Lichtenburg se lappiesboom is hart van gemeenskap

Links: Van die komberse wat deur die Lichtenburg-gemeenskap gebrei is.
Regs: Minnie le Roux en Madi Duvenhage. (Foto’s: verskaf)

Ten spyte van die swaarkry, uitdagings en weke sonder elektrisiteit, skroom die Lichtenburg-gemeenskap nie om self hoop te midde van donker en onsekerheid te skep nie.

Toe Nadi Duvenhage, ʼn inwoner van die dorp in Noordwes, verlede jaar in Wellington gaan draai het vir vakansie, het dié Wes-Kaapse dorpie se gehekelde Kersboom haar bygebly. Sy het net daar en dan besluit dat dié boom iets is wat Lichtenburg ook behoort te hê.

“Hulle boom was 10 meter hoog, ons het hulle uitgedaag en gesê dat ons een van 12 meter in Lichtenburg gaan oprig dié feesseisoen,” vertel Nadi aan Maroela Media. Dié boom het vinnig in ʼn heerlike gemeenskapsprojek ontaard.

Nadi se pad met gemeenskap- en liefdadigheidswerk het 25 jaar gelede begin toe sy saam met nog ʼn inwoner, Minnie le Roux, ʼn nie-winsgerigte organisasie, Mevrou Elegant, van stapel gestuur het.

“Ons gee nie net ʼn blikkie kos nie, ons leer mense hoe om daardie blikkie kos te rek. Ons fokus nie net op ontvang nie, ons leer mense ook hoe om te deel.”

Sedert die organisasie se ontstaan jare gelede, het Mevrou Elegant ʼn baken van hoop in Lichtenburg geword. Daar word nagenoeg 200 plaaslike gesinne deur die organisasie ondersteun, met sowat 120 vroue wat aktief aan Mevrou Elegant se projekte deelneem. Saam hou dié groep vroue weeklikse byeenkomste waar hulle aan nuwe projekte werk, nuwe vaardighede aanleer, mekaar se lief en leed deel, en Godsdiens beoefen.

“Die vroue geniet dit ongelooflik baie. Ons probeer mense inspireer en stel hul menswaardigheid hoog op prys.”

Wellington se “boom van hoop”. Dié kersboom is 10 m hoog en bestaan uit meer as 3 000 gehekelde lappies. (Foto: Carin Furness)

Dit is juis dié flukse vroue wat die grondslag van Mevrou Elegant se jongste projek, ʼn lappieskombers-Kersboom, gevorm het. Saam het hulle al honderde blokke gebrei en gehekel, soveel so, dat die organisasie lankal reeds genoeg blokke bymekaargemaak het om die Kersboom te bedek.

Die gemeenskap skroom egter nie om saam te werk nie, en vir harde werk, skrik hulle nog minder. Die blokke vloei steeds in, sê Nadi en Minnie, en met die bykomende blokke is daar reeds komberse aanmekaargestik wat later aan ʼn plaaslike kinderhuis geskenk sal word. Die blokke wat wel op die Kersboom gaan pryk, sal ook vir komberse aanmekaargewerk word. Daar sal uiteindelik sowat 120 komberse geskenk kan word.

Die 12 meter lange lappiesboom sal op 24 November, tydens die dorp se jaarlikse Kersfees-aandmark by die Lichtenburg Klipkerk-gemeente, bekendgestel word.

“Ons het juis gekies om die boom ʼn lappiesboom van liefde te noem om ons dorp op te hef. Ons mense staan saam,” sê Nadi.

“Die Here is agter ons, saam bid ons dat Hy mense se harte en hande opnuut sal oopmaak.”

  • Indien jy graag ʼn bydrae tot Lichtenburg se lappiesboom van liefde-projek wil lewer, tree in verbinding met Nadi Duvenhage by 082 774 0133 of Minnie le Roux by 076 692 5814.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.