Kreatiewe Karookinders beïndruk met pophuisprojek

Ouers en onderwysers saam met van die junior wenners van die pophuisprojek. (Foto: Verskaf)

Skoolkinders van Beaufort-Wes het die afgelope twee maande hul hande besig gehou met ʼn unieke pophuisbouprojek wat nie net skoolbywoning aangemoedig het nie, maar ook die kreatiwiteit én sakevernuf van dié Karoodorp se kleingoed ontwaak het.

Sarita du Toit, ʼn bedryfsielkundige en voormalige inwoner, en haar vriend, Jacques Myburgh, het die projek begin nadat sy teruggekeer het na haar tuisdorp om haar nagraadse hoëronderwysdiploma te voltooi.

Sy sê die projek was ʼn gebedsaak wat gebore is uit die besef van die swaarkry onder veral baie skoolgaande leerders.

“Ek was lank weg uit die dorp en was geskok om te sien hoe dinge by skole gaan in terme van bywoning. Ek glo sterk in bemagtiging en samehorigheid onder gemeenskappe, en terselfdertyd wou ek kinders aanmoedig om hul kreatiwiteit te ontdek en hul skoolvaardighede soos wiskunde op ʼn praktiese manier aan te wend.”

Leerders tussen gr. 4 en 12 is toe uitgedaag om ʼn werkbare pophuis uit slegs herwonne materiaal te skep. Hulle is dan die geleentheid gebied om dit uit te stal en selfs te verkoop.

Volgens Sarita het die deelname en kreatiwiteit onder leerders nie teleurgestel nie.

“Ons het soveel oulike staaltjies by die onderwysers gehoor van hoe die leerders hul ouers en sibbe by die projek betrek het. Die haarfyn besonderhede van die meubels, soos die klein kontinentale kussinkies wat party kinders gemaak het, was regtig oulik.”

Veral die entrepreneuriese gees wat onder leerders gekweek is, was volgens Sarita ʼn hoogtepunt.

“Kinders het besef hulle hoef nie te wag vir iets om vir hulle gegee te word nie. Hulle kon iets met hulle eie hande skep en dalk ʼn geldjie daarvoor kry – iets wat hulle nooit vantevore sou doen nie.

“Baie van hierdie kinders ken ook net armoede of sukkelende omstandighede. Ons wil hê hulle moet weet hulle kan droom en boonop beloon word vir hul harde werk.”

Breër gemeenskapsbetrokkenheid het volgens Sarita gesorg dat die projek groter geword het as verwag, met plaaslike besighede wat pryse vir wenners in die verskillende ouderdomsgroepe geborg het.

Lede van die publiek besoek die uitstalling in die museum. (Foto: Verskaf)

Pryse is vir eerste, tweede en derde plek uitgedeel, en het onder meer geskenkbewyse, mooimaaksessies vir leerders se kamers en loopbaanontwikkelingsessies ingesluit.

Ook Wil-Chea Verwey van die Beaufort-Wes Museum het hand bygesit en ruimte beskikbaar gestel waar die pragpophuise uitgestal kon word – met planne om dit verder as ʼn jaarlikse instelling te help vestig.

(Foto: Verskaf)

Sowat sewe skole het deelgeneem en nagenoeg 38 pophuise is op die ou einde voltooi. Hulle word tans in dié museum in Donkinstraat, langs die Chris Barnard Museum, uitgestal oor die vakansietyd.

“Vakansiegangers kan ook van die pophuise bespreek om te koop vir hulself, kinders, kleinkinders, of te skenk vir ʼn projek gemik op kinders, byvoorbeeld ʼn plek van veiligheid of die polisie se trauma-eenheid,” vertel Sarita.

Só sê die wenners

Ashwill Nortje, ‘n gr. 10-leerder van Beaufort-Wes Sekondêre Skool, het derde plek gewen in die kategorie vir hoërskole. Hy bou al sedert 12-jarige ouderdom af self stroombane met battery, ligte en skakelaars vir sy huisgesin wanneer daar beurtkrag is.

Hy bieg dat sy taalvaardighede nie noodwendig van formaat is nie, maar dat sy hande nie skroom om te werk nie. Daarom vaar hy goed in ingenieursgrafika-ontwerp en het selfs ʼn vaktoekenning daarvoor gekry.

Ashwill sê hy het ingeskryf vir die kompetisie omdat hy glo ʼn mens geleenthede moet aangryp. Hy wil graag eendag ʼn ketelmaker word.

Vier laerskoolmaats, Merilee Kammies, Elzane Johannes, Jacquelyn Farland en Vanita Daniels, oftewel die “Supergirls 999”, wat saam die pophuisprojek aangepak het, het tweede plek in die laerskoolkategorie losgeslaan.

Die meisies sê hulle het hard gebid om te wen en “omtrent niks geslaap nie”.

Die beoordelaars was veral beïndruk met hul pophuis se gordyntjies, wat met roomysstokkies en stukkies materiaal gemaak is.

Volgens die groepie het hul ander skoolmaats tou opgegooi, maar hulle was vasbeslote om hul pophuis te voltooi. Dié vierstuks is vuur en vlam om volgende jaar wéér in te skryf.

  • Diegene wat daarin belangstel om ‘n pophuis te koop, kan ‘n e-pos stuur na Jacques Myburgh by [email protected] of die museum se Facebook-blad besoek vir verdere inligting. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

Knap gedaan Beaufort-Wes, wat ‘n mooi “goed voel” storie en posetiewe energie vir jong mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.