‘Ons behoort’ sê Ons Plek-kinders met eie vlag, skoollied

Ongeveer 50 kinders van die Ons Plek-skole in Gauteng het die vlagonthulling bygewoon. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Solidariteit Helpende Hand se kleuterskole en naskoolsentrums, beter bekend as Ons Plek, spog nou met hul eie vlag én amptelike skoollied, wat die idee simboliseer dat elkeen van dié kinders ʼn plek het waar hulle behoort.

Die vlag, wat in die vorm van ʼn vlieër is, is Dinsdag tydens ʼn seremonie aan die voete van die Voortrekkermonument in Pretoria onthul voor ongeveer 50 kinders van die Ons Plek-skole in Gauteng, asook personeel van die Solidariteit Beweging.

Donovan Carlisle (18), wat sedert die ouderdom van 14 by die Ons Plek in Derdepoort betrokke is, het die vlag gehys.

“Wat vir my nog altyd die meeste uitstaan van Ons Plek is die omgee en hoe dit die gemeenskap verander. Dit was die eerste keer wat ek ʼn vlag moes hys; ek voel baie trots.”

Die musikant Arnold de Wet, seun van die geliefde gospelsanger Jan de Wet, het die Ons Plek-skoollied spesiaal vir Helpende Hand neergepen en tydens die bekendstelling vir die eerste keer saam met die kinders gesing.

“Toe Helpende Hand my vertel wat hulle by die Ons Plek-sentrum doen, het dit my opnuut laat besef dat daar ʼn blink toekoms voorlê vir enigiemand wat geleenthede aangryp, ongeag hul omstandighede,” vertel De Wet.

“Dit is ook ʼn voorreg om dit vandag saam met hulle te sing; ek glo in die wonderlike werk wat hier vermag word. Ek is natuurlik meer gewoond daaraan om praise and worship te lei, so hierdie is nou ʼn nuwe ervaring vir my, maar net so heilig.”

Die eerste Ons Plek-sentrum is nege jaar terug in die Strand geopen en vandag bied nagenoeg sewe van dié sentrums ʼn veilige en inspirerende hawe vir nagenoeg 347 kinders per dag.

Die sentrums word deur ervare personeel bedryf wat spesifiek opgelei is om kinders nie net op te voed en versorg nie, maar ook deur middel van emosionele ondersteuning by te staan, hetsy deur speelterapie of berading.

Ouerleidinggroepe word ook aangebied om ouers in dié gemeenskappe by te staan.

“Die liefde vir Afrikaans, kultuur, ons erfenis en geskiedenis begin by kleuters en ons skoliere. Dit is ʼn geweldige groot voorreg en verantwoordelikheid wat ons opneem om hierdie diens te verdiep en te ontwikkel,” het Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, by die geleentheid gesê.

“Ons besef dat simbole soos vlae en liedere dien as ʼn verryking van die menslike ervaring deur identiteit, gemeenskap, emosie, en om betekenis te bring. Hulle help om die verbinding tussen mense te versterk en dra tot die rykheid van ons kultuur en erfenis by.”

Hierdie vlag, saam met die sewe strikke wat elkeen ʼn Ons Plek verteenwoordig, gee volgens Oosthuizen ook uiting aan die waardes wat deur die Solidariteit Helpende Hand Ons Plek omarm word. Dit sluit in, samewerking, leierskap, vaardighede, drome, ʼn toekoms, en ʼn diep verlang om ʼn positiewe bydrae te lewer.

“Die hoofdoel, van die begin af, was om kinders veilig te laat voel en vir hulle te herinner dat hulle êrens behoort danksy ʼn gemeenskap wat homself om hulle toevou. Dit was vir ons belangrik dat hierdie simboliek in die vlag deurgegee word,” het Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, oor die vlag bygevoeg.

Die betekenis van die vlag is:

  • Die oranje deel verteenwoordig vryheid, veiligheid, voorspoed, uithouvermoë, selfvertroue en durf.
  • Die blou deel simboliseer vrede, stabiliteit, en die onbegrensde moontlikhede van die lug en oseane.
  • Die bopunt van die vlieër verwys na God.
  • Die onderkant van die vlieër staan vir familie, vriende en gemeenskap.
  • Die linkerkant van die vlieër fokus op omgee en om ander te help.
  • Die regterkant van die vlieër verteenwoordig kennis.
  • Die stert van die vlieër dui rigting en vryheid aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.