Helpende Hand maak gemeenskappe gesonder, sterker

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en ds. Gert MacDonald van die Hervormde Kerk Nelspruit. (Foto: Verskaf)

Dit is geen geheim dat daar kritieke tekortkominge is in basiese gesondheidsorg in Suid-Afrika nie, veral by openbaregesondheidsgeriewe en veral onder hulpbehoewende en bejaarde mense.

Daarom gryp Helpende Hand op verskeie terreine in om te verseker dat gemeenskappe die nodige hulp ontvang en terselfdertyd bemagtig word deur nuwe vaardighede aan te leer. Twee van hul groot projekte in dié verband is die oprig van hul Ons Spreekkamer-sentrums asook hul tuisversorgingsprogram.

Om te verseker dat behoeftige persone toegang tot volhoubare, basiese gesondheidsorgdienste sal verkry, het Helpende Hand sy Ons Spreekkamer ontwikkel. Dié sentrums poog om primêre gesondheidsorg van ʼn hoë gehalte, gekombineer met professionele sorg en moderne geneeskunde, pro bono aan behoeftige persone te bied of, as alternatief, suksesvolle opname in die mediese stelsel te fasiliteer.

Die eerste Ons Spreekkamer is vyf jaar gelede in eMalahleni (Witbank) oopgemaak en volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het hul binne vyf jaar reeds 1 500 pasiënte gehelp om noodsaaklike versorging en mediese dienste te bekom.

Die organisasie se splinternuwe Ons Spreekkamer-sentrum se deure is onlangs in Nelspruit by die Hervormde Kerk in Belladonnastraat geopen en daar is reeds ses dokters, twee tandartse, ʼn oogkundige, netwerkvennote, apteke en donateurs aan dié sentrum verbonde.

“In elke gemeenskap is die behoefte daar, maar nie alle gemeenskappe weet hoe om iets daaraan te doen nie. Nelspruit sê ons kan,” sê Noëth.

Annemarie van Heerden, Helpende Hand se organiseerder vir die Mpumalanga-streek en wat betrokke was by die stigting van die eerste Ons Spreekkamer, verduidelik dat die sentrums primêre en voorkomende gesondheidsorgdienste aan hulpbehoewende gemeenskappe bied, soos die behandeling van verkoue, griep, ontstekings en infeksies.

Dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling by Helpende Hand, saam met studente van die tuisversorgingsprogram. (Foto: Verskaf)

Ons Spreekkamer bied egter nie behandeling aan inlooppasiënte en noodgevalle, soos by staats- en private hospitale nie, maar lewer ’n diens aan pasiënte wat deur Helpende Hand se samewerkende organisasies na die gesondheidsorgsentrum verwys is.

“Uiteraard het Ons Spreekkamers beperkings. Hulle kan nie in alle behoeftes voorsien nie, maar dit is ʼn begin en getuig van die krag van ’n gemeenskap wat omgee, omsien, versorg en begelei. Dit bring vermoëns en gawes bymekaar en maak ʼn gemeenskap sterk,” sê Van Heerden.

“Die doel is ook om ʼn gemeenskapstruktuur te vestig wat as platform sal dien vir mediese praktisyns en verwante professies om hul mediese dienste pro bono aan behoeftiges te lewer.”

Van Heerden sê Ons Spreekkamer is vir behoeftiges wat:

  • minder as R8 000 per gesin per maand verdien;
  • ’n staatstoelae ontvang;
  • pensioenarisse is;
  • werklose individue is; en
  • kinders van behoeftige ouers is.

ʼn Ander kwessie wat Helpende Hand na aan die hart lê, is die versorging van bejaardes en weens ’n kritieke tekort aan tuisversorgers wat hulle verlede jaar genoop het om aan studente wat ʼn passie het om na mense om te sien, bekostigbare en goeie opleiding in dié veld te bied. Die program is die eerste van sy soort en is in samewerking met Gratia Via Akademie opgestel om ’n geakkrediteerde kwalifikasie in tuisversorging aan te bied.

Die program gaan van krag tot krag en het uitgebrei van twee studiesentrums met 18 studente in 2021 na vyf studiesentrums met 50 studente in 2022. Solidariteit Helpende Hand Studietrust gaan ook aan 15 van die 50 studente vanjaar rentevrye studielenings bied. Volgens Helpende Hand is deel van hul toekomsplanne om die fonds wat gestig is om tuisversorgingstudente op te lei, te versterk sodat hulle niemand weens finansies hoef weg te wys nie.

Benette Welman, projekorganiseerder van die tuisversorgingsprogram, verduidelik dat die kursus oor ’n tydperk van ses maande aangebied word waarin teorie en praktiese sessies afgewissel word. Die praktiese komponent word by geïdentifiseerde instansies in die omgewing van die studiesentrum aangebied. “Dit beteken ekstra hulp vir die tehuis of instansie in ’n tyd wanneer tehuise dikwels sukkel om genoeg personeel aan te stel om die werk te doen,” sê sy.

Die groep  studente wat in 2021 vereer is saam met die betrokkenes wat die tuisversorgingskursus moontlik gemaak het. (Foto: Reint Dykema)

Dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling by Helpende Hand, sê Helpende Hand skep met die opleiding van die tuisversorgingstudente nie net ’n toekoms vir die studente nie, maar dit gee ook aandag aan ’n groot behoefte in die gemeenskap.

“Die beroep van tuisversorging is nie ’n beroep waaroor ’n mens geneig is om te dink totdat jy dit vir jou of vir familielede nodig kry nie. Wanneer ons of familie dit nodig kry, is ons geneig om altyd die beste te soek, daarom is dit belangrik vir Helpende Hand om die beroep van tuisversorging te standaardiseer en sterk te maak,” sê Noëth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Geluk Helpende Hand met ‘n wonderlike inisiatief! Daar is soveel weerlose armblanke kinders en bejaardes wat hulp benodig. Laat almal wat kan ‘n “helpende hand” uitreik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.