Honderde kunswerke sit teater vol

Die Atterbury-teater se kunsgalery is oop op Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 16:00 en besoekers het tot 20 Augustus om die galery te besoek. (Foto: Verskaf)

Die spreekwoord lui: “Genade maak ’n plan.” Só het die Atterbury-teater in Pretoria en die Optog!-teaterinisiatief keer op keer al met hul projekte gewys dat daar altyd met ʼn goeie dosis wilskrag ʼn plan te maak is.

In die mees onlangse inisiatief deur die Atterbury-teater en Optog! is kunsentoesiaste en professionele kunstenaars landwyd genooi om aan ʼn nasionale kunskompetisie met die tema “My wêreld” deel te neem.

“Ons wildste drome is oortref en daar is kuns van regoor die land ingestuur. Van sover as Upington en Kaapstad,” vertel Jané van Litsenborgh, korporatiewe bestuurder van die Atterbury-teater.

Alle inskrywings word vir die volgende drie weke in die Atterbury-teater uitgestal en te koop aangebied. Dié kunswerke kan ook aanlyn besigtig word en die publiek sal dan vir hul gunsteling in elke kategorie kan stem.

Die groot verrassing wat op besoekers wag is die 400-sitplek-teater wat in ʼn kunsgalery omskep is. Van Litsenborgh is opgewonde oor dié inisiatief en die ondersteuning wat dit aan kunstenaars bied.

“Ons kan nie vertonings hou nie, maar ons kan die kunste op ʼn ander manier ondersteun en emosie en warmte na alle teatergangers bring.

“Daar is nie ʼn beter manier om asem in ʼn teater te blaas as om kuns na binne te bring nie. Boonop met soveel kleur, tekstuur en emosies. Alles wat jy van ʼn teaterverhoog af ervaar, is nou ʼn armlengte weg.”

Die kompetisie word deur ʼn onafhanklike paneel beoordeel en bestaan uit Anna Davel, Jak de Priester, Lily Brannon en Lize Beekman. Wenners sal deur die paneel aangekondig word.

“Soos ons die hele Suid-Afrika uitgenooi het om vir die kunskompetisie in te skryf, nooi ons nou teatergangers en kunsliefhebbers om die kuns te besigtig,” sê Van Litsenborgh.

Die Atterbury-teater se kunsgalery is oop op Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 16:00 en besoekers het tot 20 Augustus om die galery te besoek. Kunsliefhebbers kan die aanlyn kunsgalery besoek by www.atterburytheatre.co.za/virtual-art-gallery/. Daar kan jy ook vir jou gunstelingkunstenaar stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.