Kirstenbosch kry verdiende eer

Die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad. (Foto: Facebook)

Die aanlyn reisagentskap Trip Advisor het die afgelope week ʼn Travellers Choice Best of the Best-toekenning aan Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad toegeken.

Kirstenbosch word plaaslik en internasionaal gereken as een van Kaapstad se Groot 6-reisbestemmings, ʼn bemarkingsamewerking van ses ikoniese toeriste-aantreklikhede in en om Kaapstad.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) se webwerf plaas dit dié gewilde Kaapse toeristebestemming onder die wêreld se 1% topbesienswaardighede.

“Ons is uiters geëerd om hierdie prys te ontvang. Dit verg harde werk en groot toewyding om die ervaring te handhaaf wat ons by Kirstenbosch bied,” sê Werner Voigt, kurator van Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin.

Die Travellers’ Choice Best of the Best-toekenning is die hoogste prestasie van uitnemendheid wat die reisbedryf toegeken word. Akkommodasie, bestemmings en ervarings wat in hierdie kategorie vereer word, word bepaal deur die aantal en gehalte van resensies wat die afgelope 12 maande op Trip Advisor verskyn het.

Volgens Voigt verskaf hierdie erkenning van besoekers bykomende aanmoediging vir die span om voort te bou op die gehalte kliëntediens wat hulle lewer.

Die V&A Waterfront, een van Kaapstad se bekendste toeristebestemmings, is ook al met die Travellers Choice Best of the Best-toekenning bekroon, en Travelers Choice-toekennings is al aan Groot Constantia, Kaappunt en die Tafelberg-kabelkar toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.