‘Ons bou’ aan ’n blinker toekoms by Laerskool Wierdapark

(Foto verskaf)

Laerskool Wierdapark, ook bekend as die Groen Kampioen, in Centurion vier vanjaar hulle 45ste bestaansjaar met merkwaardige prestasies.

Dié laerskool het oor die afgelope twee jaar bewys dat geen aspek van hulle aanslag tot onderrig in vandag se klimaat oudmodies is nie – wanneer die lewe jou ʼn pandemie gee, maak hierdie laerskool ʼn plan! Waar die res van die wêreld dalk stil gaan staan het, het Laerskool Wierdapark die bul by die horings gepak en innoverend te werk gegaan om, binne die regulasies en wetgewing, steeds bobaasresultate te verkry en hom op alle terreine te onderskei.

Met hoë akademiese standaarde as prioriteit, is Laerskool Wierdapark een van die voorlopers. Toe daar moes lock down het Laerskool Wierdapark van dié geleentheid gebruik gemaak om te crunch down. Hulle leerders het bo die nasionale gemiddeld presteer tydens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum se gestandaardiseerde eksamen in Desember 2021. Gehalte-onderrig kraai koning, daarom word daar op kleiner klasse gefokus. Buiten onderwysers van die beste gehalte, beskik die laerskool ook oor 34 voltydse onderwysstudente wat die personeel en leerders op verskeie terreine bystaan – voor, tydens en na skool.

(Foto verskaf)

Laerskool Wierdapark maak ook gebruik van ʼn paar unieke lokale en sentrums, onder andere twee rekenaarsentrums waar kodering en rekenaarvaardigheid vir leerders van gr. 1 tot 7 aangebied word. Die skool spog ook met ʼn ten volle toegeruste menslikebewegingskundelokaal, ʼn pragtige skaaklokaal en ʼn mediasentrum waar Wieries woel.

Die Groen Kampioen se leuse, “Ons bou”, is gegrond op die ontwikkeling van elke kind se volle menswees, dus bied die skool ʼn reeks ondersteuningsdienste op dié terrein, onder andere ʼn voltydse berader en terapeute wat in verskeie dissiplines spesialiseer.

Wieries weet hoe om te woeker! Buiten plaaslike ligas en kompetisies, neem die skool deel aan die gesogte sport-en-kultuurreeks vir laerskole, die AfriForum Super 12, waarby 24 van die beste laerskole in Gauteng en ander omliggende provinsies inskakel. In dié reeks word daar deur die jaar in 14 aktiwiteite meegeding. Tot op datum is vier aktiwiteite reeds afgehandel en Laerskool Wierdapark maak geskiedenis deur in al vier met die louere weg te stap. Vir die derde agtereenvolgende jaar het hulle die redenaarskompetisie gewen, was hul die algehele wenners van die skaak en het ook die A-Afdeling se netbal- en rugbykragmeting kaf gedraf. Verdere Super12-aktiwiteite sluit onder andere in: tennis, koor, krieket, hokkie, gholf, Bybelvasvra, algemene kennis, landloop en atletiek. Die deelname aan hierdie reeks, en vele ander geleenthede, dui op die diversiteit en gebalanseerde benadering van Laerskool Wierdapark. Deelname en prestasie is by Laerskool Wierdapark ewe belangrik en elke Wierie word die geleentheid gegun om aan enige aktiwiteit deel te neem en te floreer.

(Foto verskaf)

Laerskool Wierdapark se verskeidenheid uitskieter-geleenthede stop egter nie daar nie. Buiten bogenoemde aktiwiteite, kan leerders op die sportveld in mini-netbal, Bulletjierugby, mini-hokkie, mini-krieket, bergfiets, muurbal, stoei en perdry kop en skouers bo die res uitstaan. Aan die kultuur kant kan leerders hul talente laat skitter op gebiede soos graad R-koor (Wierie-Walies), junior koor (Geelbekkies), senior koor (Alawierdas), revue, spreekkoor (junior en senior), kunstefeeste, sangkompetisies, toneel, redenaars en VCSV.

As die sportveld of die verhoog nie jou natuurlike habitat is nie, bied die Groen Kampioen talle ander buitemuurse aktiwiteite aan, byvoorbeeld robotika (junior en senior), wetenskapekspo en wiskundeakademie. Wat nog te praat van verskeie buite-instansies wat naskoolse aktiwiteite op die skoolterrein aanbied juis sodat dit vir die kinders toeganklik is – genoeg om aan enige leerder se belangstellings te voldoen.

By Laerskool Wierdapark word elke personeellid en leerder voorwaar in ag geneem – ʼn leuse wat oorspoel in die omliggende gemeenskap en projekte waarby hulle graag betrokke raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.