinette du Plessis

Antoinette du Plessis

Antoinette en Déan du Plessis van Heidelberg (Gauteng) het op 23 Junie 2023 by The Stone Cellar getrou.

“Ek en Déan ken mekaar al sewe jaar lank en het nie lank uitgegaan voor hy die groot vraag gevra het nie. Ons dag het ʼn hele paar foute en draaie gehad. Ons het die oggend opgestaan met baie mis en gevriesde pype, ons platejoggie was baie vreemd en my rok het geskeur en is reggemaak met vislyn omdat ons nie naald en garing in die hande kon kry nie (haha!). Ons dag was egter gevul met soveel liefde. Ons albei is wintermense en wou ʼn warm gevoel by ons troue geskep het – met lekker sop en baie rooiwyn dink ek het ons dit perfek reggekry. Ons vriende het tot die vroeë oggendure met ‘n luidspreker, rooiwyn en oorskiet malvapoeding in die plaashuis gekuier. Daar is eintlik nie woorde om hierdie dag op te som en te beskryf nie. Nie net het ek aan my lewensmaat ewige trou beloof nie, maar elke gas wat teenwoordig was, het dit in oorvloed saam met ons gevier.”

Lentebruid Lize-Marie van Zyl

Lize-Marie van Zyl

Lize-Marie en Rikus van Zyl van Potchefstroom het op 7 Oktober 2023 by Kleinbosch in Potchefstroom getrou.

“’Sprokies’ is een woord wat ons troudag opsom. Dis ʼn ongelooflike ervaring om met jou high school sweetheart te trou. Ons seremonie was in die Nerderduitsch Hervormde Kerk, die oudste kerk noord van die Vaalrivier, en ons venue was tussen lang bome, met spierwit dekor en blomme by Kleinbosch. My rok was soos dié van Aspoestertjie, die ou motor, die ou kerk en my prins, Rikus. Só dag laat mens besef hoe belangrik familie en liefde is en hoe God se hand in ons hele pad saam teenwoordig was. Dit klink onwerklik. Om op 23 te trou sal party mense stom slaan, maar daar kom ʼn rustigheid oor jou as jy besef dat jy steeds so verlief is soos toe jy 18 jaar oud was en dat jy met jou beste vriend gaan trou in die teenwoordigheid van al jou geliefdes. Almal se harte was oop en het gehelp waar hul kon om die dag ʼn werklikheid te maak. Ek kyk elke dag na ons foto’s en kry trane in my oë, want dit was werklik net perfek. Ons sprokiesdag, ons troudag.”

Stem nou vir die Bruid van die Jaar

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Bruid van die Jaar te stem is 28 Januarie 2024 om 23:45.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die bruid se prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die wenpaartjie moet self die bespreking reël vir die verblyf.
  • Die bruid se vervoer na en van die bestemming en enige ander uitgawes wat sy aangaan is nie by die prys ingesluit nie.
  • Maroela Media en Dream Hotels & Resorts kan nie aanspreeklikheid aanvaar vir enige skade of verlies wat jy mag ly wanneer jy van die akkommodasieprys gebruik maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.