Kinders word skermslim met gratis boeke

Foto ter illustrasie. (Foto: Mirkosajkov/Pixabay)

Kuberveiligheid is opnuut op die voorgrond geplaas met die skenking van 500 eksemplare van Rianette Leibowitz se boek, Maak jou kind skermslim, aan 120 skole landwyd.

Die verspreiding van dié boeke is om kennis oor aanlyn veiligheid in onderwys aan te moedig.

Leibowitz, kuberveiligheid- en digitale ouerskapkenner, en stigter van SaveTNet Cyber Safety, het hande met die internetdiensteverskaffer WonderNet gevat om dié reuseskenking moontlik te maak.

“Onderwysers het te kampe met die uitdagende invloed van sosiale media, aanlynspeletjies, die selfie-gedrewe kultuur van leerders en die impak wat dit op die generasie se skoolwerk het,” sê Leibowitz.

“Hulle het wel ook die geleentheid om gesprekke oor kuberveiligheid deel van hul lesse te maak en deur hierdie 120 skole kan ons meer as 60 000 leerders help om beheer te neem van hul digitale gewoontes.”

Met dié boek in klaskamers landwyd hoop hulle om gesprekke oor kuberveiligheid onder Suid-Afrikaanse tieners aan te wakker.

Daar word 50 temas in die boek bespreek, onder meer die bestuur van sosialemediarisiko’s, aanlyn speletjies, kuberboeliery, mensehandel en skermtyd.

Gareth Hughes, nasionale verkoopsbestuurder van WonderNet, is opgewonde oor die vooruitsig om soveel kinders by te staan deur die verspreiding van Leibowitz se boek.

“WonderNet het in 2021 met Rianette hande gevat toe ons die #CyberSmart Hub gestig het om inligting oor kuberveiligheid met ons kliënte en die breër gemeenskap te deel en hulle so te bemagtig,” sê Hughes.

“Saam met die aanbiedings wat Rianette by skole regoor Suid-Afrika gedoen het, wou ons graag ’n langtermynimpak bewerkstellig deur haar boek as handleiding beskikbaar te stel aan skole en só digitale geletterdheid te bevorder.”

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) hanteer die verspreiding van die boeke vir die projek.

“Samewerking is belangrik om digitale geletterdheid by skole aan te moedig en deur ons jarelange verhouding met Rianette en SaveTNet bring ons hierdie tipe voordele aan ons lede,” sê Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder by Fedsas se Sentrum vir Tegnologie.

Leibowitz wil graag ’n geslag van verantwoordelike digitale burgers kweek.

“Dit kan lei tot toekomstige geslagte met beter digitale gewoontes. Deur die samewerking met eendersdenkende vennote, voel ek optimisties oor die impak wat ons nou kan maak om die toekoms vir jong mense te verbeter,” sê Leibowitz.

  • Sakeondernemings en individue wat graag by die projek betrokke wil raak, kan ’n e-pos na [email protected]
  • Besoek die WonderNet #CyberSmart Hub hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.