’n Bomenslike prestasie

Verpleegster Mandy en al haar kollegas in die mediese beroep verrig steeds daagliks ‘n bomenslike taak in die pandemie. (Foto: Verskaf)

Dis skuins na drie in die oggend in een van die sale van die Kaapstad Mediclinic. Een verpleegster werskaf agter die toonbank, een is doenig op haar foon, ʼn ander sit rustig met ʼn breiwerkie en twee gesels gedemp onder die sagte naglig in die gang. Daar is min pasiënte en die atmosfeer is amper huislik. Ek is nie siek nie, maar moet vir ʼn prosedure wat weens die Covid-toeloop van pasiënte nie vroeër kon plaasvind nie oornag. Daardie nag, sowat twee weke gelede, was daar net vyf Covid-pasiënte in die hospitaal, wat tot redelik onlangs toe nog mense moes wegwys.

Slaap ontwyk my en ek is nuuskierig oor hierdie vreemde omgewing waarin ek myself bevind, so ek steek nou en dan my kop soos ʼn skilpad by die saaldeur uit. Ek is die enigste pasiënt in my klein kamertjie – ʼn geluk én luukse, want ek het die silwerskoon badkamer net vir myself.

Al is dit hóé stil in die eenheid, is daar vir die nagskofverpleegsters geen sprake van slaap nie. Ek is daarvan bewus dat hulle elke twee ure my kamerdeur saggies oopmaak en ʼn flitslig na my kant toe mik. Iewers deur die loop van die nag rol verpleegster Regina haar bloeddrukmasjientjie oor my arm en ʼn kollega kom trek my bloed. Hulle groet opgewek en gaan sagkens te werk. Ek probeer uitvra – oor Covid, toe hulle diep moes grawe; nie net om elke pasiënt te midde van geweldige liggaamlike en geestelike uitputting te kon versorg nie, maar terselfdertyd ongekende lyding en trauma moes verwerk.

Ek kan egter sien dis vir hulle ʼn nuwe dag (oftewel nag), want hulle skram vriendelik maar beslis van die onderwerp af weg. Regina het wel haar kop geskud, gefrons, my waterpas in die oë gekyk en gesê: “It was the craziest of times …” Haar vrolike kollega, Mandy, sê sy verkies om net die vreugde te onthou – wanneer iemand wat by die dood omgedraai het kon opstaan en uitstap, met familie wat buite die hospitaal hulle arms om hom/haar gooi.

Die hospitaal se houtdeur. (Foto: Verskaf)

Ek het tydens my 22 uur lange verblyf met baie van die hospitaalpersoneel te doen gekry – van verpleegsters, dokters tot radiografiste en skoonmaakpersoneel. Dan was daar ook Siya wat my met ʼn rolstoel by X-strale kom haal het, volgens hospitaalprotokol. My speelse versoek dat hy die rolstoel vinniger moes stoot, het hom lekker laat lag. “You are fast and furious!” was sy gevatte antwoord.

Mense is met rede sku vir hospitale en oor die afgelope 16/17 maande des te meer. My byna ʼn dag lange kuier in die Mediclinic was nie net aangenaam nie, maar ook ʼn openbaring. Ondanks al die trauma wat die personeel daar beleef, stoom hulle steeds voort – sonder uitsondering met ʼn warm glimlag op die gesig.

So met die toetrek van die hospitaal se groot houtdeur agter my, dink ek met groot dankbaarheid aan die uitsonderlike mense in wie se bekwame hande ek myself bevind het.

Ek dink ook aan Albert Camus se woorde: Soms is om aan te gaan, net om aan te gaan, ʼn bomenslike prestasie.

En dit is wat hulle elke dag bereik.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

 

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daleen ·

My suster wat ook in mediese veld werk en ook nagdiens werk het in Mei maand by die dood omgedraai met Covid. Selfs nou met langdurige Covid is sy terug op haar pos. Ek dank die Here elke dag vir mense soos sy en haar personeel en AL die ander mense van die skoonmaker tot die chirurg wat deur die pandemie daar is en geen keuse het nie hulle MOET hulle lewens in gevaar stel en daar wees vir die pasiente – geen 7h00 die oggend klok ek uit nie. Partykeer het ek haar 10h00 gebel dan hardloop sy nog rond net om vanaand 18h00 weer haar skof te begin. So ja Vaaldonkie ek gun hulle die bietjie rustiger tyd om hulle broodnodige rus te PROBEER inhaal. . Mag die Here julle almal seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.