’n Teken van God in my hand

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Deur Jak de Priester

Vanoggend maak ek my kas se deur oop om ’n warm trui uit te haal. Dis vriesend koud buite. Ek hoor die wind. Sy koue asem waai tot binne-in my hart. Ek is deesdae vatbaar vir enige iets wat my negatief kan laat voel. Ek is kwesbaar soos ’n kind. Ek wil nie so wees nie, maar dis buite my beheer. Ek moet, soos alle mense, hard werk om vrolik te voel. Dit het alles te doen met die toestand van die wêreld. Die bakleiery in Amerika. Die lockdown. Die virus wat alles belemmer en ’n tekort aan geld vir miljoene mense, myself ingesluit.

Ek was altyd ’n wintermens. Het gehou van hoe ek in die winter kan aantrek met leerbaadjies en mooi serpe en kaggelvure, maar ek het oor die laaste paar jaar verander in ’n somermens. Ek hou deesdae van sonskyn en swem saam met die kinders.

Soos ek my kas se deur oopmaak, sien ek – vir die eerste keer in ’n lang tyd – weer die 1 sent-muntstuk wat ek met Prestik teen die muur vasgeplak het. Ek het dié spesifieke 1 sent daar geplak, sodat dit nie kan wegraak nie en om my te herinner aan ’n spesifieke dag in my lewe in 1999.

Ná 4 jaar op Tukkies, aan die begin van 1999, het ek saam met drie ander vriende Londen toe gegaan op ’n twee jaar working holiday visa. Ek het ’n HOD ook gehad, dus was my planne om daar skool te hou. Daardie jare was die wêreld nog nie so georganiseer deur die internet nie en ons moes sonder Google oor die weg kom. Ons het gehoor dat baie Suid-Afrikaners werk as onderwysers en in Londen kan jy in ’n japtrap ’n pos kry. Dit was seker die waarheid, behalwe dat my “spes.”-vakke Afrikaans en Duits was. Afrikaans is nie so in aanvraag in Londen nie en Duits is wel ’n foreign language, maar daar was minder poste vir dié vakke as vir ander, meer essensiële vakke.

Nietemin arriveer ons in Londen. My eerste keer oorsee. Begin Februarie. Nog bruin gebrand van die somertye in Suid-Afrika, land ons in ’n pikdonker, yskoue Londen. Ek het presies £150 gehad om te oorleef – daarna moes ek ’n beloofde werk hê. Soos dit vir ons geklink het, is dit maklik om ’n werk te kry, veral vir Suid-Afrikaners. Jy stap enige plek in en hulle stel jou aan. Toe nie. Ons moes registreer by agentskappe. Daarna polisieverklarings uit Suid-Afrika kry om te verseker jy het nie ’n kriminele rekord nie. Ek moes ’n verklaring by my professore kry om te bevestig dat ek mag skoolhou. Dis ’n nagmerrie.

Aangesien ek in 1999 nog nie eens ’n selfoon besit het nie, was kommunikasie ’n ander ball game gewees. Ek moes my professore van tiekiebokse bel met ’n £5-foonkaart en hulle vra om iets te faks na ’n off-licence-kafee van ’n Pakistani. Om ’n polisieverklaring te kon kry, was iets wat net my ma kon reël, want ek kom van ’n plattelandse dorpie, Parys, waar almal my geken het.

So het die dae verbygegaan sonder dat ek kon werk of geld verdien. Ek het net brood gekoop, aan elke pond van die £150 pond vasgeklou. Toe my dokumente uiteindelik van Suid-Afrika af gefaks is, het die skole gesluit vir ’n twee weke-vakansietjie. Ek was geskroef. Ek het een dag besluit om te gaan sing. By Leicester Square se roltrappe het ek ’n hoed neergesit en FAK-liedjies uit my hart uit gebulder. Ek dink die verbygangers kon my pyn voel, want ek het £25 verdien in minder as 20 minute voordat die sekuriteit my kom vra het om die perseel te verlaat.

Ek het in ’n huis gewoon saam met klomp ander Suid-Afrikaners wat ook onderwysers was. Later daardie maand het die skoolkwartaal weer begin. Elke oggend lui die foon en almal is gereed om na verskeie plekke te reis om supply teachers vir die dag of week of kwartaal te wees. Almal het elke dag gewerk, presies soos hulle beloof het, maar vir ’n Duitse onnie was die werk skaarser. Ek was radeloos. Bang. Bekommerd. Koud. Kwesbaar. Al die emosies wat ek vandag tydens die lockdown en Covid-19 ook ervaar.

Waarnatoe nou?

Hoe kan mens Londen geniet as jy nie geld verdien nie? Binnekort moes ek my studielening ook begin afbetaal. Ek het maar moeilik aan die slaap geraak elke nag.

Daardie Sondag het die hele huis se inwoners na die Suid-Afrikaanse kerk gegaan, wat destyds in King’s Cross was. Ek het saamgegaan. Het darem ’n weekly travelcard gehad. Ek onthou ons het by King’s Cross se stasie afgeklim. Ek het die ander Suid-Afrikaners gevolg, hulle het presies geweet waar die kerk was. Soos ons uit die stasie se hekke na buite beweeg het, sien ek ’n McDonalds op die oorkantste hoek. Ek sou wat wou gee om daar in te stap en vir my ’n burger te bestel, groot en sappig, maar op daardie oomblik het ek nie die geld daarvoor gehad nie. Ek moes aan elke pennie vasklou vir die dag van môre. Oral in Londen lê daar altyd pennies rond. Ek het van dag een af dit ’n gewoonte gemaak om die pennies op te tel. Vir my was dit ’n teken van geluk.

Soos ons oor die pad stap, sien ek ’n pennie. Ek tel dit op, sit dit in my denim se sak en wonder by myself hoeveel pennies ek sal moet optel om ’n McDonalds burger te kan koop. Ek volg die ander Suid-Afrikaners soos hulle stap in die rigting van die kerk. Die area is nie lekker nie. Oral is hawelose mense, prostitute en dwelmhandelaars. My mond hang oop, want ek (plattelandse kind) en Afrikaanse student van Pretoria het nog nooit so iets gesien nie. Ek kyk na die hawelose mense wat vra vir spare change en dink… ek het nog minder geld as hulle op hierdie oomblik.

’n Entjie voor die kerk deel iemand silwer, miniatuurklein-boekies uit. Ek vat alles wat gratis is en druk die boekie in my baadjie se sak. By die kerk aangekom kan ek nie glo daar is so baie ander Afrikaanssprekende mense nie. Selfs ’n “band”, ’n Afrikaanse dominee… net soos in Suid-Afrika! Ek loop mense raak wat ook by Tukkies studeer het. Dit voel of die hele Pretoria in Londen is. Elke keer as iemand nie kyk nie, vat ek nog ’n gratis toebroodjie of ’n koekie. Dis so lekker om nie vir iets hoef te betaal nie.

Later sit ons gereed in die kerk. Ons sing liedjies. Ek voel in my sak en haal die silwer boekie uit. Dis ’n Bybeltjie. Gaats, dink ek. Ek maak dit oop en lees. Dis Engels, maar ek lees in Afrikaans. “…Kyk na die mossie, as God vir so ’n klein diertjie sal sorg, hoeveel te meer vir jou…”

Ek maak die boekie toe en dink by myself: dis nou so van toepassing op my lewe. Ek moet dit glo. Ek sing verder, maar soos ek sing bid ek… Ek bid… Here, ek voel in hierdie stadium minder werd as ’n mossie, maar asseblief… help my met ’n werk, ek kan nie langer so aangaan nie, ek gaan op die straat beland of ek moet terugvlieg Suid-Afrika toe waar my ma vir my kan sorg.”

Ek sing verder.

Dit was absoluut fantasties daardie aand by die kerk. Die samesyn was ongelooflik. Almal voel weer positief, want Londen het maar sy uitdagings en meeste jong Suid-Afrikaners ken nie van sukkel nie.

Maandagoggend is almal vroeg op en gereed vir die agente om te bel. Kort-kort lui die foon. Al die onderwysers word benodig, behalwe ek, die Duitse en Afrikaanse onnie.

Later is almal weg. Die deurmekaar huis is stil. Dis net ek. Ek maak ’n koppie tee. Wonder of dit sal help as ek begin huil. My ouers dink dit gaan fantasties in Londen. As mens met hulle praat oor die foon op ’n Sondag, gaan dit altyd goed.

Ek het die ketel hoor kook, toe lui die foon. Net ek is daar om te antwoord.

“Hallo”, sê ek.

Aan die ander kant praat ’n Engelsman met ’n Australiese aksent. Sy woorde en sy stem kan ek tot vandag toe nog hoor.

“I’m phoning to find out if the German teacher is still available.”

“Yes!!” antwoord ek. “He is.”

Ek sit die telefoon stadig neer en gil sonder skaamte. Dis ’n onderhoud vir ’n Duitse onderwyser.

Ek borsel my tande, gryp my travel-kaart en my tube map en my London A-Z en ek hardloop na die Underground-stasie toe.

’n Uur later stap ek by ’n skool in. Ek ontmoet die Foreign Language-hoof. Dis ’n vrou. Dankie tog.

Sy gesels ’n ruk met my. Wys my die klas en dan sê sy, ”Ok, you’ve got the job, you remind me of a singer I like.”

“May I know who that singer is?” vra ek, terwyl ek my opgewondenheid nie kan wegsteek nie.

“Jason Donovan,” sê die vrou. Wie dit ook al is, dink ek.

Later daardie dag verlaat ek die skool. Ek klim terug op die trein. Ek het ’n werk! Ek wil celebrate. Ek wil iemand vir ’n bier ontmoet êrens, maar niemand is beskikbaar nie. Ek bel elke keer van ’n tiekieboks af, later het ek geen krediet meer oor op my £5-telefoonkaart nie. Ek loop deur Oxford Street. Ek is ’n ander mens. Ek is gered, maar ek dink nie vir een oomblik weer aan my gebed die vorige aand in die kerk nie. Ek vergeet van die mossie. Ek sien net groot geld!

Ek travel terug huis toe. By Holborn-stasie klim mens altyd uit die Central Line-trein en stap slegs 15 tree vorentoe en klim dan op ’n District-Line trein tot by die stasie waar ons gewoon het. Dis al ’n ritueel. Klim uit. Stap vorentoe. Die ander trein se deure gaan oop. Die mense klim uit. Jy klim in. Dis al.

Daardie dag stop die trein. Ek sukkel om uit te klim, want die mense bondel voor my. Die ander trein het reeds gestop, maar ek sukkel nog om uit die eerste trein te klim. Ek hardloop na die ander trein, maar daar is baie mense. Die District-Line se deure maak reg voor my toe soos in ’n fliek. Ek wil gil. Die volgende trein is oor 7 minute. Ek wag nou maar. Niks kan eintlik my goeie gees breek nie.

Sewe minute later stop die volgende trein. Almal klim uit. Ek klim in. Daar is geen sitplek nie. Dis oorvol. Ek staan maar teen ’n paal en kyk na die ander passasiers. Soos die trein wegtrek, sien ek aan die anderkant ’n pennie lê.

Ek dink by myself, sal ek dit gaan optel of nie? Dis baie moeite. Ek moet verby die staande passasiers skuur en dan moet ek buk. En dit vir ’n pennie. Ek los dit eers, maar dit pla my, want ek doen dit vir geluk.

Later besluit ek om wel die moeite te doen en verby die mense te skuur om die pennie op te tel.

“Excuse me…. Excuse me…” sukkel ek verby die bondelende mense wat almal swart klere aanhet.

Ek buk om die blink pennie op te tel. Ek sit dit in my handpalm en beweeg terug na ’n paal waarteen ek kan staan. Ek glimlag vir die ander passasiers, maar niemand steur hulle aan my nie. Dis ’n ander wêreld. Ek maak my hand stadig oop en kyk na die pennie. Die pennie lyk anders.

Ek besef net daar, tussen al die vreemde mense op ’n trein in Londen, ver weg van Suid-Afrika – ver weg van die Vrystaatse dorpie waar ek grootgeword het, ver weg van alles wat bekend is – dis nie ’n pennie nie, dis ’n 1 sent-stuk. ’n Suid-Afrikaanse 1 sent. Ek bring dit nader aan my oë toe om mooi te kyk… dan sien ek die twee mossies. Dit sit daar uitgegrafeer op die muntstuk. Ek voel so naby aan daardie muntstuk. Ons is albei Suid-Afrikaans. Skielik dink ek aan die klein silwer boekie van die vorige aand.

Die 1 sent-stuk want Jak steeds na al die jare by hom hou. (Foto: Verskaf.)

Ek voel dit steeds in my baadjie se sak. Ek onthou my gebed. Daar in die vreemde besef ek dat ek my wel en weë kan vertrou in die hande van my God. Die God wat ek al van kleins af aanbid en in glo. As ek nie die eerste trein gemis het nie, sou ek en hierdie twee mossies mekaar nooit gesien het nie. En hier staan ek. Alleen. Jonk. Pennieloos, maar met ’n 1 sent in my hand. Met nuwe geloof in dit waarin ek glo.

Van daardie dag af was ek nooit alleen in Londen nie. Ek het selfs Europa deurkruis. Alleen, maar nooit alleen nie.

Dis nou 21 jaar later, dink ek vanoggend toe ek dieselfde 1 sent-muntstuk binne in my kas vasgeplak sien met Prestik – die winter is in my hart en die toekoms is nogal duister.

Ek kyk na die 1 sent… Dis al vir 21 jaar ’n monument in my lewe. ’n Herinnering. Hoekom sal ek nou skielik twyfel in God se beloftes?

Komaan! Moeilike tye bou karakter. Dit maak stories om te vertel. Uit stories kan die wêreld leer.

Alles verander nou teen ’n spoed. Die lewe. Die land. Maar God bly dieselfde. En juis in hierdie tyd wat ek op my mees kwesbaarste is, is die beste tyd om weer God se stem te hoor. Dalk ook in die asem van die koue winterwind.

So, ek het my 1 sent-muntstuk skoongevee en teruggeplak. Ek sal nie vergeet nie!

Iemand het eendag vir my ’n sakkie vol 1 sente geskenk. Ek dink dis dalk tyd om dit uit te deel. Laat weet my as jy dalk ’n sent nodig het, dalk kan ek dit by jou uitkry, deur die pos of so…

Maar vir nou… Ek dink dis tyd vir ’n koppie tee!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Baie dankie vir hierdie wonderlike getuienis. Dit gee n mens hoop in hierdie onseker tyd. God is vandag en more dieselfde God. Hy sorg en voorsien in hierdie tyd vir Sy kinders. Dankie Jak dat jy dit gedeel het.

Heinrich

Dankie Jak, lekker gelees en sommer warm gevoel!

Elize

Jak dankie dat jy hierdie met ons gedeel het. Ek het nou eendag vir my kleindogter ook ‘n 1 sent stukkie gewys en haar vertel van die gedeelte in die bybel. Sy was verwonderd en wil gereeld ouma se een sent met die mossies sien en net bietjie vashou. Jak dit is hoekom jy ‘n sukses van jou lewe gemaak het want jou vertroue was volkome op God gerig. Dit is my gebed vir my land en my mense ook – moet julle vertroue in God nooit laat taan nie en soos die engelsman sê “the best is yet to… Lees meer »

summie

Dankie Jak, ek het dit nou baie geniet. Het self vir ‘n jaar in London gebly en gewerk in my jong dae, en sien die prentjie voor my soos jy vertel. Wat ‘n wonderlike getuienis daarby !

AmY

Wat ‘n wonderlike ervaring wat jy gehad het.
Dankie dat jy dit met ons gedeel het. xxx