Oggendtee saam met hekelgemeenskap word plek van hoop

Marlene Jordaan en Elza-Marié van Lille. (Foto verskaf)

Gereelde ondersoeke is die eerste stap in die stryd teen borskanker.

Dít was die boodskap aan 76 vroue wat Saterdag die Crochet for Cancer-groep se Cuppa vir Hoop-tee ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) bygewoon het.

Onder die vroue by die geleentheid was daar 14 kankeroorwinnaars en talle vroue wat vriende en familie het wat met kanker gekonfronteer is.

Elza-Marié van Lille, ʼn borskankeroorwinnaar, en Marlene Jordaan, is al sedert 2017 deel van Crochet for Cancer en volgens die twee vroue is dit juis hierdie hekel-gemeenskap wat saamstaan en vriende saam na geldinsamelingsgeleenthede vir kanker nooi.

“Die swierige geleentheid, wat by die Maison de Leo in Rietondale, Pretoria, aangebied is, het gewys hoe ʼn gemeenskap wat saamwerk, kan help om bewusmaking oor kanker te skep.

“Op dié wyse het ons ook weer daarin geslaag om met die oggend ʼn aansienlike bedrag in te samel wat aan die plaaslike Kansa-kantoor in Pretoria geskenk kan word,” het Marlene gesê.

Gesels ʼn mens met Marlene, wie die kankerpad saam met haar man stap, besef jy ʼn oggendtee soos dié is iets wat bo-en-behalwe die alledaagse roetine gereël word. Elke projek van Crochet for Cancer word met soveel deernis, liefde en presiesheid aangepak. Sy verwys beskeie na haarself en Van Lille as “twee vrywilligers wat probeer”.

(Foto verskaf)

Marlene is ook aangewys as een van die “Global Heroes of Hope – Caregiver”. Dit is ʼn internasionale toekenning wat deur die “Relay for Life” toegeken word aan mense wat ʼn verskil maak. Daar is nege deelnemende lande en 2022 was sy een van agt uit Suid-Afrika. “Ek hou daarvan om mense te dien, om om te gee vir ander en die lewe veral vir kankerpasiënte ʼn bietjie makliker en geriefliker te maak.”

Die tee is ook ingespan om hoop vir die stryd teen kanker te skep. By die tee het Cherika Steyn, nog ʼn borskankeroorwinnaar, haar getuienis gedeel. Tydens haar roerende getuienis is elke vrou herinner dat hulle almal wel ʼn verskil kan maak.

“As ons saamstaan is ons sterk in hierdie stryd teen kanker,” het Marlene afgesluit.

  • Besoek Kansa se webwerf vir meer inligting om by die organisasie betrokke te raak. As jy wil kom saam hekel, of net wil ondersteun, besoek gerus Crochet for Cancer se Facebookblad, stuur vir Marlene Jordaan ʼn e-pos of bel haar by 082 462 0831.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.