ʼn Bruggie van hoop

 skoolbus-bus-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Deur Suzette Oosthuizen

Dit is vroegoggend. Ek staan eers ʼn rukkie in die kamerdeur en kyk neer op die slapende seuntjie wat ek myne mag noem.  Vir ʼn oomblik geniet ek die stilte, want binne sekondes, weet ek, gaan die rustigheid plek maak vir ʼn dolle gejaag.  Ek soen hom wakker en hy trek my nader so met die een arm deur die slaap. “Jy moet wakker word,” fluister ek. “Opstaan… aantrek… ontbyt is reg!”

Ek sit ontbyt reg en pak broodjies in vir pouse. Terwyl hy inkom en kom sit, gryp ek my foon en antwoord gou ʼn paar boodskappe.  Opgewonde haal hy sy boek uit om iets te wys, maar my foon lui en uit die hoek van my oog sien ek hoe hy met ʼn sug die boek eers weer wegbêre in die tas.  Ek het ʼn dringende vergadering vanmiddag en maak verskoning vir die rugbywedstryd wat ek gaan mis. Hy sê hy verstaan, maar sy oë vertel iets anders.  Diep binne my wens ek vir meer tyd.

(Foto: pixabay)

Op pad skool toe vertel hy my van *Jacques wat vir dae al nie by die skool is nie.  “Hy is van die bus afgesit, want hulle skuld die skool busgeld,” vertel hy. Ek onthou vir Jacques en sy ouers. Hulle is by al sy rugbywedstryde en is ooglopend trots op hul seun.  Ek het ook al die idee gekry dat hulle dit nie breed het nie.  “Hy’t van sy vraestelle ook gemis en juffrou sê as dit so aangaan gaan hy nie die jaar deurkom nie en meneer gaan iemand anders kies in sy plek in ons rugbyspan.” Dit wat ek van Jacques af weet, is dat hy ʼn oulike kind is wat die vermoë het om bo omstandighede te kan uitstyg.  Soos wat dinge nou staan, gaan hy ʼn produk word van omstandighede buite sy beheer.  My hart is sommer seer.  Ek groet en maak vir oulaas weer verskoning omdat ek nie tyd gaan kry vir die rugbywedstryd nie.  “Sterkte met die wedstryd!  Maak jou skool trots… en vir my”.  Hy glimlag skeef en groet eers.

Ek kyk hom agterna en hoop dat ek hom steeds geliefd en geborge laat voel al is my tyd saam met hom soms so min.

My gedagtes bly by klein Jacques.  Ek is oortuig daarvan dat sy ouers goeie ouers is, en hulle doen wat hulle kan.  Die finansiële druk wat hulle tans ervaar, is egter van so ʼn aard dat hulle nie behoorlik in baie behoeftes van hul kind kan voorsien nie.  Hulle kort net ʼn bruggie vir nou.

Foto: Maroela Media

As Jacques se skoolomgewing net stabiel kan wees en hy die geleentheid kan kry om die jaar te slaag, op die einde skool klaar te maak, ʼn goeie opleiding te kry en by ʼn werk in te stap, is die armoedesirkel verbreek.  Maar vir nou moet ons hom net eers (letterlik) op die bus kry.

Ek maak kontak met “Helpende Hand se Bemagtig ʼn Kind” en sit so die bal aan die rol. Jacques se aansoek wat deur sy ouers ingedien is vir busgeld, word goedgekeur.  Sy busgeld word betaal en hy slaag graad 5!  Die bruggie wat gebou is, het voorwaar gehelp.

Dié fonds bring soveel hoop en moedig voorspoed aan. Dit dra by tot die verligting en verbreking van armoede op lang termyn.

As jy hierdie artikel lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf, sluit aan as ʼn ondersteuner of SMS die woord KIND na 45763 (SMS kos R2) en help ons om kinders te bemagtig.

Naskrif:  Ek het my toe by die vergadering verskoon en daardie middag gaan kyk hoe hulle die rugbyliga gewen het.

*Jacques is ʼn skuilnaam wat gebruik word om die identiteit van hierdie kind te beskerm.

Suzette Oosthuizen is die hoof van sentrums en nasionale takke by Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.