Ontmoet die man wat elke oggend in Wellingtonstraat waai

Rayneé saam met Matt Dobson, die bestuurder van die vulstasie waar Rayneé soggens werk. (Foto verskaf)

Om te waai, of nie te waai nie – daarin lê die vraagstuk. Sedert ʼn 38-jarige man van George in die Wes-Kaap besluit het om ure lank vriendelikheid en oggendgroete met sy arms uit te swaai, glo hy dat hy daarmee sy roeping gevind het. En dit is meer as wat baie mense van hul eie lewens kan sê, glo Sarie Marais-Nell.

ʼn Vroegoggendrit deur George se besige hoofstraat lewer ʼn interessante prentjie op van ʼn man wat voor ʼn vulstasie staan en waai – nes daardie vriendelike plastiekpoppe wat ʼn sakeonderneming adverteer. Terwyl plastiekpoppe opblaasgas nodig het en saans weggepak kan word, is George se waaier van vlees en bloed. Hy en sy lewensverhaal kan kwalik saans weggepak word.

Rayneé Meyer se ouers moes hospitaal toe jaag toe hul viermaand-oue baba se long platgeval het. Eers toé hoor hulle verdere skoknuus: hul seuntjie is verstandelik gestremd. “Die dokter het voorspel hy sal beswaarlik sewe jaar oud word,” vertel sy ma, Margaret Meyer.

Rayneé was vyf jaar lank meer dikwels in die hospitaal as tuis, met sy ma getrou naby hom. Soms breiend om die tyd te verwyl, dikwels biddend vir haar sieklike kind. Op ʼn stadium is sy self in die hospitaal opgeneem. “Ek moes aarvoeding kry weens ondervoeding en stres. Eers toe besef ek hoeveel vra hierdie groot taak om Rayneé te versorg.”

Rayneé Meyer is baie lief vir Afrikaanse musiek. Hier is hy by die Kuiertuin op Oudtshoorn, kort voor ‘n konsert saam met Demi Lee Moore. (Foto verskaf)

Getroud met ʼn treindrywer wat moeilike skofte werk, moes Margaret dikwels haar seuns alleen grootmaak.

“Die dokter het verduidelik dis belangrik om nooit vir Rayneé te bederf ten koste van sy ouer broer, Clive nie,” vertel Margaret. “Hy was ʼn tyd lank by ʼn skool vir gestremde kinders op ʼn buurdorp, maar verblyfreëlings by familie het my nie tevrede gestel nie, daarom het ek hom uit die skool gehaal en self grootgemaak.”

Margaret het hom geleer om sy naam en van te skryf en deesdae kan hy boodskappe wat sy vir hom neerskryf, op sy selfoon na-tik.

Kleintyd het Rayneé graag sy tyd verwyl deur in Wellingtonstraat in George – ʼn besige straat na-aan hul huis – te staan en waai. Hy was dolgelukkig as mense toet en terug waai.

Intussen het sy ouer broer hom alles oor enjins geleer. Rayneé het 11 jaar lank by Clive se werkswinkel enjins uitmekaar gehaal en ander handige take verrig.

“Eendag besluit Rayneé hy is nou klaar met die werkswinkel. Toe begin hy weer in Wellingtonstraat waai. Verbygangers was opnuut opgewonde oor hierdie vriendelikheid – en doop hom die Wellington Waver. Toe wys die dorpskoerant George Herald hom in 2015 aan as George se persoonlikheid van die maand!”

Na hierdie toekenning het die eienaar van Courtneystraat se Shell-garage, Martin van Jaarsveld, vir Rayneé kom vra om by die vulstasie te kom waai. Martin moes hard pleit om Rayneé te oortuig. “Dan vertel Martin hoeveel veiliger Rayneé sal wees, dat hulle hom mooi sal versorg, maar Rayneé verseg. Botweg. Baie rigied as hy eers oor ʼn ding besluit het,” vertel Margaret.

Kort daarna vra Rayneé sy ma om vir Martin te bel. “Die Here het vir my gesê ek moet by Shell gaan waai,” was sy besluit.

Rayneé saam met Demi Lee Moore. Die foto is spesiaal vir Maroela Media se lesers geneem. (Foto verskaf)

En sedert 2015 is Rayneé soggens 03:00 reeds aangetrek. Dan is sy ontbyt, wat Margaret die vorige aand reggesit het, reeds geëet en sluit hy self die voordeur toe voor hy vertrek met die taxi wat sy ouers gereël het om hom werk toe te neem.

“Hy het voorheen werk toe gestap, maar een nag het skollies hom oorweldig en besteel, nou betaal ons eerder vir sy vervoer.”

By die werk gekom, stap Rayneé ondersoekend regdeur die perseel. Hy verdryf bosslapers uit die buitetoilet en bel die bestuurder, Matt Dobson, as daar dalk ʼn inbraak of probleme op die perseel is.

“Die petroljoggies het so lief geraak vir Rayneé. Daar is heeltyd grappies en humor; iemand uit die publiek het vir hom ʼn sonbril geskenk. Hy geniet die aandag en verbygangers se reaksies terdeë; dit het sy nuwe roeping geword,” sê Margaret.

En toe breek Covid-19 aan. Vir ʼn persoon wat rigied is in sy denke en lewenstyl, was gesigsmaskers vir Rayneé onaanvaarbaar. “Dan bel sy werk baie oggende en vra: ‘Praat asseblief met hierdie hardekoejawel; hy wil niks van die masker weet nie’,” vertel Margaret. “As ek dan mooipraat, hom vra om die masker op te sit, sê Rayneé nee, dis belangrik dat verbygangers sy smile moet sien!”

Rayneé se pa Deon (ja, nog ʼn Deon Meyer!) knik sy kop bevestigend. “Rayneé kan baie vaste idees hê en vasstaan daarby. Moenie eers praat oor die tye waarop ons huis se geiser moet aan- en afkom nie!”

Margaret en Deon is reeds 42 jaar getroud; ʼn omgee-egpaar wat baie toegewyd eers hul bejaarde moeders versorg het, en nou hul seuns en Clive se kinders liefdevol ondersteun. Rayneé openbaar ook hierdie eienskappe. “Hy kan ook jammer sê as hy dalk kwaai was,” sê Margaret. “Ons aanvaar sy gestremdheid as iets van Bo. Hy leef, ons hét hom hier by ons – hoe kan ons kla?”

Hulle besef hul verantwoordelikheid dat Rayneé selfstandig moet wees voordat hulle dalk wegval; en doen baie moeite vir sy geluk. Hulle vervoer hom gereeld na Afrikaanse musiekkonserte op Oudtshoorn, Hartenbos en selfs Grand West in Kaapstad. Bedaard en kalm wag hulle met hul piekniekkos in die motor tot sy konsert klaar is. “Toe ek laas week vir hom plek bespreek by Kuiertuin in Oudtshoorn, sê die ontvangsdame sy het darem lanklaas vir Rayneé gesien.

“Jarelank sou hy verlof neem tydens die KKNK, dan betaal ons vir sy losies en vervoer, sodat sy Oudtshoorn-neef hom na al die konserte neem wat hy wil bywoon.”

Rayneé werk soggens tot 09:00 by die vulstasie, waarna Matt sorg dat hy veilig tuis afgelaai word. Dan vind hy vrede in sy slaapkamer waar ʼn grootskerm-TV en sy honderde CD’s vir hom wag.

Rayneé woon saam met sy ouers, Margaret en Deon Meyer op George. (Foto verskaf)

“My suster het hom voorheen saamgenooi vir ʼn toer op een van die groot vakansiebote. Hy het die konserte só geniet. Terwyl my sussie gereeld sou verdwaal het, was Rayneé die een wat haar vele kere tussen al die hysbakke reggehelp het.

“Hy is ʼn gelukkige mens. Hy hou van humor, hy geniet sy lewe.”

By Shell South Cape Motors beaam Matt Dobson dit. “Rayneé is lief vir mense en kinders; hy het heeltemal eienaarskap van die perseel aanvaar. Hy arriveer soggens baie vroeër as wat nodig is; hy werk in ons personeel se kleredrag, hy is net soveel ʼn personeellid as enigiemand anders. Ons sien sy betaling as net so ʼn groot bate vir ons maatskappy as enige ander persoon op ons boeke.

“Elke keer as ek sien hoe Rayneé se gesig ophelder wanneer mense toet en waai, weet ek – Martin van Jaarsveld het in 2015 die régte ding gedoen om hom hier aan te stel.”

Wat sê Rayneé self? “Ek voel baie veiliger om by Shell te waai. Ek weet die manne sal vir my sorg as daar dalk moeilikheid kom. Ons het lief geraak vir mekaar, ons sorg vir mekaar.

“Die dokters het gesê ek sal net sewe jaar oud word, maar ek het nie na hulle geluister nie. Ek is nou 38. Daar het al baie slegte goed met my gebeur, maar al wat ek kan sê – daar is ʼn Man wat groter is as ek, wat binne my lewe. ʼn Mens moet net altyd vertrou en glo. Maar dan moet jy nie twyfel nie! ʼn Mens weet nie altyd wát sal gebeur nie, maar daar sál iets goeds met jou gebeur as jy aanhou glo. Onthou, Jesus werk nie op jou manier nie, alles hang van Hom af!

“As ek nie geglo het nie, sou ek nie vandag hier kon sit en met jou gesels nie.”

Rayneé se werk om oggendgroete aan verkeer te waai, het amptelik geraak toe “George Herald” hom in 2015 as die dorp se persoonlikheid van die maand aangewys het. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Rayneé, wat ‘n pragtige mens is jy nie! Vreeslik dankie vir die inspirasie. Jou waaiende arms en glimlag is nou die mooiste prentjie in my geestesoog. Hou aan om mense te laat glimlag. Waardeer jou ouers en broer en almal wat so omgee vir jou. Kosbare, goeie mense. Soveel liefde sal die wêreld net ‘n beter plek maak. Martin van Jaarsveld, jy is ‘n spesiale mens.

Patch ·

Wat ‘n pragtige storie! Rayneé, jou paadjie hemel toe is geplavei met goud. ‘n Glimlag kos niks en kan net die liggie in iemand se donker dag wees. Dankie Maroela Media dat julle hierdie goedvoel storie met ons deel.

Sandra ·

Wat ‘n mooi berig. Raynee jy is waarlik ‘n kind van God. Jou ouers is jou engele wat God gestuur het om jou op die slegte aarde veilig te hou, touwys te maak, en voor te sorg. As ons eendag weer in George is sal ek seker maak ek ry verby om vir jou te waai.

Walda ·

Om vir hom as n werknemer aan te stel wys watter wonderlike mense hier woon. Raynee is beslis n voorbeeld en aanwins vir George.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.