Abriella Indigo Bredell (11) het in Desember verlede jaar die jongste mens ter wêreld geword om die 8 km tussen Bloubergstrand en Robbeneiland te swem en suksesvol te voltooi.
Maroela Media het vroeër berig dat Bredell, ʼn leerder aan die Victory Christian School in Jeffreysbaai, iets besonders vir haarself en die kinders van die Rooikruis-kinderhospitaal wou doen. Bredell het toe besluit om dié oopsee-swem aan te durf ten einde geld vir die Rooikruis-kinderhospitaal in te samel.
Bredell het Maandag ʼn tjek van R158 746 aan die waakeenheid van die Rooikruis-kinderhospitaal oorhandig. Dié geld gaan gebruik word om die eenheid uit te brei en op te gradeer.
“Om ’n kind in die waakeenheid te hê is ʼn vreesaanjaende ervaring vir enige familie, so om dié omgewing te bevorder tot die bes moontlike standaard is van sleutelbelang,” het Chantel Cooper, hoof van geldinsameling by die Rooikruis-kinderhospitaaltrust, gesê.
Cooper het gesê dié geld sal gebruik word om die waakeenheid van ʼn 22-bed- na ʼn 39-bed-eenheid, met ʼn 10-bed-hoësorgeenheid en 8 geïsoleerde afskortingseenhede vir babas te verander.
“Verder sal die groot skenking ons ook toelaat om wêreldklas-toerusting aan te koop wat die gesondheidsorg van die kinders in die hospitaal sal verbeter. Dit sal ook die omgewing verbeter waarin die mediese personeel werk.”
Bredell was verheug om die geld aan die hospitaal te oorhandig. “Ek was só opgewonde! Ek het gevoel of ek heeltyd kan rondhardloop van opgewondenheid. Dit het gevoel of almal gelukkig was. Alles was net goed. Dit het vir my soveel gemoedsrus gegee,” het sy gesê.
“Abriella en al die mense wat haar gehelp het om haar doel te bereik, en die tyd en moeite wat sy ingesit het, maak nie net ʼn verskil in die lewe van die kinders wat nou in die hospitaal is nie, maar sal voortaan ook nog duisende kinders ondersteun,” het Cooper gesê.
Fantasties!!
Dit is ‘n baie mooi gebaar van so jong kind. Sy het beslis goeie swemtalent.
Dankie ook aan almal wat haar geborg en ondersteun het.
Dit gaan menige kinderhartjie gelukkig maak.
As ek lees wat alles met die R158 746 .00 gedoen gaan word kan ek nie help om te wonder waarom daar nie meer gedoen kan word met die miljarde wat vir gesondheid begroot word nie.
Ek onthou die gesiggie van die Robbeneiland swem. Jou hart sit beslis op die regte plek.
Dus daremn mooi gebaar van haar om haar hart so oop te maak.
Dit is nou `n pragtige en spog meisiekind – baie geluk aan haar ouers. Ek wens haar net voorspoed en geluk op haar lewenspad toe.