Hoop, een klippie op ’n slag

Dit is ‘n regte skattejag. (Foto: Verskaf)

Mense vind stukkies geluk op die vreemdste plekke. Maretha Botes vertel hoe geverfde klippe hoop bring.

‘n Kleurvolle klip op ‘n plek wat jy dit nie verwag nie. Soos ‘n weggesteekte paaseier. Kry jy een, hou jy altyd ‘n oog oop vir nóg. Want dit maak ‘n mens kinderlik gelukkig om met so ‘n klip in jou hand te staan. Iemand het met liefde die klip geverf, in ‘n openbare plek versteek en gehoop dit sal jou dag maak as jy dit ontdek.

Die Kindness Rock-projek maak mense wêreldwyd opgewonde. In Kaapstad bestaan die Cape Town Rocks-beweging, Port Elizabeth spog met PE Rocks, en in Hermanus het ‘n paar stappers al vrolik geverfde klippies langs die kus opgetel en weer elders versteek. Daar is selfs van dié spesiale klippe in Johannesburg en Vanderbijlpark gevind. Die idee is eenvoudig. Verf ‘n klip en versteek dit op ‘n plek waar mense dikwels kom. ‘n Wandelroete, die strand, ‘n park, selfs jou winkelsentrum se parkeerterrein. Die persoon wat jou klip vind, steek dit weer weg of hou dit. Die voorwaarde wanneer jy ‘n klip ontdek, is om dit af te neem en op sosiale media te plaas.

Die Austin-gesin van Durbanville is die afgelope drie jaar reeds ywerig deel van die klipverwers. (Foto: Verskaf)

Die Austin-gesin van Durbanville, Kaapstad, is die afgelope drie jaar ywerig deel van die klipverwers. Hul storie is een wat diep in die hart gaan lê.

Daar word met elke verjaardag en Kersfees klippe vir Riley geverf. (Foto: Verskaf)

Dit het begin toe hul vierjarige seuntjie, Riley, in die lente van 2016 oorlede is.  Hy het aan spinale spieratrofie 1 gely. Van geboorte af het hy geen spierfunksie gehad nie. Toe hy kort ná sy vierde verjaarsdag dood is, wou sy ouers, Lisa-Jo en Andrew, sy nagedagtenis op ‘n spesiale manier vier. Hulle het besluit om vir Riley ‘n boom in Majik Forest te plant, ‘n park naby hul huis. Dis ‘n plek waar Lisa-Jo en Andrew dikwels vir Riley geneem het. ‘n Plek waar daar kosbare herinnerings gebêre lê vir die gesin. Die boom, ‘n Kaapse mahonie, is geplant ‘n jaar ná Riley se dood. Op ‘n dag val Andrew se oog op iets onder ‘n nabygeleë boom. Dit was ‘n pragtig versierde klip.

“Toe hy dit optel, het ek net geweet ons gaan van daardie dag af vir Riley klippe verf en dit op spesiale dae onder sy boom los,” sê Lisa-Jo.

Nou is dit iets wat die hele gesin met oorgawe doen en Riley se twee sussies, Rachel (6) en Jade (2) ook deel aan het. Die affêre is sommer ‘n hele avontuur. Elke staptog na Majik Forest word aangepak in die gees van gee en ontvang. Klippe word geverf om by Riley se boom te los, maar oral langs die pad word daar gesoek na ander klippe wat klipverwers versteek het. Soms is dit klippe met kleurvolle kinderkuns, en soms is dit ware kunswerke wat ontdek word. Ander het inspirerende boodskappe daarop geverf.

“Dis ‘n regte skattejag,” sê Lisa-Jo. “Selfs my tweejarige weet waar om te soek. In al wat holtetjie is, sal sy gaan kyk. Hulle is in ekstase elke keer wanneer hulle ‘n nuwe klip ontdek.”

Lisa-Jo sê die hele proses is van geestelike, terapeutiese en kreatiewe waarde vir hulle.

“Ek sal selfs sover gaan om te sê dit is ietwat verslawend!” sê sy laggend.

Die klipkuns word onder Riley se boom, ‘n Kaapse mahonie, gelos en dan versteek die gesin nog geverfde klippe in die omgewing. (Foto: Verskaf)

Die Austins gaan sit klippe by Riley se boom met elke verjaarsdag, elke herdenking van sy sterfdag, asook op Kersdag. Baie van die klippe het sy naam op. Hulle het ook ‘n plaatjie by die boom laat aanbring waarop Riley se geboorte- en sterftedatums aangeteken is. Baie mense weet van Riley se boom, en wanneer hulle en hul kinders daarheen gaan, wakker dit ook gesprekke oor lewe en dood aan.

“Dis iets baie spesiaals wat hier gebeur,” sê Lisa-Jo.

Dit het al gebeur dat stappers een van Riley se klippe geneem en dit elders versteek het. ‘n Ander stapper wat die Austins se storie ken, het dié klip opgetel en teruggeneem na Riley se mahonieboom.

Lisa-Jo sê sy het ‘n klomp klippe saam met ‘n vriendin Amerika toe gestuur om daar te versteek. Sy weet ook van klippe wat hul verskyning in Alaska gemaak het.

Daar is iets spesiaals wat gebeur as jy deel raak van dié skattejag. (Foto: Verskaf)

Barbara van Rijsewijk, stigter van Cape Town Rocks, sê sy het in 2017 deelgeneem aan ‘n 100 dae-kreatiewe uitdaging. Sy het besluit om eenhonderd mandalas op klippe te verf. In ‘n soektog na hoe sy haar kunsklippe op sosiale media kon uitstal, het sy afgekom op ‘n Nieu Seelandse Facebook-groep wat klippe verf en wegsteek. Sy en haar sussie, Chelsea Henning, het besluit om ‘n soortgelyke groep in Kaapstad te stig. Die groep bestaan uit mense wat gaande is oor klipverfkuns en liefde en hoop uitdeel deur die klippe weg te steek vir ander om te vind. As jy ‘n klip kry kan jy dit óf weer wegsteek op ‘n ander plek, of hou.

“Die doel is om jou eie kreatiwiteit te ontdek. Dit is uiters ontspannend en baie mense raak ontslae van stres op dié manier,” sê Barbara.

Die groep hou gereeld geldinsamelings vir liefdadigheid en het tydens hul mees onlangse klipveiling ‘n allemintige R18 000 ingesamel.

Mense op enige plek kan met hierdie inisiatief voortgaan. Stig ‘n sosialemediagroep vir jou dorp of stad se klippe. Verf ‘n paar klippe, sit ‘n plakker agterop waarop jy jou sosiale mediagroep se naam verstrek, en noem dat die ontdekker die klip moet afneem, dit op die bladsy moet plaas en die klip mag hou, of weer kan wegsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.