Noordwes-toppresteerders kry hupstoot met skootrekenaars

Benedict Modise, direkteur van transformasie by NWK, spreek verlede jaar se toppresterende matrikulante in die Ditsobotla sub-distrik toe.

Top-matrikulante het rede om trots te wees op hulle prestasies ná verlede jaar se ontwrigtende grendeltyd. Jy moet van ʼn besondere stoffasie wees as jy in die jaar van 2020, tussen aanlyn onderrig en klasdraf, steeds ʼn toppresteerder is.

Boonop het verlede jaar se matrieks teen alle verwagtinge besonders goed presteer.

Hulle het uitdagings soos ʼn gebrek aan data en tegnologie te bowe gekom om hulle matriekeindeksamen te kon aflê.

Twintig matrikulante van die 20 toppresterende skole in die Ditsobotla-subdistrik in Noordwes wat Lichtenburg en Coligny insluit, sal darem nou toekomstige aanlyn onderrig kan omarm met splinternuwe skootrekenaars. NWK het dié rekenaars, toegerus met die nuutste sagteware, ter waarde van R245 557,20 op Donderdag, 11 Maart 2021 aan hulle oorhandig tydens ʼn erkenningsgeleentheid by Hoërskool Lichtenburg se Leon Bantjies-saal.

Dit is aangebied in samewerking met die provinsiale departement van onderwys, Samuel Nkone (voormalige areabestuurder van die Ditsobotla-subdistrik van Noordwes se departement van onderwys), Afrisam en Lichtenburg Kantoormeubels & Skryfbehoeftes.

Benedict Modise, direkteur van transformasie by NWK, het leerlinge gelukgewens met hulle akademiese prestasies ondanks moeilike omstandighede. “Soos Aristotle gesê het: ‘die wortels van onderrig is bitter, maar die vrugte is soet’.”

Hy het hulle alle sterkte met hulle tersiêre onderrig toegewens en hulle gevra om NWK as toekomstige werkgewer te oorweeg. “Daar is baie geleenthede in ons maatskappy. Kom gesels met ons, sodat ons hierdie vennootskap tot ʼn volgende vlak kan neem. Moet nooit ophou droom nie. Dit gaan nie maklik wees nie, maar uitdagings is daar om benut te word.”

NWK het in 2013/2014 vir die eerste keer skootrekenaars aan toppresterende matrieks uitgedeel. Sedertdien het 145 van hulle al skootrekenaars ter waarde van R1,3 miljoen ontvang.

Monique Rousseau, topleerling van Hoërskool Lichtenburg, begin hierdie jaar aktuariële wetenskap by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. “Dit is baie opwindend om ʼn skootrekenaar te kry. Dit is beslis ʼn bonus met dié dat alles nou aanlyn is.”

Die top presterende matrikulante van 2020 van 20 skole in die Ditsobotla-subdistrik, is voor v.l.n.r. Mmampe Angelina Mahlane van Hoërskool Coligny, Joel Ntsebeng Ikaneng van Gaborone Secondary School, Oumatjie Skele (ma van Lindiwe Queen Skele van Bodibe Secondary School), Robinah Bunjira (ma van Courteney Rudairo Bunjira van Lichtenburg English Secondary School), Benedict Modise (direkteur van transformasie by NWK), Monique Rousseau van Hoërskool Lichtenburg, Phillip Kubu (pa van Amogelang Kubu van Tswelelopele High School, Lonny Obakeng (ma van Radebe Obakeng van Gaetsho High School), Matsidiso Thukjwe (ma van Thatho Tumelo Thukgwe van FM Ramaboa High School) en Sharon Homane van More High School. Agter v.l.n.r. is Johan Bezuidenhout (groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK), Hendirco Goosen van CVO Skool Lichtenburg, Tshegofatso Mothofo van Baitshoki Secondary School, Kamogelo Prince Lekabe van Kopanelo Combined School, Thato Tumelo Thukgwe van FM Ramaboa High School, Retiisitswe Tlotlo Sikoe van Bethel High School, Thato Matuane van Regolotswe High School, Bontle Molefe van AG Malebe Secondary School, Kgalalelo Ngcongolo van JM Lekgetha Commercial High School, Maserame Pauline Direko van Bophirima High School, Tsholofelo Esther Kuane van Kgoke Lesabe Secondary School, Tumisang Vincent Jacobs van Tau Rapualana High School, Rakgodi John Rampyapedi van Reboneilwe Secondary School en Samuel Nkone (voormalige areabestuurder van die Ditsobotla-subdistrik van Noordwes se departement van onderwys en sportontwikkeling).

Mmampe Angelina Mahlane, topleerling van Hoërskool Coligny, het gesê dat ʼn skootrekenaar handig te pas sal kom om take en navorsing te doen. Sy pak ʼn graad in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria aan.

Kamogelo Prince Lekabe van Kopanelo Secondary School naby Mahikeng, het ook sy dank teenoor NWK betuig vir ʼn nuwe skootrekenaar. “My selfoon het onlangs gebreek, so dit is ʼn welkome geskenk. Nou kan ek navorsing doen vir my graad in onderwys by die Noordwes-Universiteit se Mahikengkampus.”

Modise het afgesluit deur te sê dat dit ʼn riem onder die hart is om te weet dat van hierdie toppresteerders boonop die produk is van die Ikataleng-projek. Dit is ʼn opvoedkundige inisiatief wat deur die Noordwes-Universiteit aangebied word en gr.10- tot gr. 12-leerlinge bykomende hulp in vakke soos wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ekonomie en Engels bied. NWK borg hierdie projek sedert 2011.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.