Nog ’n skat vind ’n tuiste by Voortrekkermonument

Lizette Jansen (links), die bestuurder van die Erfenisstigting, gesels met Anel du Preez voor die Laaswa. By hulle staan die riempiestoel en wa wat in die Groot Trek gebruik is. (Foto verskaf)

ʼn Oorspronklike riempiestoel van die Laas-familie, wat in die Groot Trek gebruik is, is Donderdag aan die Voortrekkermonument oorhandig vir bewaring.

Dié erfenisskat sal nou sy regmatige plek langs die Laaswa in die Senotaafsaal inneem. Die Laaswa is een van die min oorblywende ossewaens wat die Groot Trek oorleef het en ook by Bloedrivier gestaan het.

Helena Elizabeth Laas, of Anel du Preez soos die meeste mense haar ken, het die riempiestoel aan die monument geskenk. Boonop het die skenking op Erfenisskattedag plaasgevind wat wêreldwyd gevier word om mense aan te moedig om meer van hul unieke erfenis te leer, monumente te bewaar, en geld vir ikoniese landmerke en monumente in te samel.

“Daar is skatte in ons huise waarvan ons nie weet nie. Ons moet weer begin om familiestories oor te vertel,” sê Anel.

Ná haar pa, Dirk Cornelis Laas, se afsterwe in 1994 het Anel se ma na ʼn kleiner plek getrek en haar kinders het ʼn klomp ou meubels en familieskatte geërf. Dit is eers toe Anel van die Laaswa op Maroela Media gelees het, dat sy die waarde van die items in haar huis besef het.

Petra Luus, Lizette Jansen en Anel du Preez voor die Laaswa in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal. (Foto verskaf)

Anel het Geloftedag op 16 Desember by die Voortrekkermonument bygewoon en dit is hier waar sy daadwerklik besef het haar kinders “weet nie werklik wie ons is nie”.

“Ek het besef ek moet iets doen dat my kinders weet wie die Laase is, en dat hulle ʼn bydrae gelewer het. In ons huis is die motto om altyd ʼn bydrae te maak. My kinders moet weet wie hulle is en trots wees daarop.”

Gehard Pretorius, kommunikasiehoof van die Voortrekkermonument, sê dat ʼn skat soos die van Anel en haar familie, ʼn mens op ʼn ontdekkingsreis na identiteit stuur.

“As ʼn mens op ʼn skattejag na jou herkoms gaan, dan ontdek ʼn mens jou identiteit. Hierdie identiteit word weer deur ʼn mens se kultuur gevorm. Anel het vandag nie net ʼn besondere skat aan die monument toevertrou nie, maar ook aan haar kinders gegee: die skat om te weet wie hulle is en waar hulle vandaan kom,” sê Gerhard.

Die Voortrekkermonument is tans die bewaarplek van vele erfenisskatte wat uit die Groot Trek dateer. Behalwe die Laaswa, is daar ook die tafel waarop Piet Retief en Dingaan die traktaat geteken het, saam met Retief se waterbottel en gebedeboekie, die broek wat Sarel Cilliers aangehad het tydens die Slag van Vegkop, ʼn baba se kappie van Bloukrans, en natuurlik kanon Grietjie wat by Bloedrivier was. Al die items kan besigtig word tydens ʼn besoek aan die Voortrekkermonument.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kaplyn ·

Ons moet trots wees op ons erfenis en dit vir die nageslag bewaar. Die heiden wat oor ons regeer gaan alles vernietig as hulle ‘n halwe kans kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.