Nog ʼn internasionale veertjie in Pretty Yende se hoed

Pretty Yende. (Foto: Gregor Hohenberg via Twitter)

Kort nadat die Suid-Afrikaanse operasangeres Pretty Yende by koning Charles III se kroningseremonie in Westminster-abdy opgetree het, skitter sy wéér internasionaal.

“Ek is verheug om as verteenwoordiger vir kuns en gesondheid by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) op te tree. Ek hoop om ʼn grondslag te help vestig wat navorsing oor die bydrae van kuns sal aanhou stimuleer. Kuns is immers ʼn fundamentele bestanddeel in die bevordering van ons fisiese, geestelike en sosiale welstand,” sê Yende.

Sy voeg by dat die magdom moontlikhede om noodsaaklike werk in haar geboorteland Suid-Afrika, en in die res van die wêreld te doen, opwindend is. “Dit bied die geleentheid om saam aan ʼn beter, gesonder toekoms te help bou.”

Yende is onlangs, saam met die Amerikaanse sopraan Renée Fleming, as ʼn ambassadeur vir die WGO aangewys. Dié aankondiging is by die 76ste Wêreldgesondheidsvergadering gemaak, waartydens die WGO se 75ste bestaansjaar ook herdenk is.

Yende voer gehore wêreldwyd mee met haar kragtige stem en vertonings. Die invloed wat haar musiek op mense het, is veral iets waaraan die WGO hom verbind.

“Yende se passie om die helende aspekte van musiek met mense te deel en haar toewyding aan sosiale sake strook onomwonde met die WGO se agenda vir kuns en gesondheid,” sê Christopher Bailey, hoof van kuns en gesondheid by die WGO.

Yende en Fleming is gekies op grond van hulle artistieke prestasies en die kreatiewe wyse waarop hulle hulle vir beter gesondheidsuitkomste beywer.

“Albei kunstenaars se ongeëwenaarde talent, toewyding aan die kunste en toewyding om gesondheid en welstand te bevorder, maak hulle ideale ambassadeurs vir hierdie belangrike saak.

“Hulle betrokkenheid by die WGO sal individue, gemeenskappe en beleidmakers aanmoedig om die transformerende krag van die kunste te erken en in te span in die strewe na beter gesondheid vir almal,” sê dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO.

Volgens die organisasie benadruk Yende en Fleming se aanstelling die verband tussen kuns en gesondheid. “Betrokkenheid by kreatiewe aktiwiteite, soos musiek, kuns en dans, het ʼn positiewe uitwerking op fisiese, geestelike gesondheid, sosiale welstand en algehele lewensgehalte.”

Deur hulle rolle as ambassadeurs sal Yende en Fleming dus die integrasie van kunste in gesondheidsorgstelsels bevorder, voorspraak maak vir toegang tot kreatiewe kunsterapie, en die belangrikheid van artistieke uitdrukking in die verbetering van gesondheidsuitkomste wêreldwyd verdedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sandra ·

Welgedaan, sy het ‘n pragtige stem en gebruik dit ook suksesvol. Dit is ‘n plesier om na haar sang te luister.

Alida ·

Sy is ‘n operasangeres, tans waarskynlik SA se bekendste en suksesvolste internasionale operasangeres. Gaan luister gerus op YouTube na haar, sy het ‘n wonderlike stem.

piet ·

Onbekend maak onbemind. Die wereld is groter as die klein Afrikaanse volkie. Sprei jou vlerke, daar kan dalk net ‘n hele nuwe wereld vir jou oopgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.