Liefdadigheidswinkels herdenk mylpaal met ‘Dade van Hoop’

(Foto verskaf deur Ons Winkels)

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel-skenkingswinkels het vanjaar weer ʼn groot mylpaal met sy Dade van Hoop-projek herdenk.

“Die 100ste Ons Winkel is op 28 Julie 2021 in Hermanus geopen en dit is vir Helpende Hand ʼn onvergeetlike datum,” sê Marné du Plessis, bemarkingshoof van die Ons Winkels. “Die 100 Dade van Hoop-projek is toe van stapel gestuur waar die winkels, bo en behalwe hul normale opheffingswerk, iets besonders in hul onderskeie gemeenskappe kon doen om die geleentheid te vier. Soos wat ons gegroei het, so het die Dade van Hoop-projek ook uitgebrei.”

Helpende Hand se eerste Ons Winkel het in 2010 sy deure in Centurion geopen. Hierdie winkel bestaan vandag nog. Vanaf 2010 tot 2023, het die Ons Winkels tot 125 winkels gegroei. Hierdie winkels is elkeen uniek, lyk verskillend en verkoop uiteenlopende items.

“Vanjaar het ons Dade van Hoop by al 125 Ons Winkels landwyd gevier. Elke winkeleienaar is versoek om ʼn item uit hul winkels as geskenk vir iemand in hul gemeenskap te gee en só iemand se lewe op te kikker.”

Du Plessis sê daar is van beddegoed, wintersklere, ʼn loopraam, materiaal vir ʼn jong man se opkomende besigheid, en kussings vir ʼn diereskut in die gemeenskappe teruggeploeg. ʼn Meisie is ook met ʼn matriekafskeidsrok bederf en ʼn vrou wat aan ʼn skoonheidskompetisie gaan deelneem, het ook ʼn spoggerige rok vir die geleentheid ontvang. Een van die winkels het selfs melktert en tee aangebied aan die bejaarde persone wat dié dag hul winkel besoek het.

“By een van die Ons Winkels was daar groot blydskap oor ʼn paar splinternuwe skoolskoene vir ʼn hulpbehoewende laerskoolleerling. ʼn Ander Ons Winkel het vir groot vreugde by ʼn plaaslike tehuis gesorg toe hulle bederfpakkies daar uitgedeel het,” sê Du Plessis.

By ʼn Ons Winkel in die Vrystaat het daar ʼn vrou ingestap wat by ʼn Christelike sentrum vir kinders van alle ouderdomme werk. Die vrou het reguit na die boeke gestap en ʼn hele stapel Bybels uitgehaal en na die betaalpunt geneem. Die winkeleienaar het die vrou daaroor uitgevra en sy het vertel wat sy doen. Sy het gesê sy het besef daar is ʼn groot tekort aan Bybels toe ʼn leerling haar gevra het of sy haar Bybel kan leen omdat sy nie een by die huis het nie. Die vrou se doel voor oë is nou om Bybels bymekaar te maak en uit te deel sodat elke gesin in die gemeenskap uiteindelik ʼn Bybel sal hê waaruit hulle elke dag kan lees. Die winkeleienaar het die Bybels gratis aan die vrou gegee as hul daad van hoop.

“Dié wonderlike projek het ons weer opnuut laat besef dat ʼn klein gebaar vir ʼn ander persoon baie kan beteken. Jy weet nie waardeur daardie persoon op die oomblik deur gaan in sy of haar lewe nie. So ʼn gebaar kan iemand opnuut weer nuwe hoop gee al is dit net ʼn bietjie. Is dit nie wonderlik om te weet dat daar meer as 125 persone reg oor die land is wat deur die projek geraak is nie?” sê Du Plessis.

Die Ons Winkels hoop om in die toekoms die Dade van hoop-projek nog meer uit te brei.

Besoek gerus www.onswinkel.co.za om die naaste Ons Winkel aan jou op te spoor. Besoek ook hul Facebook-blad by Ons Winkel – Helpende Hand vir meer inligting.

  • Helpende Hand se Ons Winkels is ʼn sentrale punt waar die publiek enige tweedehandse items, waarvoor hul nie meer ʼn nut het nie, kan skenk. Die goedere word dan verkoop en die opbrengste word deur Helpende Hand vir verskeie doeleindes aangewend om voorspoed in Afrikaanse gemeenskappe te verseker. Honderde Afrikaanse studente word ook gehelp om aan ʼn geakkrediteerde tersiêre instelling te gaan studeer. Die winkels skep ook werk en maak boonop maatskaplike hulp in gemeenskappe beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.