Laerskoolmeisie wil stigma oor menstruasie hokslaan

Caylene en haar ouma het 85 sakkies gemaak. (Foto: Verskaf)

Menstruasie is steeds vir baie meisies ʼn ongemaklike of taboe onderwerp, maar die 11-jarige Caylene Beck van Springs het besluit om die stigma oor die onderwerp by haar skool te takel.

Dié gr. 6-leerder van Laerskool Jan van Riebeeck het verlede jaar haar sakgeld gespaar en aan die begin van die nuwe skooljaar vir elke meisie in haar graad ʼn spesiale handgemaakte sakkie gegee waarin hulle hul sanitêre doekies kan bêre.

Elke sakkie het ook twee sanitêre doekies daarin gehad.

“Sy het gesien hoe twee meisies in haar skool baklei en die een die ander se sanitêre doekies uit haar skooltas pluk en vir al die maats wys. Dit het haar verskriklik ontstel om te sien hoe skaam die meisie gekry het en hoe almal gelag het. Sy wou graag iets doen om te help,” vertel Carlien Beck, Caylene se ma.

Caylene het haar sakgeld gebruik om lap te koop en by haar ouma, Lizelle Crous, aangeklop om haar met die maak van die sakkies te help. Hulle het saam 85 sakkies gemaak waarop die woord “goetertjies” geborduur is.

Elke sakkie het ook twee sanitêre doekies daarin gehad. (Foto: Verskaf)

“Die idee was dat dit net soos ʼn gewone sakkie moet lyk waarin meisies hulle geld of lipsalf sal sit,” verduidelik Carien.

Sy sê die Beck-gesin gesels oop en eerlik oor grootword-onderwerpe soos menstruasie.

“Ons het dit baie mooi met Caylene bespreek en vir haar verduidelik hoewel dit ʼn persoonlike saak is, dat sy nooit skaam daaroor moet voel nie. Dit is ʼn natuurlike ding en gebeur met byna elke tweede mens op aarde.”

Volgens Carlien was haar dogter nog altyd ruimhartig. “Dit maak my trots dat sy self inisiatief geneem en boonop haar sakgeld gebruik het om ander te probeer help.”

Caylene en kleinboet Clayton moet met huistake soos skottelgoed help om hul sakgeld te verdien, maar Carlien sê tergend dat haar dogter se toekomsplanne en begroting nie meer ooreenstem nie.

“Haar doelwit is om eers vir elke senior meisie in die laerskool ʼn ‘goetertjie’-sakkie te gee en dan wil sy sommer almal in Springs help. Ek het gesê ons gaan êrens remme moet aanslaan en vir borge soek, want haar hart is heelwat groter as haar begroting.”

Sy sê Caylene se inisiatief is goed deur die skool en ouers ontvang.

Die Beck-gesin. (Foto: Verskaf)

“Van die ma’s het selfs boodskappe en foto’s gestuur van hulle dogters met hulle sakkies. Dis ʼn baie klein gebaar, maar mens besef nie altyd hoe sensitief of moeilik dié onderwerp vir party meisies is nie.”

Menstruasie landwyd ʼn uitdaging

Navorsing van Solidariteit Helpende Hand se #HelpHetta-inisiatief toon dat sowat 3 000 skoolgaande meisies se lewens elke maand vir sowat vyf dae tot stilstand kom omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie.

Verdere navorsing dui ook daarop dat 52% van Afrikaanse enkelmediumskole ʼn behoefte aan sanitêre ware het en dat weens ʼn gebrek aan kennis, slegs 10% van meisies dit as deel van ʼn natuurlike proses sien wat hulle in staat stel om kinders te verwek.

Dié projek versprei op ’n kwartaallikse basis sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëneprodukte aan hierdie meisies en bied ook inligtingsessies aan om meisies beter daaroor in te lig.

Vir meer inligting besoek www.helpendehand.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nici ·

Baie oulike idee met haar hart op die regte plek. Solank dit nie gegee word soos ander ‘weldoenners’ in ‘n onlangse artikel in Paarl Post wat meisies by ‘n skool met hul klas menere en die doekies moes pose vir die kamera nie. Dignity, privaatheid en respek is nodig. Welgedoen.

Ann ·

Ek dink dis wonderlik wat sy doen. Dit wat met die ander meisie gebeur het is ‘n verleentheid. Kinders gee nie om hoe hulle ander seermaak nie. Iets soortgelyks het byna ook met my gebeur toe ek nog in die laerskool was. ‘n Prefek wou my sanitêre doekies onderskep sonder dat hy geweet het wat dit eens was. Gelukkig kon ek keer, maar dit kon anders uitgedraai het. Ek was maar ‘n eenkant-kind, en was ook ‘n slagoffer van boelie.
Ek sal baie graag ook die inisiatief wil doen vir plattelandse skole, veral daar waar ouers nie kan bekostig om sanitêre ware te koop nie. Dit bly maar duur, veral as daar nie geld is nie.
En diegene wat kla – wees eerder dankbaar dat julle nie in so ‘n situasie is nie.

Racheltjie Debeer ·

Kragaap, jy het duidelik GEEN idee wat sanitêre doekies kos nie! Soos Chantel sê, hou jou vieslike kommentaar vir jouself as jy geen benul het waarvan jy praat nie. Nie almal het geld soos bossies nie.

Racheltjie Debeer ·

Caylene, jy is ‘n heldin. Doen so voort. As oud-Jannies ouer is ek super trots op jou!

Katjie ·

Caylene, jy is ‘n held vir baie meisies. Almal soek altyd ‘n sakkie wat nie so ooglopend “wys” dat dit “die” tyd van die maand is nie. Ek het my seun en dogter van vroeg af geleer van menstruasie en veral vir my seun sodat hy nie soos ander seuns die meisies spot nie. Die meisies in sy klas het gou agtergekom hy kan optel as hulle mekaar se aandag probeer kry en doekies soek. Hy het dan op ‘n baie diplomatiese manier, sonder dat iemand anders in die klas kon agterkom, die meisies bymekaar gebring. Menstruasie is niks om oor skaam te wees nie. Dit is wat ons as meisies/vrouens onderskei van die manlike geslag. Die sakkies is werklik ‘n oulike idee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.