’n Sokkie kan ’n lewe verander

(Foto verskaf)

My hande omvou tannie Marie* se hande terwyl sy huil en vir my vertel, tussen die trane deur, oor haar diagnose met borskanker. Ek sit en luister na haar woorde gevul met oneindige vrae en hartseer, en dan weer gevul met hoop en geloof. “Ek het altyd gewonder waarom hierdie met my gebeur het, waarom borskanker?” Ek weet nie wat om vir tannie Marie te antwoord nie en luister net terwyl ek self wonder waarom. Sy kyk my in die oë en sê vir my: “Miskien het alles gebeur sodat ek vandag kan getuig van die Here se genade wat my omvou ten spyte van die diagnose”.

Hier vat tannie Marie, soos talle ander strek vroue, haar hartseer en sit dit om in hoop. Sy vra vir my om die kamera aan te sit en sy begin haar storie deel. Sy deel haar poele van vreugde en haar heuwels van angs, sy deel haar vrae en bekommernisse en sy deel hoe sy bid. Tannie Marie is ʼn vegter, sy is ʼn bruid van God en sy is ʼn pilaar van hoop.

Na afloop van ons gesprek, gee ek vir haar ʼn digbundel en ʼn paar Boesemvriendinne-sokkies. Sy is ʼn statige tannie en ek weet nie of sy van hierdie wilde gekleurde sokkies gaan hou nie. Sy neem dit by my en lees die gedigte een vir een hardop, daarna haal sy die sokkies uit die geskenksak en sê: “Hierdie is nou funky! Ek kan sien dit gaan sommer baie lekker dra.” Sy trek dit net daar en dan aan. Tannie Marie is toe al die tyd eintlik ʼn lekker bok vir sports ook.

Ek verduidelik vir haar dat elke paar sokkies wat verkoop twee vrouens help wat nie silikoonprosteses of borsrekonstruksie kan bekostig nie. Sy begin glimlag en vra: “Wat koop julle dan met die gelde my kind?”.

ʼn Stelletjie gebreide borsprosteses. (Foto verskaf)

Ek verduidelik verder dat ons gebreide borsprostese vir die vroue gee. Ek verduidelik dat dit vir my die mooiste gemeenskapsaksie is, want die geld word ingesamel deur die gemeenskap wat die sokkies aankoop, dan vat ons die gelde en koop die breipakket aan. ʼn Breipakket is saamgestel met die brei- of hekel-patroon, wol en vullingsmateriaal om een prostese te maak. Hierdie pakkette, wat vir R60 gekoop kan word, word dan versprei onder vrywilligers wat saam wil brei. Sodra die gemeenskap saam gebrei het, word dit versprei aan ons voue.

Tannie Marie draai haar rug op my en ek wonder dadelik of ek nou iets verkeerd gesê het of dalk iets wat haar seer gemaak het. Sy druk haar hande onder haar bloes in en haal twee gebreide borsprostese uit.

“Julle het my gehelp!” sê sy.

Deur ons hele gesprek het ek nie geweet dat tannie Marie se vriendin vir haar ʼn paar van die Boesemvriendinne se gebreide borsprostese gegee het nie.

My hart smelt want ek sien die vreugde wat dit vir haar gee, ek vra vir haar hoe dit vir haar werk. Sy getuig dat dit gemaklik dra, dat dit nie krapperig is nie en dat dit haar lewe verander het.

My droom is dat Solidariteit Helpende Hand duisende van hierdie sokkies verkoop sodat ons duisende vroue kan help. Sox Footwear werk saam met USN om hierdie sokkies te kan bied aan die Boesemvriendinne-projek, ons het opregte waardering vir hierdie samewerking. Ons kon reeds in 2022 presies 2 722 vroue gehelp het met gebreide borsprostese.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Borskanker is ʼn diagnose wat geen vrou ooit wil kry nie, en daar is nie veel wat enigiemand van buite kan doen om die nuus te versag nie. Baie mastektomie-pasiënte wat kan, kry terselfdertyd ʼn borsrekonstruksie, maar vir talle vroue is dit nie bekostigbaar nie en die verlies wat hulle ervaar is diepgaande. Dit is waar Helpende Hand se Frouevonds met die idee vorendag gekom het om hul jaarlikse brei-projek in 2021 te wy aan die maak van sagte borsprostese vir behoeftige vroue wat ʼn bors verloor het. Die Frouevonds, wat binne Helpende Hand gestig is om vroue te bemagtig, spel sy naam juis so agterstevoor omdat dit wil wys dat dinge soms verkeerd loop in die lewe.

Helpende Hand het baie vrywilligers wat kranige breiers is, vandaar die jaarlikse Breinaald-projek waarmee mense se brei-talent vir welwillendheidsprojekte ingespan word. Vanjaar se projek is saam met Kansa van stapel gestuur onder die vaandel van Boesemvriendinne met die idee om tot en met Oktober, wat borskankerbewustheidsmaand is, prosteses te brei vir vroue wat nie ʼn silikoonprostese of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

Wat hierdie sokkies so spesiaal maak, behalwe dat dit vir ʼn goeie doel gaan, is dat dit:

  • naatloos is om blase te voorkom;
  • bestaan uit ʼn liggewigmateriaal om jou voete koel en droog te hou;
  • ʼn Y-vormige hak het om gemaklik te pas en maklik aan te trek;
  • ʼn elegante voorkoms en gevoel het aan die binnekant;
  • geen tossels en los garings het nie;
  • ʼn 16 cm-mansjet het vir alledaagse drag en alle sportsoorte;
  • HTFU-tegnologie het (wat keer dat jy gly);
  • in verpakking kom wat weer gebruik kan word; en
  • in Suid-Afrika vervaardig word.

Ons wil graag hierdie jaar weer 2 722 vroue help, maar ons kan dit nie doen sonder ʼn tannie Marie wat hoop saai, sonder ons gemeenskappe wat saam brei, sonder SOX en USN, en sonder die gemeenskap wat die sokkies koop nie. Ons nooi jou uit om hierdie sokkies aan te koop by www.boesemvriendinne.co.za

*Marie is ʼn skuilnaam om haar identiteit te beskerm.

  • René Roux is woordvoerder en adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie vir Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.