Kosbare Afrikaner-gedenkwaardighede veilig in museumstoor

Petra Luus, kurator van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting se museumstoor. (Foto: Verskaf)

ʼn Voortrekkerkappie, rysrantsoen, assegaaie en selfs ʼn ou Singer-naaimasjien. Dít is van die meer as 2 000 erfenisskatte wat tans in die Voortrekkermonument en Erfenisstigting se museumstoor bewaar word.

Sedert die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938 is daar al erfenisskatte aan die monument geskenk.

“Moet egter nie geflous word nie, daar is stukke veel ouer as dít in die stoor,” sê Petra Luus, kurator van die museum.

Oor die jare is skenkings van lede van die publiek ontvang wat uit die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog dateer, asook memorabilia van die Simboliese Ossewatrek van 1938 en inwyding van die Voortrekkermonument in 1949.

Bruikleenooreenkomste wat met ander museums en organisasies aangegaan is, dra daartoe by dat die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument ʼn tuiste van geskiedenis en erfenisbewaring is.

Luus vertel dat ʼn besondere kappie uit die Groot Trek een van die erfenisskatte is wat hier bewaar word.

“Dit is in 2010 aan ons geskenk. Die kappie het ʼn gat met ʼn bloedvlek en dit het aan die skenker se ouma behoort,” verduidelik sy.

Volgens Luus is dit ʼn bewys van die wrede gebeure tydens die Groot Trek en sy voeg by: “As hierdie kappie kon praat, wonder ʼn mens wat die verhaal sou wees wat dit sou vertel.”

Daar is ook ʼn versameling wapens soos assegaaie wat volgens die museum se bronne in die Slag van Bloedrivier gebruik is.

Petra Luus, kurator van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting se museumstoor, met van die wapens wat daar bewaar word. (Foto: Verskaf)

“Hier is ook ʼn groot aantal gewere wat in die museum bewaar word. Die twee oudste gewere is 1860-voorlaaiers en dan is hier ook gewere wat in die Anglo-Boereoorlog-tydperk gebruik is,” sê Luus.

Sy vertel verder dat ou koeëls wat op die Bloedrivier-terrein ontdek is, ook in hul besit is.

“Dit is natuurlik aandenkings soos dié wat ʼn mens absoluut sprakeloos laat. Dit is soos om te beskryf wat jou emosies was toe jy die eerste keer by die Bloedrivier-erfenisterrein se laer gaan staan het. Jy wéét dit is belangrik en dat dit deel was van ʼn baie historiese gebeurtenis.”

Nog ʼn voorwerp uit die tydperk van die Anglo-Boereoorlog is ʼn rysrantsoen wat uit Pietermaritzburg se konsentrasiekamp kom. Dié klein sakkie moes deur ʼn moeder en haar kinders gedeel word. Luus sê dit was blykbaar die daaglikse rantsoen vir rys en daar is iets hierin te lees oor die haglike omstandighede in destyds se konsentrasiekampe.

ʼn Singer-naaimasjien, waarmee klere in ʼn konsentrasiekamp gemaak is, is in 2011 aan die museum geskenk. Volgens Luus kon die skenker darem heelwat inligting oor dié voorwerp verskaf.

“Die vrou wat hierdie masjien besit het, is in Januarie 1901 naby Elandskuil deur die Britte gevang en sy en haar kinders is na ʼn konsentrasiekamp geneem.

“Hier het sy nie net klere vir haar kinders gemaak nie, maar ook vir ander mense in ruil vir kos. Die voorwerp is van besondere waarde omdat dit die rol van die vrou vertel. Dit vertel ʼn storie van die vrou se deursettingsvermoë om vir haar kinders te kan sorg,” vertel Luus.

Die jongste aandenking wat pas aan die museum geskenk is, is ʼn doopmantel wat Cornelis Wilhelmus Erasmus in 1886 gedra het. In 1911 is dieselfde doopmantel deur sy seun gedra.

Die museumstoor is nie oop vir lede van die publiek nie, maar dit word wel deur akademici besoek wat navorsing oor die Afrikaner se geskiedenis doen.

“Die navorsing word verwelkom en is natuurlik van onskatbare waarde vir die voortbestaan van ons erfenis,” sê Luus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Esme ·

Mag ek, as ‘n lid van die publiek, die stoor besoek? Dit is uitsluitlik vir navorsings doeleindes – my navrosingswerk is beskikbaar maar ek benodig foto’s en baie, baie meer inligting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.