Kaapse radiostasies kuier by Klankgolf-radioseminaar

Lindie Strydom gesels met die gemeenskapsradiostasies oor die krag van invloed. (Foto: Maroela Media)

“Elkeen het ʼn plek van invloed gekry, selfs al is dit soms sonder titel of ʼn begroting. Jou verantwoordelikheid is om dinge beter te los. Met die impak wat jy kan maak en die invloed wat jy het, kan jy mense saam neem om  ʼn ware verskil te maak.”

Dit was die boodskap van Lindie Strydom, ʼn aktrise, spreker, skrywer en aanbieder, wat Kaapse gemeenskapsradiostasies by Maroela Media se Klankgolf-radioseminaar toegespreek het oor die krag en invloed wat hulle het.

Strydom het saam met 11 ander sprekers op Donderdag en Vrydag 13 gemeenskapsradiostasies uit die Kaapse streek by die Ongegund‑konferensiesentrum in Somerset-Wes toegespreek. Daar is gefokus op onderwerpe soos advertensieverkope, ʼn gebalanseerde uitsaai-horlosie, doeltreffende bestuursdenkwyse, en ʼn werkswinkel oor die skryf van nuusberigte vir hul gemeenskappe, asook sosiale media en gemeenskapsprojekte.

Die uitsaaiers en omroepers het ook heerlik saam gesels tydens ʼn rusbankgesprek tussen Gerben van Niekerk, fasiliteerder van die seminaar, Pieter Cloete, radiokundige en videovervaardiger by Maroela Media, en Jon Savage, uitvoerende hoof van InBroadcasting, oor nuwe tegnologie, internetradio, podsendings en regstreekse uitsendings waarby Francois Retief van Iono.fm ook aangesluit het. Die span het idees gegee oor die beste maniere om podsendings te gebruik om radiostasies se inhoud aan te bied en hoe om inkomste uit die soort inhoud te verdien.

Elzette Esau, programbestuurder by Radio Disa 95.9 FM, het veral die betrokke sessie geniet. “Ek glo podsendings kan ons radiostasie help om ons programme uit te brei en ekstra lugtyd verskaf aan interessante onderhoude terwyl dit ook terselfdertyd sommer voete na ons webwerf kan dryf.”

Sy glo ʼn seminaar sal haar ook help om ʼn beter programbestuurder te word.

“Ons het gesels oor hoe om advertensies, nuus en programme aanloklik te maak vir ons luisteraars. Vir my was dit ook belangrik om te hoor hoe noodsaaklik dit vir ʼn leier is om insette van hul spanlede te kry, hoe elkeen se perspektief ʼn verskil kan maak en hoe om opdragte oor te dra.”

(Foto: Maroela Media)

Sy het verwys na Arnoldt Geerdts, sportkommentator en korporatiewe kommunikasie-afrigter, wat die radiostasies se kommunikasievernuf met ʼn prettige Lego-werkswinkel behoorlik getoets het.

Anéle du Plessis, inhoudvervaardiger en omroeper by Radio Helderberg 93.6 FM, het op haar beurt gesê die opleidingsessies is waardevol, maar dit is veral die bande wat ʼn mens bou by die seminaar wat vir haar van kardinale belang is.

“Dit is so lekker om met mense te gesels wat dieselfde uitdagings ervaar en om ook dan sommer uit te vind jy doen dalk nie so sleg as wat jy gedink het nie.”

Gerben van Niekerk, fasiliteerder van die Klankgolf-radioseminaar, en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het in 2012 besluit om ʼn daadwerklike bydrae in die bevordering en ondersteuning van Afrikaanse gemeenskapsradiostasies te lewer met die vervaardiging van inhoud en die jaarlikse seminaar vir die stasies.

Omdat die seminaar so gewild is en Maroela Media se netwerk van stasies wydverspreid is, word die Klankgolf-seminaar in Gauteng en die Kaap aangebied.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het gesê alhoewel die seminaar weens die pandemie vir twee jaar stil was, was dit allermins die geval by gemeenskapsradiostasies.

“Ons weet die radiostasies het meer as ooit ʼn verskil in die gemeenskap gemaak met noodverligtingsprojekte. Terwyl hulle self enorme finansiële en persoonlike druk ervaar het, het hierdie mense nie opgehou om hul stasies te gebruik om hoop te skep en ʼn verskil in gemeenskappe te maak nie.”

Juis daarom is die tema van vanjaar se seminaar “Die krag van gemeenskap”.

Lombaard stem ook saam dat die grootste waarde van dié seminaar in die netwerkgeleentheid lê.

“Mense van verskillende stasies kry die geleentheid om mekaar te ontmoet, idees uit te ruil, en saam oor oplossings vir uitdagings te gesels. Die seminaar bied dus ʼn geleentheid om verhoudings te bou, programme uit te ruil en raad by kenners in die veld te kry.”

Sy sê die radioseminaar sou nie vanjaar moontlik gewees het sonder die ondersteuning van die Dagbreek Trust nie.

“Afrikaanse radio is ʼn hartsaak vir die Dagbreek Trust en te danke aan hul ondersteuning kan ons daadwerklik ʼn bydrae tot die bevordering van gemeenskapsradio lewer.”

(Foto: Maroela Media)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.