Musiekvideo: Jan de Wet se seun skryf skoollied vir Ons Plek

Die musikant Arnold de Wet het die Ons Plek-skoollied geskryf en tydens die geleentheid gesing. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Toe Helpende Hand my vertel wat hulle by Ons Plek doen, het dit my opnuut laat besef daar is ʼn blink toekoms wat voorlê vir enigiemand wat geleenthede aangryp, ongeag hulle omstandighede,” meen die musikant Arnold de Wet, seun van die geliefde gospelsanger Jan de Wet.

Ons Plek is ʼn opvoedkundige gemeenskapsprojek wat fokus op gehalte onderrig in Afrikaans en die versorging van kinders uit alle sosio-ekonomiese agtergronde ten einde hulle in staat te stel om hul maksimum potensiaal te bereik.

Die projek behels die dienste van ʼn kleuterskool en naskoolsentrum met Christelike waardes in ʼn veilige omgewing vir kinders uit die Afrikaner-kultuurgemeenskap. Lede van die gemeenskap dra tot die volhoubaarheid van die diens by en help om voorspoed vir elke kind te verseker.

Maroela Media het vroër berig dat Arnold die skoollied vir Solidariteit Helpende Hand se kleuterskole en nasorgsentrums, beter bekend as Ons Plek, geskryf het. Dit is vandag (Woensdag) amptelik bekendgestel.

Suzette Oosthuizen, hoof van Helpende Hand se sentrums en nasionale strukture, beskou dit egter nie bloot net as ʼn skoollied nie, maar “ʼn lied wat verandering meebring en by ʼn gemeenskap in nood, hoop skep op ʼn toekoms vol liefde”.

Sy voeg by dat die Ons Sentrums in verskeie gemeenskappe as monumente van hoop dien. Dit bied verder ook ʼn holistiese diens aan kinders van alle ekonomiese agtergronde.

“Ons wil kinders nie net fisiek voed nie, maar ook emosioneel ondersteun en ʼn leerreis bied wat lewensveranderend is. Ons Plek en Ons Sentrums het reeds ʼn bydrae in meer as 400 kinders se lewens gemaak, maar ons droom van ʼn toekoms waar elke tak in al 14 streke help om ons missie te implementeer.

“Ons is dankbaar vir die geldelike ondersteuning van die Bemagtig ʼn Kind-projek, Ons Winkels en ons streke. Hierdie samewerking en geloof maak ons drome moontlik.”

Met die bekendstelling van die Ons Plek-skoollied wil Helpende Hand die gemeenskap aanmoedig om ʼn bydrae in kinders se toekoms te maak. Besoek Helpende Hand se webwerf vir meer inligting.

Die skoollied spog boonop met ʼn splinternuwe musiekvideo wat ook vandag bekendgestel is. Oosthuizen doen ʼn beroep op die publiek om hierdie musiekvideo te deel en te help om hulle hande sterk te maak.

“Deel dit met ander mense, moedig mekaar aan om by te dra tot die ontwikkeling van Ons Plek, en bid en glo saam met ons in die missie om ʼn blink toekoms vir kinders te skep. Ons strewe na die redding van ʼn volk, kind vir kind.”

Kyk hier na Ons Plekke se skoollied:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stompie ·

Wat n stukkie positiewe nuus vroeg in die more. Dankie vir mense wat nog omgee vir ons en ons kinders. Hoop julle alle sukses toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.