Hier is waar liggies brand dié Kersfees

Foto ter illustrasie. (Foto: Winston Chen/Unsplash)

Wanneer die Kersliggies aangeskakel word, dan is ʼn mens dit eens: die Kersseisoen het amptelik – en uiteindelik – aangebreek!

Liggies sal vanjaar al die pad van Rustenburg tot in Kaapstad brand, met liggiefeeste wat in talle dorpe en stede in Suid-Afrika gehou gaan word.

Jakaranda Kinderhuis Liggiefees

Kersfees in Pretoria beteken vir tientalle mense ʼn besoek aan die Jakaranda Kinderhuis se immergewilde liggiefees wat jaarliks in die Jakarandastad gehou word.

Die organiseerders van dié fees is tans in rep en roer ter voorbereiding van die geleentheid wat op 1 Desember afskop. Daar is reeds meer as 70 000 kabeldassies (cable ties) gebruik en meer as 2 520 ure se mannekrag ingesit. Daar is ook reeds nagenoeg agt kilometer se liggies gebruik, met sowat twee kilometer se elektriese kabels wat vir dié reusetaak gebruik is.

Dié fees vind van 1 tot 30 Desember by die Jakaranda Kinderhuis in Derdepoort, Pretoria, plaas. Hekke sal elke aand om 18:00 open en weer om 22:00 sluit. Diegene wat bekommerd is oor beurtkrag kan gerus ontspan, aangesien daar sterk kragopwekkers is wat heerlik gaan dreun wanneer beurtkrag toeslaan.

“Die jaarlikse liggiefees is die kinderhuis se grootste geldinsamelingsprojek en maak ʼn reuseverskil in die tye waar die staatsubsidie laat oorbetaal word. Die kwartaallikse staatsubsidie dek slegs sowat 50% van ons totale uitgawes en ons moet dit met projekte aanvul,” verduidelik Ina Kotze, hoof van bemarking en geldinsameling by die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise.

Daar is sowat 291 kinders wat deur dié twee kinderhuise versorg word.

Potchefstroom se Abraham Kriel-liggiefees

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom sal vanjaar weer die liggies aanskakel om die Kersseisoen behoorlik in te wy. Dié bekende liggiefees vind van 1 tot 31 Desember by die kinderhuis, op die hoek van Kruis- en Viljoenstraat, plaas.

Deure open daagliks om 18:30 en sluit weer om 22:00, en toegangsfooie beloop R40 per persoon.

Dié fees gaan ook met heerlike kos- en ander stalletjies gepaard, en talle kunstenaars sal deur die loop van die maand op die feesverhoog verskyn. Kunstenaars soos Bernice West, Jan Jan Jan, Appel, Riaan Benadé, Dodo, Eloff, Chris Else en Leah maak binnekort ʼn Potchefstroomse draai.

Vir meer inligting oor die fees en wanneer die kunstenaars optree, besoek Abraham Kriel-kinderhuis se Facebook-bladsy hier.

Abraham Kriel-liggiefees in Modimolle (Nylstroom)

Liggies word om 19:00 op 2 Desember vanjaar by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle (Nylstroom) aangeskakel. Daarna sal die hekke daagliks om 18:00 open om besoekers aan hul liggiefees te verwelkom.

Toegangsfooie beloop R10 per persoon. Besoek hierdie Facebook-bladsy vir meer inligting.

Durban se liggiepad

Indien jy vanjaar jou vakansie by die see in die Durban-omgewing hou, is ʼn besoek aan dié kusstad se jaarlikse liggiefees die perfekte uitstappie vir jou.

Dié fees, ook genoem die Trail of Lights, vind van 8 Desember tot 3 Januarie by die Durban Botaniese Tuin plaas. Vir meer inligting en om jou kaartjies aan te skaf, besoek hierdie webwerf.

Kaapse liggies brand ook vanjaar

Die Moederstad sal vanjaar die tradisie voortsit om die hele stad se liggies op een slag aan te skakel.

Dié geleentheid, getiteld die Festive Lights Switch-On-byeenkoms, sal op Sondag 26 November plaasvind en beloof om ʼn jolige affêre te wees. Die stad is gereed om duisende mense in strate soos Darling- en Adderleystraat, asook die Grand Parade, te verwelkom.

Dié geleentheid vind al die afgelope 20 jaar in Kaapstad plaas, en inwoners is opgewonde om nóg ʼn jaar daaraan deel te hê.

Rustenburg se Sterrenag-liggiefees

Rustenburgers kan dié jaar weer uitsien na die NG Proteapark se jaarlikse liggiefees. Dié fees vind van 3 tot 6 Desember plaas, met toegang wat gratis vir besoekers gaan wees.

Daar sal ook kos- en ander stalletjies, asook kindervermaak, by die fees beskikbaar wees. Vir meer inligting besoek NG Proteapark se Facebook-bladsy hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.