Nuwe wind in onderwysers se seile, danksy gratis Wolkskool

Danksy die Solidariteit Beweging se krisisfonds is Wolkskool sedert die inperking gratis aan alle leerders en personeel beskikbaar. (Foto: Verskaf.)

Vir juffrou Elna Vorster van Worcester en haar gr. 7’s het die fisieke inperking nuwe deure oopgemaak – virtuele deure wat sy nooit kon droom sy op so ʼn gevorderde stadium van haar loopbaan en lewe sou ontsluit nie.

Vorster se aftrede is om die draai, maar skoolhou is nog vir haar ʼn passie. Sy het juis in Februarie vanjaar opleiding wat Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) in die Kaap aangebied het, bygewoon om op hoogte van onderwysdinge te bly. Daar het sy met die Wolkskool kennis gemaak, die virtuele onderwysplatform wat haar onderwysmetode vanjaar handomkeer sou verander.

Die inperking het skole en onderwysers geforseer om buite die boks te dink oor hoe leerders leer en hoe kennis aan hulle oorgedra moet word. Vorster vertel dat die pandemie haar siening oor onderrig baie verander het.

“Ek het lankal die behoefte gehad om meer tegnologie, waarvoor die kinders lief is, in die klaskamer in te bring. Ek was egter taamlik tegnologies gestremd, so dit was ʼn uitdaging! Maar nou sal ek beslis nie net na die ou manier terugkeer nie, ek wil die nuwe vaardighede behou en verbeter.”

Sy vertel dat sy eintlik ʼn bietjie harder moes werk die afgelope paar maande as gewoonlik, om die nuwe werkswyse baas te raak. Maar nou het sy weer behoorlike wind in haar seile.

“Ek gebruik Wolkskool om deeglik vir wiskunde, natuurwetenskappe en EBW [ekonomiese en bestuurswetenskappe] voor te berei. Dan kommunikeer ek deeglik met die kinders watter video’s hulle moet kyk en op watter bladsy van die handboek hulle wat moet doen. Die kinders kyk dan Wolkskool se video’s en doen die handboeke se oefeninge. Dis vir my ongelooflik hoe gou hulle aan daardie patroon gewoond geraak het. ”

Hoe meer sy met Wolkskool te doen gekry het, hoe meer opgewonde het sy geraak, omdat die inhoud so eenvoudig en sistematies aangebied is. “Dit maak die werk regtig lekker en gee boonop goeie voorbeelde daarby. As die kinders na hierdie video’s kyk, is dit so goed ek gee vir hulle klas.”

Sy glo Wolkskool het aan die leerders die geleentheid gegee om self in beheer te wees, self verantwoordelik te raak en hulself te organiseer. Teen die tyd wat die skole heropen het, was almal in so ʼn lekker roetine dat party van die kinders glad nie wou terug gaan nie.

“Met Wolkskool se lesse was dit nie vir hulle nodig om soggens vroeg op te staan vir skool nie, hulle kon sommer in hul pajamas bly en koffie drink by die huis terwyl hulle die skoolwerk baasraak. Daardie deel was vir hulle lekker,” glimlag Vorster.

Danksy die Solidariteit Beweging se krisisfonds is Wolkskool sedert die inperking gratis aan alle leerders en personeel beskikbaar.

  • As jy ook ʼn hoopdraer wil wees, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun by Helpendehand.co.za of by www.krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Baie goeie nuus Solidariteit. Ons help graag. Lesufi het al ‘n ruk gelede sy onsteltenis bekend gemaak en gekla oor ‘sekere kinders’ so bevoorreg is. Hy sal seker binnekort daarop aandring dat wolkskool dadelik gestaak word.

Wilhelm ·

My kinders gebruik wolkskool, en ek kan getuig dat die inhoud van baie hoë gehalte is. Baie dankie aan Solidariteit. In my opinie is dit die toekoms van onderwys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.