Ma skenk nier aan brandbestryder wat haar 1-jarige red

Becca Bundy en Bill Cox. (Foto's: Facebook)

Becca Bundy en Bill Cox. (Foto’s: Facebook)

Toe Becca Bundy, ʼn vrou van Minnesota in die VSA, se eenjarige dogtertjie in 2016 tuis ʼn stuipetoeval kry, kon ʼn vrywillige brandbestryder, Bill Cox, daarin slaag om haar lewe te red. Twee jaar later het Bundy weer Cox se lewe gered deur ʼn nier aan hom te skenk.

Cox het vir sowat ses jaar as vrywillige brandbestryder by die Bearville-vrywilligersbrandweerstasie in die noorde van Minnesota gewerk. Hy het in Augustus 2016 die oproep ontvang om Bundy se dogter, Hadley, te hulp te snel.

Danksy Cox se vinnige optrede is klein Hadley se lewe gered en Bundy het nooit dié goedhartige brandbestryder vergeet nie.

Bundy en Cox het mekaar toevallig weer in 2018 by ʼn kroeg in Cook, Minnesota, raakgeloop. Cox was toe reeds die afgelope 16 jaar ʼn werknemer by die Viking Bar.

Bundy het die man agter die kroegtoonbank, geklee in sy heldergroen T-hemp met die woorde, ‘My Name is Bill. I’m in end stage kidney failure and in need of a kidney’, dadelik herken as die man wat twee jaar tevore haar dogter se lewe gered het.

Cox, wat met een nier gebore is en sedert Januarie 2017 dialisebehandeling moes ontvang vir nierversaking, het twee van dié hemde gemaak en dit bykans daagliks werk toe gedra.

Bundy en Cox, wat reeds sedert 2017 op die oorplantingswaglys was, het ná ʼn lang gesprek besef hulle het dieselfde bloedgroep. “Dit is waar dié reis vir ons twee saam begin het,” het Bundy aan CNN gesê.

Een van die hemde wat Bill Cox daagliks werk toe gedra het. (Foto: Facebook via Bill Cox)

Een van die hemde wat Bill Cox daagliks werk toe gedra het. (Foto: Facebook via Bill Cox)

Dr. Raja Kandaswamy, direkteur van die nier-en-pankreasoorplantingsprogram by die University of Minnesota Health, het gesê meer as 100 000 mense wag vir ʼn nuwe nier en dié lys groei jaarliks. Volgens Kandaswamy is daar ʼn groot behoefte aan skenkers.

“Daar was ʼn dringendheid vir hom om ʼn lewende skenker te vind, aangesien die wagperiode vir ʼn orgaan om van ʼn afgestorwe persoon te kom minstens vyf tot sewe jaar in Minnesota kan wees. ʼn 66-jarige vaar nie goed met langtermyn-dialise nie. Die kans om te sterf is baie hoër hoe langer die pasiënt die dialisebehandeling ontvang,” het hy gesê.

Kandaswamy en sy span by die University of Minnesota Medical Center het die oorplanting laat in Februarie vanjaar uitgevoer. “Bill het sedertdien nog nie teruggekyk nie. Hy het fantastiese energievlakke, doen weer houtwerk en is weer terug op sy pos as vrywillige brandbestryder.”

Die proses het Bundy en Cox se families byeengebring. “Ons gesels op ʼn gereelde grondslag en doen ons bes om so gereeld moontlik te kuier,” het Bundy gesê.

Voor die operasie het Cox vir Bundy ʼn engel uit hout gekerf en dit in haar gunstelingkleur geverf. “Sy is my engel. Sy het my lewe gered en ek het gedink dit sal ʼn gepaste geskenk vir haar wees,” het hy gesê.

Bronne: CNN, Metro.co.uk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

lh ·

Wat ‘n pragtige verhaal van onbaatsugtigheid. . . Becca Bundy, jy is ‘n engel! wat ‘n ander engel se lewensvreugde teruggebring het!

Gesiggie ·

Sjoe… voorwaar n mooi verhaal, twee Engele wat op mekaar se pad geplaas is met n doel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.