Motorfietsklub trakteer ‘Danville’-tannies, kinders

Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub het Sondag die harte van bejaardes warm laat klop toe hulle dié behoeftiges op ʼn Kerspartytjie trakteer het. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub het Sondag die harte van bejaardes en kinders warm laat klop toe hulle dié behoeftiges op ʼn Kerspartytjie en motorfietsritte trakteer het.

“Ons daag nooit sonder iets op nie en ons daag ook nooit alleen op nie. As kinders van ons Hemelse Vader bring ons ook die boodskap van Christus. Die Heilige Gees leef in ons,” sê Johan Böning, president van die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub.

Tien vroue van Danville Tehuis vir Bejaardes in Pretoria-Wes, oftewel die “Danville”-tannies soos die motorfietsklub met respek na hulle verwys, is vir die negende agtereenvolgende jaar met ʼn Kerspartytjie bederf.

“Ons is reeds sedert 2014 by die ouetehuis betrokke,” vertel Böning. “Die tannies is ʼn ware inspirasie. Hulle het nie net by hul omstandighede berus nie, maar streef daarna om selfversorgend te wees.”

Die motorfietsklub se tak in Gauteng het die bejaardes met ʼn bus, wat deur pastoor Joggie Schoeman van die Maranatha Pinkster Bedieninge geborg is, opgelaai en na Shays Market in Mnandi, Centurion, geneem waar hulle ʼn heerlike Kersete geniet het en met geskenkpakkies trakteer is. Die ete is deur André Venter, eienaar van Die Boer Kultuurpark in Monument Park, Pretoria, geborg.

Elke bejaarde het ook ʼn geskenkbewys van Checkers, wat deur die Gereformeerde Kerk Lyttelton geborg is, en ʼn pakkie met allerlei lekkernye ontvang. Tussen alles deur het die Afrikaanse sanger Francois van Rensburg hulle met heerlike musiek vermaak.

Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub het Sondag die harte van kinders warm laat klop toe hulle dié behoeftiges op motorfietsritte trakteer het. (Foto: Verskaf)

In Witsand in die Wes-Kaap het sowat 25 kinders van ʼn kinderhuis in Robertson te danke aan die motorfietsklub heerlik aan pizza en lekkernye gesmul, en die brawes onder hulle het ook motorfietsritte beleef.

“Dit was regtig ʼn belewenis vir van hierdie kinders en hulle kan nie uitgepraat raak daaroor nie. Een van hulle het agterna na my toe gekom en gesê dit was die lekkerste dag van hulle lewe.

“Nogmaals baie dankie vir Helpende Hand se motorfietsklub wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het,” sê Marius de Beer, wat as koördineerder tussen die kinderhuis en die gemeenskap optree.

Helpende Hand se motorfietsklub is in 2014 gestig deur ’n groep motorfiets-geesdriftiges wat ʼn passie vir liefdadigheid het. Die klub het intussen gegroei en bestaan vandag uit drie takke in Pretoria, die Wes-Kaap en die Wes-Rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jeanette ·

Dankie vir elkeen wat ‘n borg, skenker of bydrae gelewer het sommer almal wat ‘betrokke was. Ek raak sommer hartseer as ek dink hoeveel mense die Kersfees net smag na ietsie om te eet en ‘n ou klein geskenkie. Wens ek was skatryk dan sou ek dit gedoen het. Nogmaals dankie aan almal en die harte wat julle bly gemaak het mag die Here julle ryklik seen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.