Lank lewe ‘HAT Aanlyn’

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). (Foto: Maroela Media)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het pas bekendgemaak dat Pearson ingestem het om die e-weergawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) weer te laat herleef.

Toe Pearson SA verlede jaar aangekondig het dat dié woordeboek se aanlyn weergawe, oftewel HAT Aanlyn, asook die HAT Taal-en-feitegids en HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, in Augustus 2022 tot ʼn einde kom, was dit ʼn spreekwoordelike doodsklok wat vir Afrikaans gelui het.

Nou kyk, as daar een ding is wat ʼn mens nie uit die oog moet verloor nie, dan is dit die lewenskragtigheid van Afrikaansgebruikers.

“Dit was ongetwyfeld ʼn spanpoging wat dié wa deur die drif getrek het,” sê Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA Afrikaans.

Volgens Coetzee het verskeie rolspelers in die Afrikaanse taalgemeenskap hande gevat om Pearson van plan te laat verander. “Dit was wonderlik om deel van hierdie projek te wees en te sien hoe organisasies met dieselfde doel voor oë saamstaan en saamwerk.”

Vandag, ook Internasionale Moedertaaldag, is dus nie net ʼn viering van Afrikaans nie, maar as’t ware ook ʼn viering van een van dié taal se lewensare.

“VivA betuig sy dankbaarheid teenoor die uitgewer en al die ander organisasies en maatskappye wat vir Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap in die bresse getree het.

“Ons hoop is dat die taalgemeenskap die werk wat gedoen is om die bron te skep en aan die lewe te hou, sal ondersteun deur kwistig van die bron gebruik te maak,” lui ʼn verklaring wat deur VivA uitgereik is.

Die eHAT sal voortaan weer in VivA se Woordeboekportaal beskikbaar wees. Gebruikers kan toegang tot die bron verkry deur in VivA se winkel op die bron in te teken en dan op VivA se webblad of in VivA se aanlyn slimfoontoepassing, VivA-app (Aanlyn), met die soekfunksie die inskrywings in die eHAT op te spoor.

Dit is vir skole ook moontlik om ʼn skoollisensie vir die bron te bekom. So ʼn lisensie beloop R9 000 per jaar, en dit verskaf onbeperkte toegang tot die bron vir elke lid van die skoolgemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SlinkseKoljander ·

Ongelukkig is baie van die woorde weg gevat deur die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.