Jongmens, jy kán ’n verskil maak

(Foto: Verskaf)

Inyathelo, ʼn niewinsgewende organisasie, wil in Jeugmaand jongmense laat besef hulle het die vermoë om aktief deel van ʼn beter samelewing te wees.

Leerders kan ʼn bydrae lewer tot hulle gemeenskappe as vrywilligers met vars energie en idees in geldinsamelingsveldtogte vir gemeenskapsprojekte. Boonop gee vrywilligerswerk jongmense die kans om hulle eie selfbeeld te ontwikkel, hulle toekoms te rig en positiewe rolmodelle vir ander jeugdiges te word.

“Vrywilligerswerk en geldinsamelingsveldtogte is nie net vir volwassenes nie. Om terug te kan gee, open jongmense se oë vir maatskaplike uitdagings in hulle eie omgewing. Dit moedig hulle aan om te leer, ervaring op te doen en as individue te groei,” sê Soraya Joonas, finansiële direkteur van Inyathelo. Sy het self byna 20 jaar lange ondervinding in die ondersteuning van filantropie en niewinsgewende organisasies.

Inyathelo bied tien wenke aan vir leerders wat belangstel om ʼn verskil te maak:

  1. Werk as ’n span: Jy kan so meer pret hê en boonop as ʼn span meer saam bereik as om alleen te werk. Almal het verskillende sterkpunte, neem dus ʼn rol in wat jou interesseer en waarmee jy vertroud is. Sleutelrolle in ʼn gemeenskapsprojek is die voorsitter van vergaderings en projekte, sekretaris om rekords te hou, tesourier wat verantwoordelik vir finansies is en ʼn skakelbeampte om seker te maak dat ander mense weet wat julle doen.
  2. Kry jou skool se ondersteuning: Die ondersteuning van jou skoolhoof en ʼn toegewyde onderwyser sal help om ʼn projek te laat slaag. Jy het waarskynlik ook toegang tot skoolgeriewe en toerusting nodig.
  3. Identifiseer gemeenskapsbehoeftes: Vra groepe en individue oor die probleme wat hulle ervaar en moontlike oplossings. Maak ʼn lys van kwessies en onderwerpe en gebruik dit om ʼn vraelys op te stel.
  4. Ontleed jou kapasiteit: Vind uit watter bronne in jou groep beskikbaar is en wat jy nog benodig om aan die behoeftes van die gemeenskap te voldoen.
  5. Evalueer begunstigde organisasies: Identifiseer verskeie organisasies in jou gemeenskap en ontwikkel ʼn duidelike stel kriteria sodat julle ʼn organisasie kies wat julle die beste kan ondersteun. Die beste manier om dit te doen, is om organisasies te besoek en ʼn onderhoud met die bestuurders te voer. Vind meer uit oor die werk wat hulle doen, wie hulle nog ondersteun, aan hoeveel mense hulle dienste lewer en hoe hulle hul geld bestuur.
  6. Ontwikkel ’n geldinsamelingsplan: Die sleutel tot sukses is om ondersteuning te kry van ander leerders, onderwysers, ouers, sakeondernemings en gemeenskapslede. Hou ʼn dinkskrum vir konsepte wat ʼn diens, produk of ervaring sal bied waarvoor mense sal betaal en dit geniet, terwyl hulle bydra tot ʼn waardevolle saak.
  7. Stel ’n begroting op: Jy moet soveel moontlik geld verdien, terwyl jy so min moontlik spandeer. Vra mense om hulle tyd en vaardighede aan te bied en om goedere te skenk sonder om geld uit te gee.
  8. Bestuur die geld reg: Hou rekords om te bewys dat die geld wat jy insamel, gebruik word soos bedoel. Hierdie openhartigheid en deursigtigheid sal jou help om ʼn verhouding met jou skenkers te bou en die projek se kanse op verdere finansiering verhoog.
  9. Kommunikeer jou planne: Versprei die boodskap oor jou veldtog op sosiale media, kennisgewingborde, strooibiljette, pamflette, die skooltydskrif, gemeenskapskoerante en radiostasies.
  10. Skakeling met skenkers: Wees respekvol, hou skenkers op die hoogte van die projek se vordering, laat hulle weet wat julle bereik het met die geld wat hulle gegee het, en sê altyd dankie.

Die agtjarige Afeefah Patel, het in 2013 gehelp om ʼn nasionale teen-renosterstroperyveldtog te begin. (Foto: Inyathelo)

Om toegang tot meer wenke en riglyne te kry, het Inyathelo ʼn omvattende gids, The Youth Philanthropy Action Guide, geskryf. Laai dit gratis by die Inyathelo-webwerf af.

Dié gids bevat praktiese raad oor geldinsameling, asook administratiewe en geleentheidsbestuur wat noodsaaklik is vir elke goed bestuurde projek. Skoolleerders kan die aantekeninge, template en ondersteuningsinligting gebruik om geld in te samel, terwyl onderwysers die inligting in lewensoriënteringslesse en assesserings kan toepas.

“Jongmense voel soms hulpeloos te midde van negatiewe probleme,” sê Joonas. “Die skoolomgewing het te midde van die pandemie heeltemal verander. Dit was veral moeilik vir leerders in gemeenskappe met nie genoeg hulpbronne nie, waar daar nie veel geld vir data of hulp met tuisonderrig is nie.

“Oor die jare heen het ons egter gesien hoe bemagtigend dit vir ʼn leerder is om te besef dat hy of sy kan bydra tot die welstand van ander. Vrywilligerswerk of geldinsameling kan ʼn verrykende ervaring wees wat help om talent te ontwikkel en positiwiteit op te bou.”

Inyathelo het jaarliks ​​van 2007 af “Philanthropy Awards” aangebied om die bewustheid oor die onderwerp te verhoog en die mense wat ʼn verskil maak, te vier. Dit het ʼn toekenning vir jeug in filantropie ingesluit.

Die jongste ontvanger was die agtjarige Afeefah Patel, in 2013, wat gehelp het om ʼn nasionale teen-renosterstroperyveldtog te begin. Tyrone Aaron, die ontvanger in 2015, het op sesjarige ouderdom begin klavier speel. Op negejarige ouderdom het Tyrone te hore gekom van die moontlike sluiting van ʼn huis vir mense met verstandelike gestremdhede. Hy het sy ma gevra om ʼn konsert te reël wat R30 000 ingesamel het. Tyrone het ook meer as R45 000 ingesamel vir die Sabi Sands-bewaringstrust en Rhino SA.

Tyrone Aaron het sy musiektalent sedert 2015 gebruik om geld vir verskillende projekte in te samel. (Foto: Inyathelo)

  • Inyathelo, wat in 2002 gestig is, werk daaraan om organisasies in die burgerlike samelewing te onderhou en te versterk. Besoek www.inyathelo.org.za of Inyathelo se Facebookblad of Twitter-rekening vir meer inligting oor die organisasie se werksaamhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.