Melk benodig vir renosterwesies

Die renosterkalfies by die melk wat hulle nodig het (Foto: verskaf)

Die versorgers van talle renosterwesies sukkel om kop bo water te hou met die yslike hoeveelhede melk wat dié klein diertjies daagliks nodig het.

“Een renosterkalfie drink om en by 21 liter melk ʼn dag,” het Liezl Schoeman, bestuurder van die Fit 4 Rhinos-organisasie, aan Maroela Media gesê.

Dit is juis waarom die “Remember the milk”-geldinsamelingsprojek van stapel gestuur is.

“Die babarenosters in die ‘weeshuise’ het dringend melk nodig. Vetvrye langlewe-melk is baie na aan die melk wat hul ma sou produseer. Ons het dus besluit om ʼn geldinsameling van stapel te stuur om dié melk in die hande te kan kry.”

Schoeman het egter verduidelik dat met talle logistieke struikelblokke wat met die fisieke insameling van bokse melk gepaard gaan, die projek in die virtuele sfeer plaasvind.

“Jy kan dus ʼn ses-pak vetvrye langlewe-melk borg deur ʼn skenking op ons webtuiste te maak. Ons beoog om die waarde van ʼn 1 000 ses‑pakke in te samel, teen R100 ʼn pak sal dit R100 000 oplewer.”

(Foto: verskaf)

Fit 4 Rhinos samel die geld vir die liefdadigheidsorganisasie Rhino Connect in. Dié organisasie is verantwoordelik vir byna 3 000 renosters landwyd, en versorg ook die kalfies wat in die renosterweeshuis beland.

Schoeman wou al in 2016 betrokke raak by die bewaring van renosters in Suid-Afrika.

“Ek het besef dat daar nie iets is wat die fiksheidsgemeenskap ten bate van renosterstropery doen nie. Hier en daar is daar geleenthede om aan deel te neem; ek wou iets meer permanent doen.”

Die projek is in Februarie van stapel gestuur en sal duur tot einde Maart. Die volgende paar weke is propvol geleenthede vir die fiksheidsgemeenskap om by die pret betrokke te raak.

Een van die geleenthede gaan gepaard met ʼn dapper atleet wat 200 km deur die Overberg in 45 uur gaan voltooi.

In Mei kom klop die organisasie weer aan mense se deure tydens hul “Everesting”-uitdaging. Hier word fietsryers en drawwers landwyd uitgenooi om ʼn stewige opdraande te identifiseer wat dan gebruik sal word om Everest se hoogte van 8 850 meter uit te ry of te draf.

  • Vir meer inligting oor Fit 4 Rhinos en waar skenkings gemaak kan word, kan hierdie Facebook-blad of hierdie webwerf besoek word.
  • Vir meer inligting oor Rhino Connect, besoek die webwerf.

Kyk hier na ‘n paar renosterkalfies wat wag vir hul melk:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Waarom kan die maatskappye wat miljarde maak nie betrokke raak nie ?

Miena ·

ek gaan seker in die moeilikheid kom hieroor… maar… ek werk vir thungela resources ltd coal sa myngroep in MP. Ek is net nog n nommer hier. Ek hoop regtig hierdie word raakgelees deur iemand in ons Kommunikasie Afdeling in HoofKantoor in Sandton of die ander mynhuise plaaslike en omliggend van ons…die Blackwattle Groep, die Seriti Middelburg Mine South e.a., die Glencore’s en dan is daar nog Sasol (Enaex groep) ook. Julle word almal uitgedaag om betrokke te raak en donasies te maak. Aangesien almal altyd mos eerste preek deur te se “Sharing is Caring”. Kom nou laat ons sien wat “care” julle deur te “share”…
Nou wens ek hier was ook knoppie om te kon deel “share” soos met ander platforms… sal graag wou sien wat kom hiervan uit.
Dankie byvoorbaat.

Kensy ·

Goeie doel! …maar 6l melk kos nie ooral R100.00 nie, daar is sekerlik goedkoper opsies wat steeds goeie kwaliteit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.