ʼn Liefdesbrief aan die Karoo

Foto: Deon Meyer (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Deur Suné van Heerden

Daar is iets magies aan die Karoo. In die stilte en die oopte en die vlaktes en die bossies is daar iets wat aan jou hart kom klop, wat in jou oor kom fluister, wat jou voete anker. Die Karoo laat jou nie sommer gaan as hy jou eers beetgekry het nie. Jy kan honderde kilometers ver weg wees, dan dra jy steeds die Karoo in jou hart rond.

Musiekgenie Coenie de Villiers en bekroonde spanningskrywer Deon Meyer deel ʼn besonderse liefde vir die Karoo en ʼn vriendskap wat al oor langer as 40 jaar strek.

“My verhouding met die Karoo het in die jare sestig deur ʼn motorvenster begin, op pad see toe van Klerksdorp af,” vertel Deon. “Destyds was dit die grootoog-verwondering van ʼn kind vir die majesteit en drama van dié wye landskap. Dit het my verbeelding aangegryp, ʼn ondeurgrondelike, enigmatiese bekoring, gelyktydig mities en magies.”

Toe Coenie aan ʼn produksie vir die KKNK begin beplan, het hy aan Deon se deur gaan klop om hul liefde vir die Karoo met ander te deel. “Ek het ʼn idee gehad van Vivaldi se Vier Seisoene,” vertel hy. “Maar Deon het gesê daar is net twee seisoene in die Karoo: baie warm en baie koud (nie noodwendig in daardie woorde nie).”

Foto: Deon Meyer (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Deon sou die teks skryf en Coenie sou die musiek behartig. “Die Karoo is ʼn onuitputlike bron van stories. Toe hy sy stories vir my stuur, toe weet ek hier is ʼn ding,” vertel Coenie verder. Hy het voor die klavier gaan sit, en die musiek het saam met die stories begin vloei.

Só is die Karoo-Suite gebore – ʼn produksie wat landswyd telkens uitverkoop het. Met Deon se verstommende fotografie as agtergrond en sy ware verhale, Coenie se musiek en lirieke en met die talentvolle Jaconell Mouton (musiekproduksie en klawers), Mauritz Lotz (kitaar) en David Klassen (perkussie) op die verhoog, word die hart van die Karoo met die gehoor gedeel.

“Buite het die plaas onder die sterre gelê. Ek was sewentien jaar oud toe ek oor hierdie einste sterrenag ʼn liedjie geskryf het wat later bekend geword het. Dís waar die note en woorde vandaan kom,” vertel Coenie oor die produksie.

En dan word mens in die musiek en die woorde en die klanke meegevoer, net soos jy in die Karoo in die stilte en onder die sterre en tussen die bossies meegevoer word. En groot ooms sit die trane en afvee en tannies dink aan jare gelede toe hulle nog kinders was en die jongklomp hunker na die eerlikheid van die landskap.

Foto: Deon Meyer (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

“Ons het probeer uitpluis waarom mense so ontroer word,” sê Coenie. “En ons dink dis die oomblik wanneer hulle snap waaroor dit gaan. Afrikaanssprekendes voel ontheem, en hierdie produksie is eerlik en outentiek en op ʼn vreemde manier kan hulle tuis voel. Dit is ʼn plek waar hulle veilig en warm voel, ʼn plek waar hulle net kan wees.”

Vir hom was dit belangrik dat die musiek net die stories moes komplementeer, dit net verder moes inkleur.

Louis van der Watt van die Atterbury Trust het ná een van die uitvoerings vir Deon en Coenie genader en voorgestel dat die vertoning sy beslag in ʼn boek en ʼn CD moet vind. Die Trust sou die kostes van die boek dra om sodoende te verseker dat die opbrengs teruggeploeg kan word in beurse en studiegeleenthede vir minderbevoorregte leerders uit veral die Karoo, vertel Coenie.

ʼn Beperkte oplaag van dié gedenk-koffietafelboek (met CD) van slegs 1 000 is gedruk en is nou te koop by die Atterbury Trust – dit is ʼn versamelstuk en ʼn geleentheid vir diegene wat nie die Karoo-Suite-uitvoerings kon bywoon nie, om dit ook te kan beleef en diegene wat dit wel bygewoon het, ʼn kans om dit weer te herleef.

Foto: Deon Meyer (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

“In die Karoo is die armoede daar reg voor jou oë, want die dorpies is klein, en die nood is groot. En min kom help hier. Die meeste welwillendheidsprojekte vind in die stede plaas, die dorre platteland is meestal uit die oog, uit die hart, uit die kollig,” sê Deon in die voorwoord van die boek. Met die aankope van dié boek, kan jy die lot van talle Karoo-kinders verlig.

“Elke sent wat mense betaal word vir studiehulpondersteuning aangewend vir leerders in die Karoo,” verduidelik Coenie. “Ons kan ʼn reële verskil maak – dit is ʼn wen-wen-situasie vir almal.”

Die koffietafelgrootte-foto’s laat jou verdwaal in die vlaktes van die Karoo. Jy kan byna die harde son op jou vel voel; die bossies ruik; die tjierts van die windpomp en die knars van gruis onder jou voete hoor. En om seker te maak al jou sintuie word ingespan, kan jy die CD speel en meegevoer word in hierdie liefdesbrief aan die Karoo: die storie van wyle oom Joe van Wyk “met sy lekker lag soos ʼn borrelfontein en sy gesig soos die opkomende son”; die “teatrale stortvloed” van die reën; die storie van oom Ben Bruwer wat “nie huil van swaarkry nie, net van dankbaarheid”; en die storie van die twee bleek Franse seuns wat mans kom word het in Afrika.


Uit: Karoo-kersfees
Deur Deon Meyer

Kersoggend lui die telefoon. Dit is Robert uit Parys. Hy is bewoë. Hy sê hy het die wonderlikste Kersgeskenk van sy lewe gekry. Sy seun het ʼn man geword in Afrika. ʼn Man wat weet wat hy met sy lewe wil doen, ʼn man met ʼn vasberade kyk en ʼn vaste tred. Hy wil net dankie sê.

Agterna skryf ek vir hom. Ek sê: “Robert, dit was nie ek nie. Dit was jou seun. En die Karoo. Die woestyn het vir hom die ster gewys, maar hy het self besluit om dit te volg.”

Karoo-Suite-koffietafelboek (Foto: Atterbury Trust)


*Koop die Karoo-Suite-koffietafelboek (daar is ’n beperkte oplaag van net 1 000 boeke gedruk; elkeen is genommer en geteken deur Coenie en Deon – dit is ’n wonderlike versamelaarsitem) 

*Daar is nog minstens een vertoning van die Karoo-Suite op 23 Februarie 2019 by die Oude Libertas-teater in Stellenbosch. Klik hier om kaartjies te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hannah ·

My huis, my woning, my geboorteplek, my alles in GOD se genade! baie dankie vir die mooie foto’s!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.