Mens vs. natuur: Byna 1 200 km met tekkies oor die Kaapse berge

Damien Schumann (Foto: Simon Pocock)

In ʼn tyd van tegnologie kan mens byna enige plek aanlyn besoek: die Grand Canyon in Arizona, die piramides en Groot Sfinks van Gaza, die Eiffel-toring in Parys, die Taj Mahal in Indië. Maar dis iets heeltemal anders om dit self te besoek, om self die grootsheid daarvan te beleef en soveel te meer as dit in jou eie land is.

Die dag wat Damien Schumann, ʼn Kaapstadse fotograaf en dokumentêre filmmaker, ontdek het dat die Kaapse Plooiberge vanaf die Sederberge noord van Kaapstad tot so ver soos Port Elizabeth in die Oos-Kaap strek, het hy dadelik die avontuur gesien om dié gebergtes te voet oor te steek.

Damien het dadelik begin om verder ondersoek in te stel. Hy het landskaarte deursoek om te kyk of daar ʼn roete sou wees wat mens kon volg (ʼn enkele riflyn wat uiteindelik oor 52 padkaarte sou strek!).

“Ná die eerste verkenningstog was ek seker ek wou dit doen en toe ek boonop vir mense van my planne begin vertel, en hulle net so opgewonde soos ek daaroor was, het ek besef ek is nou in vir ʼn ding!” lag hy.

En só is daar gestalte gegee aan #TheCapeUnfolds.

Hy sê dit was byna soos om huiswerk te doen waar die uiteindelike hardloop die toets is wat jy moet aflê. “Het ek genoeg geleer om dit te doen; het ek genoeg gedoen om weer hier uit te kom?”

Damien is die eerste atleet wat die volledige roete afgelê het.

Verken jou eie agterplaas

Damien Schumann (Foto: Simon Pocock)

Dis duidelik dat Damien iemand is wat sy planne deurvoer. Selfs die vooruitsig dat daar nie oral roetes sou wees wat hy kon volg nie, het hom nie afgeskrik nie. “Ek was eintlik net al hoe meer opgewonde: ek sou my eie agterplaas kon verken!”

Op 1 September het hy naby Clanwilliam in die Wes-Kaap in die Sederberge weggespring en 30 dae, 9 ure en 29 minute en 1 136 km later het hy naby Uitenhage in die Oos-Kaap aangekom met ʼn storie wat hy waarskynlik sy lewe lank nog sal vertel!

Om dit in perspektief te plaas: Dit is ʼn hoogte van meer as 46 000 m oor 30 dae (Everest is 8 848 m hoog) teen ʼn gemiddeld van 37 km per dag oor byna onbegaanbare terrein.

“Mens kom terug na jou alledaagse lewe en sommige dinge sal waarskynlik nooit weer dieselfde wees nie. Dit het my ʼn nuwe perspektief gegee. Dis asof ek nou deur ʼn nuwe filter na die wêreld kyk.”

Damien het ʼn ondersteuningspan gehad wat, sover as wat paaie dit kon toelaat, by hom aangesluit het vir die volgende dag se proviand, en ʼn paar vriende (saam met fotograaf Simon Pocock en videograaf Jared Paisley) wat kort gedeeltes saam met Damien gehardloop het, maar hy het die volledige roete self afgelê.

“Mens moet absoluut op jouself staatmaak. Daar was groot gedeeltes waar daar glad nie ʼn roete was nie, geen selfoonopvangs nie, en dan is dit jou eie verantwoordelikheid om seker te maak jy bly gefokus en jy hou die eindstreep in gedagte.”

Onverwagse weerstoestande en ander gevare

Damien Schumann (Foto: Simon Pocock)

Nader aan die vertrekdatum het die weerdiens aangedui dat ʼn koue front na die Wes-Kaap op pad is, maar Damien sou nooit kon raai wat vir hom voorlê nie. “Ek moes op die tweede dag teen verkluiming veg weens die sneeu op die bergpieke.”

Die Wes-Kaapse winter het lank laas tot só laat in September aangehou en Damien het ongeveer die eerste 10 dae van die avontuur deur sneeu en ysige toestande op die berge gehardloop.

Dit was egter nie net die weerstoestande waarvoor Damien op die uitkyk moes wees nie. “Ek het in die Outeniekwaberge amper op ʼn Kaapse kobra getrap!”

Hy verduidelik daar was ook twee gedeeltes waar hy teen steil bergwande moes afklouter – met ʼn paar honderd meter tussen hom en vaste grond.

“Elke dag het iets anders gebring – dís die tye wat jy moet seker maak jy fokus en bly kalm.”

Roetes oor die Kaapse Plooiberge is buitengewoon tegnies en bied ʼn groot diversiteit wat fauna en flora betref – sommige wat nêrens anders in die wêreld te sien is nie.

Daar was dele van die roete wat Damien en sy span ondersteuners vooraf kon verken, en selfs gedeeltes wat Damien al vantevore gehardloop het, maar die grootste deel was onbekende terrein en as gevolg van dié onsekerheid het afstande, wat hy na beraming binne 10 ure sou voltooi, tot 17 ure geduur om af te lê.

Hy het ook seningskedeontsteking gekry: ʼn toestand wat ontwikkel wanneer die senings in jou bene en voete oorwerk is. “Die pyn het gewissel van dag tot dag en ons moes dit maar net bly bestuur.” Hy het in die aande plat op sy rug, met sy bene in die lug en yspakke op sy voete en enkels, geslaap. Marian Penso, ʼn fisioterapeut van Kaapstad, was deel van Damien se ondersteuningspan en sy het deurgaans seker gemaak dat hy nie permanente skade sou opdoen nie.

Al was Damien alleen op die roete, het hy, as ʼn veiligheidsmaatreël, ʼn GPS-spoortoestel by hom gehad en die span kon deurgaans sy vordering dophou en presies weet waar hy hom bevind.

Persoonlike wenstreep

Damien Schumann (Foto: Simon Pocock)

Damien is nie ʼn atleet wat eerbetoon of medaljes najaag nie. Dié avontuur is iets wat hy vir homself wou doen, en wat hy met ander persone, wat nie die geleentheid het om só iets aan te pak nie, kan deel. Daarom was dit vir hom so belangrik om deurgaans die roete te fotografeer en te verfilm, sodat hy uiteindelik ʼn dokumentêre fliek oor sy avontuur kan maak.

“Die waarde van enige reis is dit wat jy terugbring. Ervaring is as’t ware ʼn belegging wat jy maak. Dit is waarskynlik my liefde vir berge en oop ruimtes wat my tot op hierdie punt gebring het. Dit is om ʼn begrip te hê van die gevare wat jou dan dwing om meer bewus te wees van jou omgewing en omstandighede. En die skoonheid wat daarmee saamkom, is die inspirasie.”

Hy het al aan veldwedlope oorsee deelgeneem (waaronder Kambodja, Noorweë, Swede en in die Himalaja-gebergtes), maar sy gunstelingwedlope is steeds die plaaslike Batrun (ʼn jaarlikse veldwedloop wat in die aand in Kaapstad plaasvind) en die Three Peaks-veldwedloop, ook in Kaapstad. Albei dié wedlope sluit Duiwelspiek, Tafelberg en Leeukop in.

Berpiekhardloop (“alpine runing”) is waarskynlik die beste term om Damien se aktiwiteit tydens #TheCapeUnfolds te beskryf. Want dis nie hardloop nie, dis nie ʼn veldwedloop (“trail running”) nie, en dis ook nie bergklim nie – dis alles ingesluit. “Alpine running” word deur bergklimmers gebruik en verwys spesifiek daarna om so vinnig en doeltreffend as moontlik van een punt na ʼn ander te vorder, om self te navigeer en al jou benodigdhede by jou te dra.

Damien was selfversorgend deur die dag en het sy rugsak daagliks gepak gebaseer op die weerstoestande, terrein en afstand. Buiten enkele nagte wat hy in die berge moes oorslaap, kon hy in die aande by sy span aansluit.

Wat motiveer hom tydens só uitdaging? “Dis waarskynlik my hardkoppigheid,” lag hy. “As ek iets begin het, dan moet ek dit klaarmaak – tot die beste van my vermoë. En om ons berge so goed as moontlik te leer ken.”

Tydens die tog oor die Kaapse Plooiberge was dit die eindstreep wat hy in gedagte gehad het. En so taai soos wat Damien fisies is, net so sagmoedig is hy. Hy is duidelik emosioneel wanneer hy vertel van die laaste dag en die gevoel toe hy uiteindelik die roete suksesvol afgelê het.

Damien Schumann (Foto: Jared Paisley)

“Die laaste dag was byna surrealisties. Die eerste 10 km van die dag was baie emosioneel. Dit het begin met ʼn steil klim tot by die rif en dinge het vlot verloop aan die begin. Ek het geweet my vriende en familie wag vir my – dit was baie spesiaal en ek het daarna uitgesien. En daarna het die slegste deel van die hele roete gevolg. Vir meer as 10 km moes ek deur ruie bosse klim – daar was hoegenaamd nie ʼn roete om te volg nie. Daar was bosse hoër as my kop en ek moes my bene hoër as heuphoogte lig om daaroor te klim. Dís waar ek bietjie my sin vir humor verloor het! Ná 1 000 km en nou moet mens dít deurmaak!” Dié deel het sy uiteindelike tyd met minstens drie ure verleng.

“Maar toe ek uiteindelik weer by ʼn roete uitkom, ʼn deel wat ons vroeër verken het, en ek herken die roete, was ek opgewonde om klaar te maak.”

Dit was ʼn uitmergelende toets, en ʼn stryd tussen mens en natuur. Damien het dit met vlieënde vaandels geslaag.

* Redigering aan #TheCapeUnfolds se beeldmateriaal het reeds begin en dié dokumentêr sal na verwagting teen die middel van 2019 vrygestel word.
* Volg Damien op Instagram en by #TheCapeUnfolds

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.