Kansa-tee vanjaar gevier met denim, diamante

(Foto: Jill Wellington/Pexels)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se jaarlikse tee word weer vanjaar oudergewoonte in Pretoria aangebied.

Op 25 Oktober sal die gesogte geldinsamelingsgeleentheid weer poog om bewusmaking te kweek en geld in te samel vir slagoffers en hul geliefdes wat deur kanker geraak word.

Die Kansa-tee, met die tema Denim en Diamante, sal by die Heartfelt-arena aangebied word.

Anita Snyders, Kansa se nasionale volhoubaarheidsbestuurder, sê hulle is opgewonde oor vanjaar se geleentheid.

“Ons is so opgewonde om vir individue die geleentheid te bied om saam te kom kuier vir ʼn betekenisvolle doel. Gaste sal tydens ʼn elegante oggend bederf word met heerlike eetgoed en hartlike gesprekke terwyl hulle ʼn beduidende bydrae maak. Ek is gek oor vanjaar se tema en kan nie wag om die kreatiwiteit te sien wat dit gaan aanwakker nie.”

Met die vrygewige ondersteuning van Maroela Media, sal gaste ʼn warm en uitnodigende atmosfeer kan verwag. Die hart van die Kansa-tee lê in die kreatiwiteit en toewyding van die gashere en ‑vroue.

“Hulle het die kans om hulle eie stempel op die geleentheid af te druk – elke tafel sal ʼn unieke weerspieëling van die gasheer of ‑vrou se visie en interpretasie van die tema wees.

“Ons geleentheid bied ʼn uitsonderlike geleentheid vir sakeondernemings of vriende om aktief by te dra en Kansa se programme te ondersteun wat daarop gemik is om te verseker dat niemand ʼn kankerdiagnose op hul eie hoef te verwerk nie,” voeg Snyders by.

ʼn Tafel bestaan ​​uit tien sitplekke wat neerkom op ʼn totale skenking van R2 500 of R250 vir ʼn sitplek aan ʼn tafel.

Die Kansa-tee sluit verder ʼn kompetisie met beoordelaars in om erkenning te gee aan die kreatiwiteit en toewyding van die gasvroue en gashere.

Onafhanklike beoordelaars evalueer elke tafel op grond van ʼn stel kriteria en beoordeling vind die vorige aand op 24 Oktober plaas. ʼn Verskeidenheid van pryse vir die kreatiefste tafels kan in die verskillende kategorieë gewen word.

“Dit is vir Maroela Media ʼn groot voorreg om vanjaar die mediavennoot van die Kansa-tee te wees. Kanker is iets waarmee talle Maroela-lesers bekend is, en ons vertrou dat ons ondersteuning van die tee vir ons lesers sal wys dat ons daar is vir hulle, in goeie en in slegte tye,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

“Ons sien uit daarna om weer, soos verlede jaar, saam met ʼn paar van ons lesers by ons eie teetafel aan te sit tydens die Kansa-tee.”

  • Kontak vir Anita Snyders van Kansa by 012 329 3036 of 083 633 5798 vir meer inligting of om te registreer vir vanjaar se tee. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected] .

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.