Koppieteefontein: Sonder konsertgangers is dit Dag Zero

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Dit was ’n Saterdagoggend, so drie weke gelede. Daar het ’n fris bui reën vroeg die vorige aand oor Helderberg uitgestort en oordat dit so láát donker word in die Kaap, kon ek die reën sien dans oor die hele Valsbaai. Die volgende oggend was Somerset-Wes nat en koel. Die lug was kraakvars, helderblou, asof iemand dit skoon gewas het.

Nie lank terug nie was ons grootste vrees die aanbreek van ’n Dag Zero in die Kaap. Die aanhoudende droogte, die krane wat gaan opdroog. Om te dink daar was werklik ’n Dag zero – ’n dag waarop daar net geen water meer sou oor wees vir huishoudelike gebruik nie.

’n Dag van niks meer nie…

Vir ’n oomblik dink ek terug aan daardie onseker tyd. In daardie stadium het ons nog in Pretoria gewoon, maar die droogte was elke dag in die nuus en die hele land het gebid vir reën en gehelp met waterbesparing – dit was ’n vreesaanjaende tyd in die Kaap. Ek is dankbaar dat die groot waterkrisis in die Kaap en Covid-19 nie op dieselfde tyd gekom het nie. Kan jy jouself indink, krisis op krisis.

Gedurende die inperking het ek al ’n hele paar Dag Zero’s sien aankom. Wat as die geld klaar is? Wat as die kos opgeëet is? Dis angswekkend. Dis wakkerlênagte. Dis rondrol. Baie min mense het ’n onuitputbare bron van geld. In tye van oorloë en siektes maak mense blikkieskos bymekaar, maar jy kan nie jou huis- en motorpaaiemente met blikkieskos betaal nie. Min mense het so baie reserwes en min mense het die visie om te spaar vir “eendag as…”.

Ná 2020 is soveel mense se lewe net holderstebolder.

Die enigste opsie is oorbegin, stukke optel, wonde lek en vorentoe kyk, maar oorbegin kom nie oornag nie. Dis ’n tydsame proses. En jy moet hope energie hê en geloof en… water! Dag Zero het ’n mens deur ’n totaal ander bril laat kyk na lopende water. Vandag, as ek sien dat water gemors word, kan ek dit aan my lyf voel. Dit ontstel my. Dit krap my om, dit maak my hartseer. Dag Zero het my geleer.

As ’n mens in die toekoms kon sien, wonder ek hoe anders jy die lewe sou aanpak. Dalk sou dinge wat jou pla, jou nie meer pla nie en dalk sal dít wat onbelangrik lyk, vir jou baie belangrik word… wie weet? Dalk sou ons geld en kos weggesit het vir die dag van môre en dalk sou ons water soos wyn hanteer het. Ek sê steeds elke dag vir myself dat die lewe verbygaan en dat elke verby-dag ’n dag is wat ek nooit weer kan terugkry nie… en tog is ’n mens nonchalant oor jou tyd, jou gesondheid, jou talente, jou kos. En jou water.

Soos wat ek my seuntjie by die tennisbane groet en terugry huis toe, hang die reëndruppels soos druiwetrosse aan die bome se blare. Hier en daar vang ’n druppel die son en weerkaats dit soos klein reënbogies in die lug. Goeiste, maar Somerset-Wes is mooi, dink ek.

Dis nog vroeg en daar is geen ander motors wat verbyjaag nie. Dis Saterdagoggend. Hier en daar sien jy iemand ’n venster oopmaak. Verder is dit net ek en my gedagtes, die reënbogies, die berge en sommer net ’n innerlike hartlike gevoel binne my. Dis kosbaar, want die laaste jaar was daar al baie Dag Zero’s wat my reënbogies gesteel het.

Feesgangers by die KKNK (Argieffoto: Verskaf)

Terwyl ek so half happy huis toe ry, heg my siel ’n gevoel van bekendheid aan hierdie oomblik en dit word ’n nostalgiese herinnering. My gedagtes swerf. Meteens vat die klam aarde my terug na ’n gevoel wat ek in Oudtshoorn by die KKNK ervaar het.

Al reën dit nie gewoonlik so baie in die Klein Karoo nie, is daar altyd een spesifieke dag waarop daar ’n donderstorm oor die KKNK uitbreek. Dan sous dit. Een jaar moes ek in die middel van my konsert stop weens ’n storm wat losgebars het. Vir ’n uur sit ons sonder krag en die water loop – orals! Dit was chaos. Geen Dag Zero in sig.

Die volgende oggend, seweuur, toe is dit al amper weer 30 ℃. Alles rondom my was kraakvars onder die oop, blou lug – presies soos vanoggend in Somerset-Wes.

My gedagtes sweef weer terug na die KKNK.

Die oggend ná die donderstorm van die vorige aand, moes ek ’n oggendkonsert om 11:00 doen. Ek staan vroeg op om ontbyt in die dorp te gaan eet sodat ek nie die konsert op ’n leë maag aanpak nie. En daardie dag, soos ek deur Oudtshoorn se strate stap op soek na die regte ontbytplekkie, het ek presies dieselfde gevoel gekry as vanoggend in Somerset-Wes.

Die lug is kraakvars. Ek ruik die vorige nag se reën. Ek ruik nat saagsels – absoluut fantasties. Die strate is nog doodstil. Net hier en daar word ’n feesganger wakker. In die teaters, skool en kerksale is akteurs, sangers en tegnici alreeds besig om klanktoetse te doen vir die dag se konserte. Stadig word die fees wakker. Reg vir nog ’n opwindende dag van kuns en kultuur en konserte.

Geen Dag Zero in die oog. Geen einde, net ’n nuwe dag, ’n nuwe begin.

Ek mis dit, besef ek skielik. Dis soos ’n groot hongerte, hier waar ek deur Somerset-Wes se strate ry… Ek ruik dit in die bome en ek voel dit in die pad.

‘n Volgepakte feesterrein by Aardklop 2019 was ‘n algemene gesig (Foto: Verskaf)

Net soos wat Dag Zero my geleer het om water te respekteer, so leer Covid-19 my van baie dinge. En nou weer oor die kunstefeeste.

Die bloeiplek van die kunste, die huis van my taal, die veilige vesting van my kultuur… dit alles was by ons kunstefeeste. Dis dáár waar ’n sanger sy nuwe liedjies uittoets. Dis dáár waar van die grootste dramastukke in Afrikaans lewe kry, waar kunstenaars hul skeppings, beelde en hul visie deel met die wêreld. Dit is dáár waar jy die mensdom met woorde kan verander. Dis by kunstefeeste waar ons legendes soos Anna-Mart van der Merwe en Sandra Prinsloo en Marius Weyers en Antoinette Kellerman op die verhoog sien sweet. Waar Amanda Strydom ons wegvoer na ’n ander plek. Waar Johannes Kerkorrel jaar ná jaar voor die klavier ingeskuif het.

Ek onthou hoe ek by die KKNK in 2002 my eerste konsert gedoen het – met 10 mense in die gehoor. Maar ek was daar, jonk en onervare, en ek kon my stories vertel. Ek onthou hoe ek gevoel het toe ek jare gelede vir Nicola Hanekom in die verhoogproduksie Altyd Jonker gesien het. Dit was soos om Ingrid Jonker in lewende lywe te sien. Ek onthou die tonele wat buitekant Oudtshoorn op Volstruisplase afgespeel het terwyl die son oor die Karoo sak. En hoe dit bitter vinnig krakend koud kan word. Ek onthou Dawid Minnaar in ’n toneelstuk…

Ek onthou hoe dit voel om voor 33 000 mense op die verhoog te staan by die Innibosfees en ’n Kos en Musiek-konsert te doen saam met Niel Stemmet (wat oorlede is aan Covid-19). Ek onthou my spanning saam met Liz Meiring in Die Sjokolade Show.

Ek onthou Bloemfontein se koue en alles in die André Huguenot-teater. Die stalletjies. Die pannekoek in Nelspruit, vir Stef Bos by Aardklop en vir Antjie Krog by die Woordfees in Stellenbosch. Ek kan ’n boek skryf oor my herinneringe aan kunstefeeste. Jaar ná jaar was ek daar. Ek het gesing, ek het geleer, ek het gekyk. Ek het deelgeword van ons kultuur. Ek het ’n volronde, Suid-Afrikaner geword. Afrikaans het onlosmaakbaar deel geword van my siel. Ek onthou al die mense, die restaurante, die skole en die kerke… ons het feesgevier! Geen Dag Zero op die horison.

Jak de Priester in 2017 by die KKNK. (Foto: Verskaf)

Ek stop by ons huis nadat ek my kind by die tennis afgelaai het, klim uit die motor. Ek wil nie nou al die gevoel wat ek ervaar, laat gaan nie. Ek voel nostalgies, stap terug deur die hek, loop in die straat af. Ek sien ’n eekhoring. Ek is mal oor eekhorings.

Ek weet dat as ons verby Dag Zero kan kom, sal ons weer teater toe kan gaan. Ek glo dit en ek bid dat die mense weer in hul menigtes sal opdaag, dat die sale vol sal wees, die dramas nog voor die fees uitverkoop sal wees. Ek droom van ekstra konserte wat beplan moet word en dat die borge steeds sal borg. Dat die stalletjie-eienaars sal oorleef en die pannekoeke lekker soet opgerol lê in die grys waspapier. Ek hoop ons sal kan aangaan waar ons moes ophou!

Ek stap ver deur Somerset-Wes se strate. Ek geniet die nuwe dag, die son wat helder skyn. Dis warm. Ek stap verder en verder weg van ons huis af. Dis so bitter mooi hier in Somerset-Wes. Ek neurie ’n liedjie in my kop, maar ek is steeds in Oudtshoorn en Nelspruit en Bloemfontein en Potchefstroom en Stellenbosch. Ek koop ’n volstruissosatie met my gedagtes en later ’n koedoeburger met my hart, dan gaan staan ek stil… in ’n denkbeeldige ry. Ek gaan Laurika Rauch sien. Live. En dan vir Pieter-Dirk Uys in ’n toneelstuk. En daarna gaan ek die kunsuitstalling van Diek Grobler besigtig.

Die eekhoring hardloop voor my voete verby en bring my terug na Somerset Wes. Dis asemrowend. Het ek dit al gesê? Ek dink ek moet ’n nuwe liedjie skryf… oor ’n eekhoring in Somerset-Wes. As mens in die toekoms kon sien, sou ’n mens ook akkers wegbêre vir die wintertye, vir die swaar tye, sodat jy die Dag Zero’s kan oorleef.

(Argieffoto: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees/Facebook)

Maar vir nou, as ons net vasbyt – hopelik een van die dae met ’n bietjie geluk en ’n masker, ’n storie en ’n liedjie – sal ons die Covid-19 kan trotseer en gaan ons weer die tente opslaan en die ligte hang. Maar ons sal almal moet hande vat! Simbolies gesproke, natuurlik.

Ek voel meteens skoon opgewonde. Dis dalk die innerlike happy-gevoel wat ek vanoggend beleef. Ek stap met nuwe moed terug huis toe. Ek gaan my vere afstof vir Oudtshoorn en dan gaan ek my nuwe liedjie skryf…

Want een van die dae sing ek dit – uit volle bors. Soos die eerste keer!

Dus, vandag drink ek ’n koppie tee op elke kunstefees wat deur die jare ons taal en kultuur in sy arms vasgehou het. Op elke dorp wat die feesgangers ingelaat het. Op elke teater of saal wat die stories gehuisves het, elke lig wat ’n kollig gemaak het op ’n kunstenaar, elke stalletjie-eienaar wat ’n vibe geskep het en elke feesorganiseerder wat sy/haar bes gegee het vir kuns en kultuur in Suid-Afrika.

En laaste, maar definitief nie die minste nie. Inteendeel. Ek drink ’n sterk koppie tee op elke feesganger wat ’n kaartjie gekoop het en in ’n ry staan om ’n konsert te sien.

Sonder julle is dit beslis Dag Zero!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.