Johan Els verdien plek op VTM-verhoog

Die argitek Johan Els en sy vrou, Helene. Johan het onlangs sy 80ste verjaardag gevier. (Foto: Verskaf)

Wêreldteaterdag is die afgelope week gevier en die Voortrekkermonument het die geleentheid gebruik om hulde te bring aan die argitek Johan Els wat in sy loopbaan ʼn groot rol gespeel het in die uitbou van die terrein.

Els se projekte by die Voortrekkermonument sluit in die Fort Schanskop-amfiteater, die inrig van die hysbak in die monument in 2007, die ontwerp en bou van die kiosk en ablusiefasiliteite (deesdae die Uitspan-restaurant) in 2008, die inligtingsgebou ʼn jaar later, die Erfenissentrum in 2014 en die Pioniersentrum in 2016 en 2017. Els het ook die Viscount-gedenkmuur en meer onlangs die Suid-Afrikaanse Weermagmuur van Herinnering ontwerp.

Die Fort Schanskop-amfiteater en die Erfenisstigting waarin die museumteater nou gevestig is, speel ’n groot rol in die moderne teateraanbod wat die monument bied.

Els se dogter, Liana Els-Bull, bestempel haar pa – wat in Maart sy 80ste verjaardag gevier het – se nalatenskap as besonder spesiaal.

“My pa het so baie van sy lewe gegee vir ons kultuur en ook openbare werke. Dit is sy nalatenskap vir sy kinders en kleinkinders.”

Die maatskappy wat hy saam met Karre Maree in 1974 begin het, MEG Argitekte (destyds Maree & Els Argitekte), vier boonop vanjaar hul 50ste bestaansjaar, sê Els-Bull.

(Foto: Voortrekkermonument)

Volgens Els-Bull het pa Johan se werk hul gesin baie geïnspireer en sy het die voorreg gehad om saam met hom aan ’n paar projekte te werk.

Els het in 2018 in die ouderdom van 74 afgetree en Els-Bull het in sy voetspore gevolg.

Haar susters Francene Bekker (ʼn grafiese ontwerper) en Joleen Buys (ʼn interieur-argitek) werk al drie saam in hul maatskappy Design Trilogy.

“Ons broer Andries Els woon in Nieu-Zeeland en is ’n meganiese ingenieur. My ouers het 12 kleinkinders,” vertel Els-Bull.

Die projekte wat Els vir die departement van openbare werke voltooi het, sluit in die nuwe onderwyskollege vir die Groenkloof-kampus in 1976, die Polisiemonument by die Uniegebou in 1983 en die Nasionale Suiwelkorporasie-hoofkantoor in Randburg (nou die Abbott Laboratories-gebou) in 1985. Els het ook die departement van openbare werke se hoofkantoor in 2004 opgeknap.

(Foto: Voortrekkermonument)

Die Els-familie bly ver van mekaar, maar het in Januarie die monument saam besoek om vir hul kinders die besonderse nalatenskap te wys wat hul oupa gelaat het.

“Die Voortrekkermonument wil Johan Els baie geluk wens met sy 80ste verjaarsdag. Dit is ’n voorreg om iemand wat diep spore getrap het by die Voortrekkermonument en in Pretoria te kan vereer,” lui ʼn verklaring van die monument.

“Sonder Els se werk sou die Voortrekkermonument beslis nie ’n tuiste kon skep vir soveel vertonings wat op die terrein opgevoer word nie. Die teaters by die Voortrekkermonument sluit in die Museumteater in die Erfenissentrum, die Fort Schanskop-amfiteater, die hoofamfiteater en die Heldesaal en Senotaafsaal in die monument self, waar vele klassieke uitvoerings al gedoen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.